Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Celebs
Bekendes gryp die nuwe jaar aan

Helen Zille gaan nie ’n nuwe party stig nie. Jack Parow vier sy tiende jaar sedert die “Cooler as ekke”-treffer opslae gemaak het. Sulette Damons, die Proteas se hokkiekaptein, gaan haar hokkiestok vir bordkryt inruil. Emo Adams reik ná tien jaar ’n nuwe album uit.

Bekendes kyk terug na die ou jaar en sê wat hul planne vir 2019 is.

Helen Zille, uittredende Wes-Kaapse premier.Foto: Malherbe Nienaber

Helen Zille

Die uittredende Wes-Kaapse premier gaan “beslis nie” ’n nuwe party in 2019 stig nie, dit sal “absoluut lawwigheid” wees. Sy sal ’n DA-lid bly.

Zille som 2018 as “uitdagend” op, maar sê egter meer het in 2017 verkeerd geloop.

“Ek vat elke jaar soos dit kom, ek neem elke jaar se uitdagings en pak hulle. Ek het uithouvermoë.”

Sy sien uit na die week ná die verkiesing wanneer sy met die “volgende fase” van haar lewe sal begin. Daar is baie om uit te kies, maar sy hoop om steeds in die politiek te wees – “dis my hele lewe, ek hou daarvan”.

Die sangeres Amor Vittone.Foto: Verskaf

Amor Vittone

Die sangeres wil in 2019 vrede hê en haar godgegewe doel uitleef. Sy sê sy het in 2018 meestal op “harde klippe geloop”.

Sy wil daar wees vir haar kinders, Kylie (12) en Jordan (14), en sien hoe hul gesiggies “blom”.

“Die beste ding wat jy kan doen as ma is om gesond en gelukkig te wees. As jy nie is nie, dan is jou kinders nie – hulle voed van jou energie af.”

Sy wil sing en die droom uitleef wat die Here vir haar gegee het, sê sy.

Haar grootste seëning was om hulle te sien uitblink ondanks die afgelope jaar se gebeure – “2018 was een van hul beste jare wat betref sport en akademie”.

Sy sonder die uitreik van haar album Ek bly net ’n ma ook as ’n hoogtepunt uit.

Emo Adams, sanger en TV-aanbieder.Foto: Argief

Emo Adams

Absoluut awesome. Dit is hoe die sanger en TV-aanbieder sy 40ste lewensjaar, 30ste jaar in die musiekbedryf en tiende jaar saam met sy vrou, Michelle Gildenhuys, beskryf.

Een van sy hoogtepunte was die vieringskonsert vir sy jare in die bedryf wat in die GrandWest-casino in Kaapstad gehou is. Die terugvoer daarop is steeds vir hom oorweldigend.

Aanstaande jaar hou vir hom groot dinge in, waarvan hy nog nie alles kan bekend maak nie.

“Daar is so baie dinge. Ek weet nie waar om te begin of op te hou nie.”

Dit sluit in die uitreik van ’n nuwe album ná tien jaar. Sy talentsoekprogram, Maak my famous, word op KykNET uitgesaai, waarna hy ook vir ’n maand saam met die wenner sal toer, en ’n Australiese toer wag ook.

Adams sê sy talentsoekprogram het as ’n klein inisiatief begin en “nou is dit ’n droom wat ek kan bewaarheid”.

Leah, sangeres en Boer Soek ’n Vrou-aanbieder.Foto: Willem Botha, WiB Creations

Leah

“2018 was omtrent ’n wipplankjaar, met baie hoogtepunte, maar ook ’n hele paar uitdagings vir my,” sê die sangeres en Boer soek ’n vrou-aanbieder.

Sy pak 2019 met “ ’n hart vol lewenslesse” aan. Dit wat in 2018 haar as mens en kunstenaar wys gemaak het.

“Ek moes ’n paar tawwe loopbaankeuses maak, maar alles het uiteindelik goed uitgewerk soos die Here dit beplan het!”

Om Boer soek ’n vrou aan te bied en haar November-vakansie in Parys, Frankryk, saam met manlief Hennie van Niekerk, staan uit as 2018-hoogtepunte.

Sy is opgewonde om in 2019 aan ’n nuwe album te begin werk, veral omdat sy self meer gaan skryf.

Sulette Damons, die Proteas se hokkiekaptein. Foto: Jaco Marais

Sulette Damons

Die Proteas se hokkiekaptein sê sy begin aanstaande jaar ’n nuwe hoofstuk. Sy verhuis ná 12 jaar in Potchefstroom na Bloemfontein om grondslagonderwys by die St. Michael-meisieskool te gee.

Sy en Marchall Kotzee het in Oktober verloof geraak.

“Ek dink ek gaan ’n besige 2019 hê, daarom het ek besluit om ’n breek van die hokkie te neem.”

Sy sê sy het dié besluit vanjaar ná die Wêreldbekertoernooi in Londen geneem. Dit was moontlik Damons se laaste internasionale toernooi.

“Afhangend van hoe my persoonlike lewe en my nuwe loopbaan verloop, gaan ek nog hopelik provinsiale en klubhokkie speel.”

Jack Parow (Zander Tyler), kletsrymer.Foto: Argief

Jack Parow (Zander Tyler)

Vir die kletsrymer was 2018 ’n lekker jaar van musiek maak, homself druk, “fun goed doen” en lesse.

Parow is opgewonde oor 2019, sy tiende jaar sedert die “Cooler as ekke”-treffer, waarvoor hy bekendheid verwerf het.

Hy hou elke tweede jaar sy musiekfees, ParowFest, in Utrecht, Nederland. Dit lê in 2019 vir hom voor.

Hy sal dié fees aanstaande jaar ook in Suid-Afrika hou, ter viering van die tien jaar, sê hy.

“Lekker nuwe musiek” is in die vooruitsig, waaronder ’n kort album.

Parow wens almal ’n laat geseënde Kersfees en ’n “bef*kte” nuwe jaar toe.

Meer oor:  Leah  |  Helen Zille  |  Amor Vittone  |  Jack Parow  |  Nuwejaar  |  Celebs  |  2019  |  Nuwejaarsvoornemens
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.