Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Celebs
Boer Damian se Arno word ’n kits-pa
Arno Visagie saam met Alexander in die klere wat die sanger Bouwer Bosch vir hulle present gegee het. Alexander se gesiggie word verbloem omdat sy aanneming nog nie afgehandel is nie.

Die babaseuntjie wat hy nou gaan aanneem, het op die perfekte tyd oor sy pad gekom, sê Arno Visagie (28), een van die mans wat aan die kykNET TV-reeks Boer soek ’n vrou deelgeneem het om boer Damian te leer ken.

Visagie, ’n onderwyser oorspronklik van Laingsburg, se lewe het dramaties verander toe hy sowat drie maande gelede gevra is of hy ’n babaseuntjie in sy pleegsorg wil neem nadat ’n tragedie die baba en sy ma getref het en sy nie langer na hom kon kyk nie.

“Ek wou nog altyd my eie gesin begin en kinders hê, maar ek het eers tyd nodig gehad om te dink toe sy my vra,” sê hy. “My ouers het nog altyd kinders in hul pleegsorg geneem en ek het self ’n jonger boetie en sussie wat in my ouers se sorg is, so die konsep was nog nooit vir my vreemd nie. Ook my ouma-hulle het kinders ingeneem.”

Visagie sê die baba, wat hy Alexander noem, en sy biologiese ma het ná haar versoek vir ’n week by hom en sy gesin op die plaas by Laingsburg kom kuier. Daar het hy en Alexander mekaar beter leer ken en hy het uiteindelik vir ’n nag of twee alleen by Visagie geslaap. Alexander was toe ongeveer drie weke oud.

“Toe sy my later die week weer vra of ek kans sien om sy pleegouer te word, het ek onomwonde ja gesê,” sê hy. “En van daar af bly hy by my. Ek moes in daardie week alles koop wat ’n mens nodig het vir ’n baba, van ’n bedjie tot doeke tot klere.

“Waar ander ouers nege maande het om voor te berei, het ek net ’n paar dae gehad,” sê hy en lag. Die sanger en akteur Bouwer Bosch het vir Visagie babaklere gestuur met die embleem van Bosch se organisasie sonder winsbejag, Liefde Wen, daarop.

Die twee het in kontak gekom toe Visagie ’n Liefde Wen-kapietop (hoodie) gedra het op ’n vroeë episode van Boer soek ’n vrou. Bosch is ook tans besig met ’n projek waar 15% vir verkope van sy produkte geskenk word aan die Door of Hope-kinderorganisasie.

Die organisasie red babas wat deur hul ouers versaak word en herplaas die kinders in liefdevolle huise.

Visagie hou Alexander en ’n lammetjie vas op die plaas in Laingsburg.
Visagie en Leah, aanbieder van die vorige reeks van ‘Boer soek ’n vrou’, gesels nadat Damian aan hom gesê het hy wil eerder net vriende wees. Foto: kykNET

“ ’n Goeie vriend van my het my laat weet Arno het ’n pleegouer geword. Dit was vir my ’n ongelooflike storie en ek het vir hom kleertjies gestuur – ook omdat dit nou winter en baie koud is.”

Visagie het dit baie waardeer en mooi foto’s van hom en Alexander geneem. Hy sê Alexander het ’n eerste naam wat sy ma vir hom gegee het, en hy gaan sy oorspronklike van behou.

“Ek het vir sy ma gesê ek wil nie sy identiteit van hom wegneem nie. Hy sal weet waar hy vandaan kom en hy sal sy biologiese ma ken.”

Visagie sê Alexander se biologiese ma het hom die geleentheid gegee om vir hom ’n tweede naam te kies, en Alexander was sy keuse omdat dit “ ’n sterk naam is, en hy nog baie sterk gaan moet wees in sy lewe”.

Visagie is op die oomblik by sy ouerhuis en sy ma, Juanita Cole, gee hom ’n hand met die baba. Dit is ook haar eerste kleinkind en volgens Visagie is sy ekstaties.

Ek waardeer die hulp, maar ek wil nie heeltemal afhanklik word nie. Een van die dae moet ek teruggaan Mafikeng toe waar ek alleen sal wees. Ek en hy het reeds ’n baie sterk band en hy is kalm as hy by my is.

“Ek waardeer die hulp, maar ek wil nie heeltemal afhanklik word nie. Een van die dae moet ek teruggaan Mafikeng toe waar ek alleen sal wees. Ek en hy het reeds ’n baie sterk band en hy is kalm as hy by my is.”

Visagie werk as ’n kunsonderwyser by die private skool International School of South Africa en omdat die meeste van die leerlinge uit ander lande kom, gee hy aanlyn klas.

Alexander se biologiese ma het Donderdag ingestem dat hy Alexander formeel kan aanneem en sy wettige voog word. Visagie sê hulle is nie haastig met die proses nie en wil wegbly van besige plekke terwyl die Covid-19-pandemie woed. “Ons sal dit uiteindelik afhandel. Vir eers fokus ek net op Alexander, wat al so lekker groei dat sy klere te klein begin word!”

Visagie sê hy sal graag iemand aan sy sy wil hê om die gesin te vervolmaak. “Dit gaan nie maklik wees as ’n enkelouer nie, en ’n gay enkelouer daarby. Maar dalk eendag vind ek die regte persoon wat my ondersteuningstelsel sal uitbrei.”

Boer soek ’n vrou

Visagie sê die dag toe boer Damian Engelbrecht hom huis toe gestuur het, het hy homself afgevra “wat nou?”

Byna onmiddellik daarna het hy werk gekry as onderwyser en kon homself daarin verdiep.

“Ek het baie negatiwiteit verwag ná die program, maar dit was regtig nie so erg soos wat ek gedink het dit sou wees nie. Ek kon darem my gesig in winkelsentrums en by die skool wys!”

Elke oomblik was vir hom ongelooflik en as hy terugkyk, het sy deelname aan die program ’n positiewe uitwerking op sy lewe gehad.

Meer oor:  Boer Soek 'N Vrou  |  Trou  |  Boer Damian
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.