Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Celebs
Prins Andrew 'kan nie onthou' of hy seksslaaf ontmoet het

’n Klaaglike mislukking, geen berou nie en tekenend van sy meerderwaardige houding.

Dít is enkele van die kommentare nadat koningin Elizabeth se naasoudste seun, prins Andrew, Saterdagaand vir die eerste keer homself probeer verweer het teen aantygings dat hy ’n vriend van die miljoenêr en pedofiel Jeffrey Epstein was.

Die BBC-joernalis Emily Maitlis het taai vrae in die onderhoud van 55 minute gevra. Die prins het telkens “nee”, “ek het nie geweet nie” of “ek kan nie onthou nie” geantwoord.

Die BBC het ses maande onderhandel voordat prins Andrew tot die onderhoud ingestem het. Die joernalis Emily Maitlis het die onderhoud met die prins in die Buckingham-paleis gevoer. Foto: BBC

Andrew se vriendskap met Epstein gooi lank reeds ’n skadu nie net oor Andrew nie, maar ook die hele koningshuis. Sy besluit om wel die onderhoud te doen, ondanks raadgewers se vermanings, het tot die bedanking van een sy raadgewers, Jason Stein, gelei, berig Sky News. Stein het hom in September by Andrew se span aangesluit maar ná net twee weke bedank.

Epstein het hom in Augustus vanjaar in sy tronksel gehang. Hy was verhoorafwagtend op klagte van sekshandel.

Op Virginia Roberts, wat na haarself as een van Epstein se seksslawe verwys, se aanspraak dat sy drie keer op Epstein se aandrang met Andrew seks gehad het, was Andrew se antwoord “ek kan glad nie onthou dat ek ooit hierdie dame ontmoet het nie”.

Virginia Roberts met ’n foto van haar toe sy 16 jaar oud was. Sy sê sy was 16 toe Jeffrey Epstein begin het om haar seksueel te misbruik.
Die Sunday Express se voorblad Sondag.
Die Britse Sunday Times se voorblad Sondag.

As alibi vir een van die dae waarna Roberts verwys, sê Andrew hy was by sy kinders. Maitlis vra dan hoe hy die dag so spesifiek kan onthou, waarop die prins antwoord hy het sy dogter Beatrice die middag na ’n pizza-eetplek in Woking geneem vir ’n partytjie. “Om na ’n Pizza Express in Woking te gaan is ’n ongewone ding vir my om te doen, ’n baie ongewone ding vir my om te doen. Ek was nog nooit . . . Ek was nog net ’n paar keer in Woking en ek kan dit vreemd genoeg duidelik onthou.”

Volgens Andrew het hy deur ’n gemeenskaplike vriendin, Ghislaine Maxwell, vriende met Epstein geword. Ook nie goeie vriende nie, maar iemand wat hy hoogstens drie, vier keer per jaar gesien het.

Op Maitlis se vraag hoekom die prins dan in 2010 (nadat Epstein tronkstraf uitgedien het weens seksuele misdrywe) na New York gereis het om Epstein in persoon te verwittig dat hulle weens sy veroordeling nie meer saam gesien kan word nie, borduur Andrew voort op wat ’n eerbare mens hy (Andrew) is en dat hy nie telefonies vir Epstein wou sê hul vriendskap is iets van die verlede nie.

Maitlis gee nie bes nie en vra hoekom Andrew in die huis van ’n veroordeelde seksmisdadiger tuisgegaan het. “Dit was ’n gerieflike plek om tuis te gaan,” antwoord Andrew en sê hy kan nou met die voordeel van nabetragting sien dit was die verkeerde besluit.

Sweterige lyf

Op Roberts se aanklag dat Andrew gesweet het toe hulle in ’n nagklub gedans het en sy daarna moes gaan bad, het die prins gesê hy sweet nie, weens ’n mediese toestand wat hy in die Falkland-oorlog opgedoen het.

Oor die foto van hom en Roberts in Maxwell se woning in Londen, sê Andrew dit is beslis ’n foto van hom, maar hy kan nie onthou dat dit geneem is nie omdat hy nooit op die boonste verdieping van Maxwell se huis was nie.

Roberts, wat nou getroud is en in Australië woon, het gesê sy sal eers ná konsultasie met haar regspan op die onderhoud reageer.

Kommentators soos Dickie Arbiter, voorheen ’n perssekretaris vir koningin Elizabeth, het na die onderhoud as ’n “vragmotorongeluk” eerder as ’n “motorongeluk” verwys.






Meer oor:  Prins Andrew  |  Jeffrey Epstein  |  Onderhoud  |  Vriendskap  |  Pedofiel  |  Negatiewe Houding
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.