Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Celebs
Cannes: Min tyd vir slaap vir Margaret
Margaret Gardiner by die Cannes-rolprentfees.

Wanneer sy die Cannes-rolprentfees aan die Franse suidkus bywoon, werk Margaret Gardiner 20 uur per dag en mors nie te veel tyd by partytjies nie.

Sy word genooi na suites toe om geklee te word in ontwerpersrokke, “maar wie het tyd om rokke aan te pas wanneer jy met Spike Lee oor sy nuwe fliek kan praat?”

Gardiner, Suid-Afrika se eerste Mej. Heelal, gaan gedurende dié glansryke fees in ’n woonstel tuis aan die Boulevard de la Croisette, die hoofstraat wat langs die strand loop.

“Ek slaap, was en verklee slegs daar,” sê Gardiner, wat verlede week uit Los Angeles Frankryk toe gevlieg het.

Die 71ste Cannes-fees het verlede Dinsdag begin en duur tot Saterdag.

Lupita Nyong’o Vrydagaand by Chopard se geheime aand in die Chateau de la Croix tydens die Cannes-rolprentfees. Foto: Getty

Sy kyk na die nuwe flieks wat op Cannes bekend gestel word en woon ’n paar bedryfsgeleenthede by, onder andere as lid van die Hollywood Foreign Press Association. Dié organisasie het ’n klomp geld vir die stryd teen kinderslawerny geskenk.

Oor waar die glansrykste bekendes kuier, sê sy: “Dis oral, maar jy sal dit nooit weet nie. Daar is private partytjies in die heuwels, by eksklusiewe plekke wat in hotelle versteek is of op seiljagte. Die seiljagte is enorm en baie luuks.”

Gardiner sê ’n mens kan niks doen tensy jy op ’n lys is nie. Sy het Sondag in die De Grisogono-mediaruimte gaan sit op ’n stoep wat oor die Croisette uitkyk.

“Ek het aan sjampanje geteug. Almal daar is in ontwerpersklere uitgevat. Daar is darem ruimte en dis stiller daar.”

Sy hou nie daarvan om die private partytjies by te woon waar mense net rinkink nie. Sy het van een partytjie gehoor waar ’n vrou in ’n skamele uitrusting gaste by die deur verwelkom met ’n nommer. Na gelang van jou nommer, word jy na die een of ander wilde partytjie geneem wat met ontbyt eindig.

Vir haar is dit ’n werksbesoek.

“Ek is hier om flieks te kyk en om mense te leer ken. Ek is hier om vroue ten toon te stel wat sukses behaal in ’n bedryf wat deur mans oorheers word.”

Kristen Stewart het haar hoëhakskoene op die rooi tapyt op die Cannes-rolprentfees uitgetrek en kaalvoet in die reën verder gestap. Foto: Getty
Die modelle Winnie Harlow, Hailey Baldwin en Bella Hadid by ’n Cannes-partytjie. Foto: Getty
Aishwarya Rai by die vertoning van Girls of the Sun (Les filles du soleil) Saterdag op die Cannes-rolprentfees. Foto: Getty
Bella Hadid voor die vertoning van Ash Is Purest White (Jiang Hu Er Nv) Vrydagmiddag in Cannes.Foto: Getty

Cate Blanchett, die hoof van vanjaar se Cannes-paneel, het Saterdag op die trappe van die rooi tapyt saam met ander vrouerolprentmakers hulle sterk oor die feit uitgespreek dat vrouerolprentmakers nie in die verlede erkenning gegee is nie.

Blanchett het saam met ’n groot getal vroue op die trappe van die Palais des Festivals gestaan en ’n verklaring voorgelees voordat die fliek Girls of the Sun (Les filles du soleil) gewys is. Slegs 82 flieks met vroueregisseurs is die afgelope 71 jaar gekies om amptelik aan die Cannes-rolprentfees deel te neem, terwyl daar 1 645 rolprente was met mans as regisseurs.

Gardiner sê sy het vyf uitrustings ingepak wat nie gestryk hoef te word nie en wat geklassifiseer kan word as lank of kort.

“Dis baie koud hier die afgelope twee dae en ek het ’n aandpak ingepak dat ek kan warm bly.”

Sy het ook ’n noodsaaklike item, ’n sambreel, ingepak.

Dit het die naweek in Cannes gereën, maar die reël vir dié fees se rooi tapyt is “geen plat skoene, slegs hoë hakke”. Die aktrise Kristen Stewart het Maandag geskiedenis gemaak toe sy haar hemelhoë Christian Louboutin hakskoene op die rooi tapyt uitgetrek en kaalvoet in die reën die Palais se trappe bestyg het.

Ses Suid-Afrikaanse flieks is vanjaar op die fees te sien: Rafiki, Die Stropers, Miles from Nowhere, Inxeba (Die Wond) en District Six: Rising from the Dust.

Kendall Jenner Vrydagaand by Chopard se geheime aand in die Chateau de la Croix.Foto: Getty

Die Suid-Afrikaanse akteur/sanger Nakhane Touré (Inxeba) het ook op die rooi tapyt verskyn en het by ’n dakpartytjie opgetree. Crystal Donna-Roberts (Krotoa) is ook daar en Gardiner het Ayanda Duma by Spike Lee se partytjie raakgeloop.

Tonight we play a roof top in Cannes

A post shared by NAKHANE. (@nakhaneofficial) on

Gardiner vlieg Dinsdag terug Los Angeles toe voordat sy na Suid-Afrika vir die Mej. Suid-Afrika-reünie op 27 Mei in Pretoria terugkeer. Die Mej. Suid-Afrika-organisasie het belowe dat al die vorige kroondraers vanjaar se kroningsfunksie gaan bywoon ter viering van die 60ste bestaansjaar van Mej. Suid-Afrika.

“As iemand wat lank terug die kroon gedra het, gaan ek net in ’n hoekie sit en die jong vroue die kollig gun. Die vroue is nie net pragtig nie, maar ook innig, hartlik en slim. Ek is baie, baie opgewonde.”

Volg Gardiner se glanslewe by Margaret Gardiner op Facebook en op Instagram by @Margaret_Gardiner


Meer oor:  Margaret Gardiner  |  Cannes  |  Rolprentfees
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.