
Bob Dylan
Die kamerdeur van die Amerikaanse sanger Bob Dylan in die Chelsea-hotel in New York is vir $100 000 (sowat R1,2 miljoen) opgeveil.
Dit is een van 50 deure wat verkoop is van kamers in dié hotel waar bekende sterre oor die jare heen tuisgegaan het.
Die kamerdeure van ander bekende sangers soos Janis Joplin, Leonard Cohen en Joni Mitchell het $85 000 (sowat R1 miljoen) behaal.
Jim Georgiou, ’n vorige huurder, het die deure wat weggegooi sou word, bekom nadat opknappingswerk aan die hotel in 2011 begin het.
Die hotel is in die laat 1880’s gebou en het ’n langtermynblyplek vir sangers, skrywers en boheemse mense geword.

Andy Warhol
Jack Kerouac het sy boek On the Road geskryf toe hyin die 1950’s hier tuisgegaan het. Die deur van sy kamer is vir $30 000 (sowat R361 000) opgeveil.
Skrywers soos Mark Twain en Tom Wolfe het hier gebly, en die wetenskapsfiksieskrywer Arthur C. Clarke het die draaiboek van die bekende rolprent 2001: A Space Odyssey hier geskryf.
Die hotel was ook in 1978 deel van ’n groot skandaal toe Sid Vicious van die Britse punkgroep die Sex Pistols aangekla is van die moord op sy meisie, Nancy Spungen. Sy is met steekwonde in die kamer waar hulle gebly het, aangetref.
Vicious is dood aan ’n oordosis heroïne voordat die hofsaak kon begin.
Nog ’n deur wat onder die hamer gekom het, is dié van die aktrise Edie Sedgwick waar die kunstenaar Andy Warhol Chelsea Girls verfilm het. Die deur is vir $52 500 (sowat R633 000) verkoop.

Janis Joplin
Jimi Hendrix, Madonna, Isabella Rossellini en Shirley Clarke se kamerdeure is elk vir $13 000 (sowat R156 000) verkoop.
Die hotel is in 2016 aan ’n groep beleggers verkoop.