Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Celebs
Andrew 'wag op dagvaarding' van VSA oor Epstein

Prins Andrew, naasoudste seun van koningin Elizabeth, berei hom voor om amptelik deel te neem aan die Amerikaanse ondersoek na die veroordeelde pedofiel Jeffrey Epstein.

’n Dagvaarding om die prins te dwing om ’n eedsverklaring oor sy vriendskap met Epstein af te lê, word deur Buckingham-paleis afgewag, berig The Telegraph.

Twee prokureurs, Gloria Allred en Lisa Bloom, wat van die slagoffers verteenwoordig wat glo seksueel deur Epstein misbruik is, het Donderdag daarop aangedring dat Andrew ’n eedsverklaring moet aflê om die Amerikaanse ondersoekers te help om Epstein se medepligtiges aan te kla.

Prins Andrew verlaat Donderdagoggend sy huis, Royal Lodge, in Windsor. Dit is die eerste foto wat van hom geneem is ná Woensdagaan se verklaring. Foto: AP

Epstein, ’n miljoenêr met wie Andrew sedert 1999 vriende was, het homself in Augustus vanjaar in sy tronksel opgehang. Hy was verhoorafwagtend op seksverwante aanklagte.

Die koninklike kaartehuis het as’t ware die afgelope Saterdag om Andrew begin intuimel toe hy in ’n 55 minuut lange TV-onderhoud op die BBC sy vriendskap met Epstein probeer verduidelik het.

Andrew se poging om sy vriendskap met Epstein te verdedig en sy reaksie op die bewerings dat hy (Andrew) drie keer seks gehad het met ’n minderjarige tiener, is deur kommentators oor die koningshuis as ’n klaaglike mislukking bestempel.

Andrew was egter só selfversekerd oor die welslae van die onderhoud dat hy selfs Dinsdag terug agter sy lessenaar in sy kantoor in Buckingham-paleis was.

Borge van inisiatiewe soos Andrew se Pitch@Palace-veldtog – wat entrepreneurs en sakelui met diep sakke bymekaar bring – het begin om hul borgskappe te onttrek, en liefdadigheidsorganisasie van wie die prins die beskermheer is, het hul twyfel in hom begin uitspreek.

Koningin Elizabeth het ná gesprekke met prins Charles, die eerste aanspraakmaker op die troon, Andrew Woensdag na Buckingham-paleis ontbied. Hoewel sy as ma waarskynlik simpatie met haar naasoudste en volgens gerugte ook haar gunstelingseun sou hê, moet sy as monarg optree om die toekoms van die Britse koningshuis te beskerm.

Andrew is die geleentheid gebied om self ’n verklaring te skryf wat laat Woensdagaand uitgereik is.

Prins Andrew se aankondiging om vir ’n wyle sy koninklike pligte te laat vaar, was Donderdag voorbladnuus in die Britse media. Foto: AP

Hierin het Andrew gesê weens die Epstein-skandaal laat vaar hy tot tyd en wyl sy openbare pligte as koninklike. Hy het ook sy berou oor sy vriendskap met Epstein uitgespreek en sy simpatie met dié se slagoffers betuig.

Alle senior koninklikes is verteenwoordigers van die koningin, en met Epstein wat soos ’n muishond ’n slegte reuk nalaat, is Andrew geen ander keuse gebied nie.

Dit is onbekend wie Andrew se rol as beskermheer van meer as 200 liefdadigheidsorganisasies sal oorneem.

Andrew is ook sy koninklike toelaag van £249 000 per jaar kwyt, hoewel hy steeds ’n toelaag – die bedrag is nog onbekend – van die koningin self sal ontvang.

Hoewel die prins nie meer as ’n verteenwoordiger van sy 93-jarige ma sal kan optree nie, sal hy steeds familiegeleenthede in die paleis en Kersfees op Sandringham mag bywoon. - Bykomende bronne: The Guardian, The Telegraph, Daily Mail, The Sun en ITV. 

Meer oor:  Prins Andrew  |  Jeffrey Epstein  |  Wêreld  |  Ondersoek  |  Dagvaarding
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.