Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Celebs
Prins Andrew 'moet uit openbare oog; praat met FBI'

Asof die wye veroordeling van prins Andrew se onderhoud Saterdagaand op die BBC-program Newsnight nie genoeg was nie, het nóg ’n bom om die prins se kop gebars.

Die prins word deur ’n rubriekskrywer van die Londense Evening Standard daarvan beskuldig dat hy die rassistiese n-woord gebruik het.

Andrew het Saterdagaand in ’n onderhoud gepraat oor sy vriendskap met die veroordeelde miljoenêr en seksoortreder Jeffrey Epstein. Epstein het homself in Augustus opgehang in sy tronksel waar hy verhoorafwagtend was op aanklagte van onder meer sekshandel.

Kwetsende woord

Evening Standard se eksklusiewe berig Maandag: Andrew midde-in ’n storm oor die gebruik van ’n rassistiese frase.Foto: George Osborne/Twitter

Volgens Rohan Silva, regterhand van die gewese Britse premier David Cameron, het Andrew die n-woord tydens ’n gesprek in 2012 gebruik. Silva het Andrew gevra of die (Britse) departement van handel hul werk beter kan doen. Volgens Silva het Andrew geantwoord: “Wel, indien jy die uitdrukking sal verskoon, dit is soos ’n n*gg*r in ’n hoop hout.” (It’s like a n*gg*r in a woodpile.)

Silva, ’n rubriekskrywer vir die Evening Standard, skryf hoe verstom hy was oor dié kwetsende uitlating en dat hy nou spyt is hy het die prins nie dadelik oor die kwetsende woord aangevat nie.

Buckinghampaleis, reeds op die agtervoet ná die veroordelende kommentaar op die onderhoud wat Saterdagaand wêreldwyd uitgesaai is, het ontken dat die prins ooit die woord gebruik het of sulke taal besig.

Ongewild

Prins Andrew het die oggend ná Jeffrey Epstein homself in ’n tronksel opgehang het, op Sondag 11 Augustus, saam met sy ma, koningin Elizabeth, kerk toe gery. Die foto is wyd gesien as die koningin se voorgesette ondersteuning vir haar seun. Foto: Getty Images

Andrew, een van die ongewildste lede van die koninklike gesin, het Sondag wyslik besluit om eerder na die kapel in Windsorkasteel te stap waar hy en koningin Elizabeth ’n erediens bygewoon het, anders as die Sondag ná Epstein se selfdood toe ’n glimlaggende Andrew, in die motor langs die koningin, kerk toe gery is.

Die poniekoerant The Sun berig Andrew is gehoor waar hy Sondag aan die koningin gesê het dat hy die “regte ding” gedoen het om die onderhoud toe te staan en dat die onderhoud “goed afgeloop” het. Volgens verskeie kommentators het Andrew ook die BBC-span ná die onderhoud op ’n toer van Buckinghampaleis geneem. Hy het ook eers Saterdagaand na die onderhoud gekyk.

Hoewel Andrew se bereidwilligheid om deur die joernalis Emily Maitlis ondervra te word verwelkom is, is daar grootskaalse veroordeling vir Andrew se toondoof verwysings na seks, onvermoë om sy vriendskap met Epstein te betreur en gebrek aan simpatie vir Epstein se slagoffers. Daar is wel Maandag berig Andrew se vriende sê hy is spyt hy het nie sy simpatie teenoor die slagoffers uitgespreek nie.

Polisie moet prins ondervra

Gloria Allred, wat vyf van Jeffrey Epstein se slagoffers verteenwoordig, meen prins Andrew moet homself beskikbaar stel vir ondervraging deur die Amerikaanse federale speurdiens (FBI) en regsdienaars wat steeds, ondanks Epstein se dood, ondersoek instel na sekshandel waarby hy betrokke was. Foto: Getty Images

Twee prokureurs wat van Epstein se slagoffers in Amerika teenwoordig, Lisa Bloom en Gloria Allred, is van mening Andrew het met dié onderhoud die deur oopgemaak vir ondervraging deur die Amerikaanse federale speurdiens (FBI). As lid van die koninklike gesin geniet Andrew nie spesiale immuniteit nie en kan die FBI selfs versoek dat hy na Amerika kom vir ondervraging.

Waar was die koningin?

prins andrew
Die joernalis Emily Maitlis se onderhoud met prins Andrew is Saterdagaand wêreldwyd uitgesaai.

