Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Celebs
BSV: Trouklokke lui dalk vir boer PF en oud-Mej. Dowe SA

Die huweliksklokkies kan dalk binnekort vir boer PF van die gewilde werklikheidsreeks Boer soek ’n vrou op kykNET lui nadat hy liefde gevind het by ’n vrou wat vir hom geskryf het.

Chantelle Pretorius (28), oorspronklik van Elliot in die Oos-Kaap, wat in 2017 as Mej. Dowe SA gekroon is, sê PF (30) aanvaar haar ten volle soos sy is en het skaars agtergekom dat sy doof is.

“Ek dink die feit dat ek so goed aanpas in die horende omgewing, het hom nie eens regtig laat besef dat ek eintlik doof is nie,” sê sy.

PF en Chantelle op die reünie-episode van Boer soek ’n vrou. Foto: Donna Lewis

“Klein dingetjies soos om vir mekaar te kyk wanneer ons praat, het natuurlik gekom en ons kommunikeer baie goed. My doofheid het ook nie ’n invloed op sy familie en vriende gehad nie.

“Dit maak dit baie spesiaal dat ek ten spyte van my doofheid my plek in sy wêreld kan volstaan.”

Chantelle sê dit gaan regtig goed tussen haar en PF, wat buite Laingsburg in die Wes-Kaap met vee, groente en saad boer. “Ons is baie ernstig oor ons verhouding en omdat ons albei nou rustig is, kan ek mense verseker dat die trouklokkies die een of ander tyd sal lui.”

Chantelle verwys grappenderwys na PF se grappie op Donderdagaand se reünie-episode en sê: “Onthou net, PF wil 12 kinders hê, so ons sal seker moet plan maak …”

Chantelle het op sewe maande oud lewensbedreigende breinvliesontsteking opgedoen en dokters het haar ’n 5% kans op oorlewing gegee.

“Danksy die Here se genade is ek genees. Maar vier maande later het ek weer breinvliesontsteking opgedoen en dit het my gehoor aangetas en my heeltemal doof gelaat.

“Op vierjarige ouderdom het ek ’n kogleêre inplanting gekry.”

Chantelle sê sy kan vaagweg die hospitaal, die operasie en natuurlik haar teddiebeer, wat ook kamma-kamma ’n kogleêre inplanting gekry het, onthou.

Chantelle Pretorius toe sy in 2017 as Mej. Dowe SA gekroon is. Foto: Facebook/Miss, Mr & Mrs Deaf South Africa

Sy sê haar ma, Charmaine, was baie streng met haar en sy is nie toegelaat om die gehoorstukke skelm uit te haal nie.

“Ma was so streng omdat sy die beste vir my wou hê. Sy het alles so ingedril en seker gemaak ek praat, en ek praat reg. Ek onthou dat sy my elke dag in verskillende situasies woorde laat herhaal het sodat ek dit kan oefen.

“My ma is ’n bittereinder wat negatiwiteit in positiwiteit omskep. Sy sal berge vir haar kinders versit en ek is ’n goeie voorbeeld. Almal dink dit is maklik as ’n mens ’n kogleêre inplanting kry – die kind gaan aan en hoor soos enige normale horende.

“Maar nee, dit verg baie inspanning en jy moet dit voluit doen en die kind een honderd persent ondersteun. Die Here het geweet wie my ma/ouers moes wees want dis harde werk.”

Sy is ’n oud-Kovsie wat in haar studiejare ’n bedrewe speler vir haar universiteit se vrouesokkerspan was. Sy het onderwys aan die Universiteit van die Vrystaat studeer en gee nou in Laingsburg skool.

Chantelle sê sy wil glo dat sy en PF net ’n gewone paartjie is.

En wees geduldig. Daar skort niks met ons brein nie, al haak ons tonge soms.

“Elke paartjie het maar hul uitdagings en werk saam om dit te oorkom. My doofheid is gelukkig van so ’n aard dat ek redelik normaal kan aangaan. Ek glo ons is ’n unieke paartjie oor die pad wat ons gestap het om bymekaar te kom, nie noodwendig oor my doofheid nie.”

Sy sê sy het ingeskryf vir die Mej. Dowe SA-kompetisie “om mense te motiveer, te inspireer en om die kloof tussen die horende en die dowes te oorbrug”. Een van haar hoogtepunte was om haar land in Praag te gaan verteenwoordig.

Chantelle se boodskap aan horendes is: “Dowes is normale mense wat net nie kan hoor nie.

“Mense is geneig om te dink dat doofheid ’n onoorkoomlike gebrek is. In vandag se tyd met al die tegnologie tot ons beskikking pas dowes so goed by die samelewing in.

“Wat horendes wel kan doen om te kommunikeer met dowes is om oogkontak te behou en net ’n klein bietjie stadiger te praat as julle besef dat ons nie volg nie. En wees geduldig. Daar skort niks met ons brein nie, al haak ons tonge soms.”

Meer oor:  Kyknet  |  Oos-Kaap
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.