Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Celebs
Annelisa Weiland: Tyd vir ‘kuier en sports’ op 70
Annelisa Weiland Foto: 7de Laan

“Die grootste verrassing van my 70ste verjaardag is dat daar nie vandag beurtkrag gaan wees nie,” sê die aktrise Annelisa Weiland op haar verjaardag Vrydag.

Sy en ’n paar vriende vier Vrydagaand dié mylpaal.

“Ja, ongelukkig . . . 70 is nou hier. Ek dink ’n mens kan voel dat jy ouer is, maar dit gebeur nie oornag nie. In my gees is ek nog 69. Een dag vloei maar in die ander in.”

Annelisa Weiland in Life Begins at Forty.

Sy sien uit na die partytjie.

’n Vriendin van meer as 60 jaar is spesiaal hier uit Switserland en “my boetie kom ook uit die Kaap. Dit gaan heerlik wees. My liefste pêlle is almal om my, en my familie.”

Weiland vertrek ook Sondag saam met ’n paar vriendinne na Nature’s Valley in die Wes-Kaap.

“Ons gaan net lekker kuier en hopelik bietjie sports maak.”

Weiland vertolk sedert die begin van die sepie 7de Laan se uitsending op SABC 2 in 2000 die rol van Hilda de Kock (later van Zyl).

Hilda het bekend geword om haar serpies wat sy dra en die ongewone disse wat sy voorberei. Sy is ook die spinnekopvroutjie en “kierietjies” genoem deur Matrone (vertolk deur Annelize van der Ryst, met wie sy in die werklike lewe goed bevriend is).

In 2017 het Hilda se voorkoms – haarstyl en kleredrag – verander.

“Ek is so geseënd om ’n rol in ’n sepie te kan hê. Dit bied standvastigheid en dan is dit lekker om so af en toe ander werk ook te doen.”

Sy was onlangs onder meer te sien in die rolprent Susters, die kortfliek Uitstappie en op die verhoog in die toneelstuk Ma teenoor Franci Swanepoel.

Voor 7de Laan was sy onder meer in reekse soos Sterretjie, Torings en Glaskasteel. Op die verhoog het sy onder meer met die ontslape dramaturg Reza de Wet gewerk.

Van der Ryst, saam met wie Weiland in die rolprent Skelms verskyn het, het op Vrydag op Facebook haar vriendin gelukgewens.

Sy het onder meer geskryf: “Ons kom ’n lang pad saam in TV-, rolprent- en teaterwerk. Dis nog steeds lekker om saam met Annelisa te werk, na al die jare. Mense glo ons nie as ons sê ons sit nie vas in die werklike lewe soos Hilda en Matrone nie. Die ou girls het lankal vrede gemaak vir dié wat nie weet nie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.