Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Celebs
Bekendes se kreatiwiteit nié ingeperk

Suid-Afrikaners hou hulle met allerlei dinge besig gedurende die staat van inperking – van sop kook en aanlyn gedigte voorlees tot binnenshuise oefenprogramme.

Netwerk24 het met ’n paar bekendes gepraat om te hoor wat hulle doen gedurende die 21 dae lange inperking, wat Donderdag om middernag begin het.

Schalk Bezuidenhout nooi almal saam op sy “kwarantyn-wyn-trein”. Foto: Instagram

Die komediant Schalk Bezuidenhout laat sy aanhangers soggens lag as hy hulle op sosiale media met ’n video groet.

Hy nooi ook almal uit om saam met hom op sy “kwarantyn-wyn-trein” te klim, waar jy die lewe kan vier, in jou eie huis.

Kyk Schalk se video hier.

Jaco Jacobs en sy vrou, Elize, en twee dogters, Mia en Emma, hou hulself doenig met boek lees, oefening en bordspeletjies.

Die kinderboekskrywer Jaco Jacobs sê hy en sy familie is veilig in Bloemfontein.

“Tussen inkleur, gedigte skryf, oefen in ons selfgemaakte tuis-gimnasium en bordspeletjies speel, voel dit omtrent soos ’n gewone skoolvakansie.”

Jacobs, wat ’n drawwer is, sê dit is net ’n bietjie moeilik om nie te gaan draf nie.

“Ek was nog nooit so bly dat my vrou jare gelede die trapmeule gekoop het nie. Ons kan dit nou vir die eerste keer gebruik.”

Toe Jacobs en sy dogters vir oulaas voordat die inperking in werking getree het in die buurt gaan stap het, het hulle voor elke huis waar hulle weet kinders woon, boeke neergesit vir die kleingoed om te lees.

Dana Snyman en sy hondekinders in hul huis op Jacobsbaai. Foto: Dana Snyman

Die bekroonde skrywer Dana Snyman reis deur die binnekamer van sy huis op Jacobsbaai waar hy saam met sy drie honde agter slot en grendel is.

“Ek reis altyd daar buite rond, dalk moet ek ’n slag binne rondreis.”

Snyman sê die kusdorpie waar hy bly se inwoners het heeltemal gek geraak.

“Hulle neem nou skoon foto’s sodra jy daaraan dink om jou neus by die deur uit te steek.  Nou gaan ek maar net moet glimlag vir die foto as ek ná donker uitglip om met my honde te gaan stap,” skerts hy.

 “Ek weet nie of ek sterk kan staan teen die kinders, wat al Woensdag wou gaan stap, se smekende oë nie.” 

Ivan Zimmerman gaan die 21 dae gebruik om ou vaardighede te verskerp en nuwes aan te leer.

Die akteur Ivan Zimmerman gaan elke dag doelgerig aanpak, ondanks die inperking.

 “Ek is besig om aan ’n paar ou liedjies te skaaf, onvoltooide werk klaar te maak en leer selfs om te verf,” sê Zimmerman, ’n man van vele talente.

Leandie du Randt en een van haar “To Be Gift Boxes” wat haar gaan besig hou.

 Leandie du Randt sê vir ’n vryskutwerker en entrepreneur is dit nie so vreemd om van die huis af te werk nie.

 “Elke dag is business as usual,” sê die aktrise wie se aanlyn ondernemings steeds gedurende die inperking oop is vir bestellings.

 ’n Lekker boek in die hand en ’n lang borrelbad met ’n glasie wyn is ook aan die orde van die dag tydens dié tyd.

 “Ek gaan dit net baie mis om te kuier, maar ek en my vriende gaan maar die House Party-app gebruik om saam ’n glasie te klink.”

 Suid-Afrikaanse kunstenaars het tydens die inperking met interessante maniere vorendag gekom om steeds te kan optree. 

’n Skermgreep van Gérard Rudolf waar hy op die Facebookgroep “21 FOR 21” ’n gedig voorlees. Foto: Skermgreep/Facebook

Die akteur Gérard Rudolf 'n groep op Facebook geskep, “21 FOR 21”, waar lede gedigte met mekaar kan deel. Hy lees ook daagliks vir die lede ’n gedig voor.

 Baie maak gebruik van aanlyn platforms om virtuele vertonings te hou, sommige kunstenaars verniet en ander teen ’n tarief.

 Suid-Afrikaners mag dalk alleen in hul huise, ver van almal af wees, maar ons het lanklaas so na aan mekaar geleef.

Meer oor:  Leandie Du Randt  |  Schalk Bezuidenhout  |  Inperking  |  Covid  |  Bekendes  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.