Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Celebs
Beleërde Andrew bly liewer tuis saam met Philip

Prins Andrew het hom Woensdag baie skaars gehou toe hy nie saam met sy familie van Sandringhamhuis na die kerkie digby dié ou herehuis gestap het nie.

Hoewel koningin Elizabeth nie die seksskandaal waarby Andrew betrokke is op die naam genoem het nie, het sy in haar Kerstoespraak gesê die afgelope jaar as “stamperig” beskryf.

Andrew se vriendskap met die veroordeelde seksoortreder Jeffrey Epstein het hom duur te staan gekom. Andrew se katastrofiese TV-onderhoud waarin hy sy vriendskap met Epstein probeer regverdig het, het hom uiteindelik sy openbare rol as koninklike gekos.

Prins Andrew is Woensdag gesien toe hy die vroegoggend-Kersdiens bygewoon het. Hier stap hy saam met sy ouer broer, prins Charles, na die St. Maria Magdalena-kerkie. Foto: AP

Andrew is Woensdag afgeneem toe hy saam met ander lede van die familie die vroegoggend-kerkdiens in die St. Maria Magdalena-kerkie bygewoon het. Dié diens was om negeuur. Met die elfuur-diens was Andrew nêrens te sien nie.

Volgens berigte in die Britse media het Andrew self besluit om die hoofdiens mis te loop en eerder by die huis te bly saam met sy pa, prins Philip. Buckinghampaleis wou nie op dié berigte kommentaar lewer nie.

Die 98-jarige Philip is Dinsdag uit die koning Edward VII-hospitaal in Londen ontslaan waar hy vier nagte oorgebly het. Hy is verlede Vrydag daar opgeneem vir ’n “reeds bestaande” toestand, het die paleis die dag van sy opname in ’n verklaring gesê.

Die koningin het albei dienste bygewoon. Camilla, hertogin van Cornwall en prins Charles se vrou, het per motor saam met die koningin by die hoofdiens opgedaag.

Koningin Elizabeth het haar tradisionele Kerstoespraak uit die groen kamer in Windsorkasteel gelewer. Net haar direkte opvolgingslyn is in die foto’s op haar studeerkamertafel uitgebeeld. ’n Foto van haar pa, koning George VI, prins Philip, prins Charles en sy vrou, Camilla, en prins William en sy gesin, was op die tafel. Foto: Reuters

Die koningin het in haar tradisionele Kerstoespraak wat Woensdagmiddag in Brittanje uitgesaai is, die belangrikheid van versoening beklemtoon vir die koninklike familie én vir Brittanje wat vanjaar met groot verdeeldheid oor Brexit geworstel het.

“Die pad is nie altyd eweredig nie, en kon vanjaar met tye stamperig gevoel het, maar klein treë kan die wêreld se verskil maak,” het die koningin in haar toespraak, wat vroeër in Windsorkasteel opgeneem is, gesê.

Benewens Andrew se vervlegtheid in die Epstein-skandaal het Philip vroeër vanjaar ’n polisiewaarskuwing gekry nadat hy in ’n motorongeluk betrokke was, en het haar kleinseuns prins William en Harry ook stry gekry.

Andrew ontken ’n vrou se bewerings dat hy met haar seks gehad het toe sy sewentien was en as ’n sogenaamde “seksslaaf” aan Epstein se vriende – onder andere Andrew – uitgeleen is.

Epstein, wat daarop tereggestaan het dat hy met minderjarige meisies handel gedryf het, het in Augustus vanjaar selfmoord gepleeg.

Prins William en prins George ontmoet van die mense wat saamgedrom het by die kerkie. Dit was die eerste keer wat George op ’n koninklike “walkabout” gegaan het. William was ook ses toe hy vir die eerste keer saam met die koninklike familie kon saamstap kerk toe. Foto: AP

William was saam met sy gesin, Catherine, en oudste twee kinders, prins George en prinses Charlotte, by die diens.

Harry bring die Kersvakansie in Kanada deur saam met sy vrou, Meghan, en hul babaseun, Archie. – Reuters

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.