Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Celebs
2019, 2020 deur die oë van bekendes

Van blydskap tot klippe kou, 2019 was beslis ’n jaar om te onthou. En almal het drome vir 2020.

Makazole Mapimpi druk ’n drie vir die Bokke in die eindstryd teen Engeland in vanjaar se Wêreldbekereindstryd. Foto: Getty Images

Suid-Afrika se driedrukkoning, die Springbokvleuel Makazole Mapimpi, sê 2019 was vir hom ’n leerskool wat hom toegelaat het om nie net in sy loopbaan te groei nie, maar ook in sy professionele lewe.

“Die jaar het baie geleenthede ingehou waaruit ek baie geleer het. As nuweling in die Bok-span kon ek baie by die manne leer wat lankal was waar ek vanjaar was.

“Die grootste oorwinning vir my van 2019 was hoe gelukkig en trots ons die land en sy mense gemaak het,” sê hy met verwysing na sy span se verowering van die Rugbywêreldbeker in Japan.

In 2020 wil hy elke dag hard werk en voluit leef.

Schalk Bezuidenhout en sy verloofde, Mica McKechnie, hou nou vakansie in Europa. Hier is hulle in Genève, Switserland. Hy sê hy werk so hard en soveel hy kan deur die jaar sodat hy oor die feestyd kan rus en lekker vakansie hou.Foto: Verskaf

Die komediant Schalk Bezuidenhout sê 2019 was vir hom ’n “verruklike en geseënde” jaar. Hy het ’n verloofring aan sy meisie, Mica McKechnie, se vinger gesteek, en sowel sy Engelse as Afrikaanse vertonings was uiters suksesvol. Hy kon ook saam met ander name in die bedryf aan verskeie projekte werk.

In 2020 gaan hy, net soos in 2019, elke dag soveel moontlik probeer werk. Hy streef na meer vertonings in 2020.

“Ek is veral opgewonde oor ’n splinternuwe vertoning wat ek op die planke gaan bring: ‘Schalk sing sleg’. Ek gaan sing en die mense gaan, wel . . . lag.

“Vir 2020 wil ek graag mense met ’n graad-11-Schalk se kennis laat. Dit is die volgende woorde: Kyk, dink en druk ’n drie.”

Hy sê hy het nog nooit juis Nuwejaarsvoornemens vir homself gestel nie, maar hy dink 2020 gaan anders wees. In 2020 wil ek baie graag ’n derde taal leer. Ek het nog nie heeltemal besluit of ek een van Suid-Afrika se 11 amptelike tale wil leer nie (ek oorweeg Xhosa) of miskien ’n internasionale een (miskien Duits),” sê hy.

Adam Tas (links agter) en Steve Hofmeyr (regs van hom) met die produksiespan tydens die verfilming van die nuwe realiteitsreeks “Byt en Buskruit”. Die program kan op Suid-Afrika se eerste stromingswebwerf, Dappermedia, gevolg word. Foto: Verskaf

Die man met die rasperstem, Adam Tas, sê hoewel 2019 vir hom ’n dol jaar was, was dit tog opwindend.

“Ek was besig met die opname van ’n unieke buitelugprogram, ‘Byt en Buskruit’, wat net op Suid-Afrika se eerste stromingskanaal, Dappermedia, beskikbaar sal wees.” Tussen visvang- en jagtogte deur wat met dié program gepaard gaan, het hy 104 konserte aangebied.

“2020 hou dieselfde avonture in: opnames van ‘Byt en Buskruit’ en konserte. Ek wil dit ook ’n reuse-jaar vir ons wildboerdery, Rooibokkraal, op die Botswana-grens maak. Ons het lekker reën gehad en ek kan sommer sien dat 2020 ’n goeie jaar gaan wees.”

