Die Suid-Koreaanse popgroep BTS het Sondagaand loshande die meeste pryse op die jaarlikse People’s Choice Awards gewen.
Benewens die prys vir beste groep en beste album (vir Map of the Soul: 7) het hulle met hul liedjie “Dynamite” ook die prys vir beste liedjie en beste musiekvideo gewen.
Hulle het daarmee al vier pryse gewen waarvoor hulle vanjaar benoem is en kan nou dié pryse by die vier People’s Choice-pryse voeg wat hulle in 2018 gewen het.
“Ons weet dit was ’n moeilike jaar vir almal – dit was ook vir ons,” het ses van die groep se sewe lede saam in ’n toespraak gesê, wat vooraf opgeneem en tydens die prysuitdeling uitgesaai is.
“Maar ons het nie leeggelê nie en bloot gefokus op wat ons die beste doen: musiek. Ons wil julle werklik bedank dat julle vanjaar na ons musiek geluister het en ons hoop ons musiek kan julle help om deur te druk.”
Die 46ste People’s Choice Awards is vanjaar weens die Covid-19-pandemie met ’n virtuele gehoor aangebied en is vanuit Kalifornië uitgesaai. Die sangeres Demi Lovato was die aanbieder. Die gewone publiek het oudergewoonte weer die wenners in oorhoofse kategorieë – rolprente, musiek, televisie, mode en bekendes – aangewys.
Die rolprente Bad Boys for Life, The Kissing Booth 2 en Hamilton het elk twee pryse gewen. Bad Boys for Life is as die beste rolprent bekroon en Will Smith, wat die hoofrol vertolk, as beste rolprentster (mans). The Kissing Booth 2 is as die beste komedie aangewys.
In die TV-kategorie is Grey’s Anatomy, Riverdale en Keeping up With the Kardashians ook met twee pryse elk huis toe. Grey’s Anatomy is as die beste TV-reeks bekroon en die aktrise Ellen Pompeo, wat sedert 2005 die hoofrol in dié mediese drama vertolk, het die prys vir beste TV-ster (vroue) gewen.
In die musiekkategorie het Ariana Grande ook twee pryse gewen – beste vrouekunstenaar en beste bekende op sosiale media – terwyl die YouTube-ster Emma Chamberlain ook twee pryse ontvang het, onder meer dié vir beste pop-podsending.
Die sangeres Jennifer Lopez is met die ikoon-prys vir haar lewenswerk vereer.
Hondeliefhebbers sal ook bly wees dat die mopshond Doug the Pug vir die tweede agtereenvolgende jaar die prys vir diere-ster van die jaar gewen het.
Besoek https://www.eonline.com/news/1204775/peoples-choice-awards-2020-winners-the-complete-list vir die volledige lys van die wenners.
– Saamgestel deur Christiaan Boonzaier met bykomende bronne: YouTube, eonline.com, deadline.com, mediamole.co.uk