Daar is vrae oor hoe die koningin en paleisamptenare ’n onderhoud van só ’n aard kon goedkeur, hoewel koninklike korrespondente by hul paleisbronne verstaan dat die koningin wel oor die onderhoud ingelig is, maar eers nadat Andrew sy instemming vir die onderhoud gegee het.

Kommer word ook uitgespreek dat Andrew sy raadgewers se versoeke om nie die onderhoud te doen nie - hy is nie vooraf van die vrae in kennis gestel nie - van die hand gewys het.

Die paleis het ook koue water oor berigte gegooi dat Andrew se “voormalige hoof van openbare betrekkinge”, Jason Stein, juis hieroor bedank het deur te sê Stein was nooit in die prins of koninklike huishouding se diens nie. Koninklike korrespondente het ook hul kommer uitgespreek dat die prins se kantoor in die paleis “in ’n silo werk” en die koningin beheer oor Buckinghampaleis verloor het.

Sabbatsverlof

Prins Andrew het op 11 November laas ’n koninklike verpligting uitgevoer. Hy het op Wapenstilstilstanddag ’n kranslegging by Whitehall in Londen saam met prins Willaim en prins Harry behartig. Foto: Getty Images

Oproepe is in die Britse media gedoen dat Andrew sabbatsverlof neem en van die koninklike verhoog af verdwyn. Skuldig of onskuldig, sy bande met Epstein maak dit bykans onmoontlik vir die prins om met sy koninklike pligte voort te gaan. Van Andrew se verpligtinge is reeds voor die Newsnight-onderhoud afgestel, juis weens sy verbintenis met Epstein.

Peter Hunt, oud-koninklike beriggewer vir die BBC, het voorgestel prins Charles, wat tans op ’n besoek aan Nieu-Seeland is en al hoe meer pligte by sy 93-jarige ma oorneem, die moed aan die dag sal lê om Andrew aan te sê om uit die openbare oog te verdwyn op grond van al die twyfelagtige besluite wat Andrew al geneem het.

Annus horribilis

Vir die koningin, wat na 1992 as haar annus horribilis verwys het weens die mislukte én baie openbare verbrokkeling van sowel Andrew as Charles se huwelike, asook die vernietigende brand by Windsorkasteel, sal haar gunsteling-seun se openbare vernedering ook 2019 nie een van haar goeie jare maak nie.

- Aanvullende bronne: The Telegraph, The Sun, Daily Mail, The Guardian, Evening Standard


Virgina Roberts Giuffre met ’n foto van toe sy 16 was. Sy sê sy is op 16-jarige ouderdom seksueel deur Jeffrey Epstein gemolesteer. Foto: Getty Images

Die onderhoud in ’n neutedop:

1. Andrew toon geen berou vir sy vriendskap met Epstein nie, inteendeel, hy beklemtoon hoe hy baatgevind het by die vriendskap as handelsambassadeur vir Brittanje.

2. Andrew simpatiseer nooit met Epstein se slagoffers nie.

3. Andrew ontken hy het by drie geleenthede seks gehad met een van Epstein se slagoffers, Victoria Roberts Giuffre. Giuffre verwys na haarself as een van Epstein se seksslawe.

4. Hoewel hy nie kan onthou hy het Giuffre ontmoet nie, verskaf hy ’n alibi vir een van die datums wat Giuffre sê sy en Andrew saam was. Andrew sê hy het op die betrokke dag sy oudste dogter, prinses Beatrice, na ’n pizzarestaurant in Woking, Londen, geneem vir ’n partytjie en dat hy dié woonbuurt nie as ’n reël besoek het nie.

5. Andrew sinspeel daarop dat ’n foto van hom waar hy met sy hand op Giuffre se middel staan, moontlik gedokter kan wees.


Waar kom die N-uitdrukking vandaan?

Die rassistiese uitdrukking het in die negentiende eeu ontstaan en verwys na iets sleg of iets wat nie reg is nie. Die uitdrukking verwys op neerhalende wys na Negerslawe wat in bondels hout weggekruip het in ’n poging om van slawerny te ontvlug.


Ook Boris sê geen kommentaar ...

Die Britse premier, Boris Johnson, is Maandag twee keer op ’n nuuskonferensie gevra oor Andrew se onderhoud. Hy het beide kere verseg om kommentaar te lewer. Op die vraag wat sy raad aan die koningin sal wees as haar belangrikste raadgewer, het Johnson gesê hy is nie bereid om die koninklike familie te bespreek nie.



MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.