Lisa van Rooyen, oftewel Lisa met die Rooi Hare soos haar aanhangers haar ken, stel ’n heildronk in op 2019 en mense se drome vir 2020. Sy het vanjaar naam gemaak met haar video’s waarin sy kommentaar lewer op TV-programme soos die Afrikaanse werklikheidsreeks “Boer soek ’n Vrou”. Foto: Verskaf

Lisa van Rooyen, beter bekend as Lisa met die Rooi Hare, het in 2019 haar stempel afgedruk met haar skreeusnaakse meningsvideo’s oor gewilde televisiereekse wat op die Suid-Afrikaanse kassie verskyn het. Dit is veral haar video’s oor die werklikheidsreeks op kykNET, “Boer soek ’n vrou”, wat aandag trek.

Van Rooyen, ’n tweedejaar-student in musiekbedryfstudies aan die Campus of Performing Arts (COPA), sê om oornag ’n Youtube-sensasie te word was die laaste ding wat sy in 2019 verwag het.

Hoewel sy nog onseker is oor wat 2020 vir haar gaan inhou, sal sy graag haar eie program wil aanbied en haar studie voltooi. “Ek en my pa hoop ook dat Toyota in 2020 uiteindelik vir my ’n bakkie sal borg,” voeg sy skertsend by.

Pieter-Dirk Uys Foto: Stefan Hurter

“Nuwejaarsvoorneme? Ek het nooit tyd om sulke dinge uit te dink nie, want voordat ek my kan kry, is dit al Paasnaweek!” meen die bekende satirikus Pieter-Dirk Uys.

“Ek leen maar liewers woorde van wysheid van ander. In Evita Bezuidenhout se woorde: ‘Los die 365 dae in die jaar en fokus net op vandag en môre’.

“Oscar Wilde het ook gesê, ‘goeie voornemens is maar net die tjeks wat jy trek uit ’n rekening wat nie bestaan nie’.”

En die nuwe jaar vir Suid-Afrika? Soos tannie Evita in haar Nuwejaarsboodskap sê: “Sommige sê dié was die ergste van jare. Ander twiet dit sal nie beter gaan nie. Ek glo net: Dit mag nie erger word nie. As die mense leiding neem, sal die regering volg. Dus - volg sonder die gille!”

mnr suid-afrika, heinrich gabler
Heinrich Gabler

“Ek hou baie daarvan om vir myself doelwitte te stel,” sê Heinrich Gabler, huidige Mnr. Suid-Afrika. “Ek het baie spesifieke doelwitte (kort en lang termyn) en ek probeer my bes om daarby te hou. My doelwitte is realisties, so ek bereik dit gewoonlik.”

Sy hooffokus vir 2020 is sy nuwe organisasie, UpcycleSA. “My doel is om dit baie te laat groei in die nuwe jaar. Dan is daar ook iets baie spesiaal wat ek vir 2020 aanpak wat koffie en twee voormalige Mnr. SA’s behels.”

Wat dink hy hou die nuwe jaar vir Suid-Afrika in? “Nog ’n goeie jaar vir die Springbokke,” sê hy en lag. “Ek glo ook ons gaan bou aan samesyn en ons reënboognasie versterk!”

Irene-Louise van Wyk
Irene-Louise van Wyk

Die sangeres Irene-Louise van Wyk, nou die ma van ’n vier maande oue dogtertjie, sê een van haar voornemens is om van die babavetjies ontslae te raak deur ’n nuwe dieet te volg.

“Ek gaan Keto se pille en shakes drink en meer gesond probeer leef. Ek wil graag in die spieël kyk en nie myself haat nie.”

Van Wyk sê een van haar doelwitte is ook om genoeg tyd saam met haar gesin deur te bring, veral omdat ’n besige jaar vir haar voorlê.

Sy beplan om in Februarie ’n nuwe enkelsnit met die naam “Ek voel soos ooe!” bekend te stel, asook ’n nuwe volle album êrens deur die jaar.

 

Meer oor:  Nuwejaarsvoornemens  |  2020
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.