Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Celebs
'Elize was die snaaksste vrou wat ek ooit ontmoet het'

Die aktrise Elize Cawood (68), wat Saterdag aan longkanker dood is, het die wêreld ’n beter plek agtergelaat.

So sê die regisseur Gerrit Schoonhoven, wat dikwels saam met Cawood en haar man, die akteur Wilson Dunster, gewerk het.

Elize Cawood

“Sy was vreesloos om by die waarheid van haar karakter uit te kom,” sê Schoonhoven.

“Maar sy het alles met humor getemper. Net so het sy ook gelewe, haar humorsin nooit ver buite bereik nie. In die laaste tyd kon jy dapper byvoeg.”

Die regisseur Koos Roets het haar ontmoet deur haar broer, Bromley Cawood, ook ’n regisseur.

“Maar (die regisseur) Manie van Rensburg het haar eintlik op die map gesit,” sê Roets oor die reeks Verspeelde lente reeks waarin Cawood die rol van Pop le Roux vertolk het.

“Sy het net ‘uitgepop’. Daar het sy naam gemaak. Sy was wonderlik om mee saam te werk. Haar persoonlikheid het dit lekker op stel gemaak.”

Roets het saam met haar gewerk aan reekse soos Pandjieswinkel, Koöperasiestories, Onder draai die duiwel rond en die fliek Die wonderwerker.

Cawood het vroeër vanjaar ’n kykNET Fiësta-eerbewys gekry vir haar lewenslange bydrae tot die bedryf.

Sy het nog onlangs in die kykNET-sepie Binnelanders verskyn en was te hoor in RSG se eerste Covid-19-drama, Krag.

Hans Strydom, Elzie Cawood en Leon van Nierop in die ateljee met die opneem van ‘Stralerjakkers’.

Sy was ook bekend om haar rol as Girly in Leon van Nierop se radioverhaal Stralerjakkers.

“Sy het net soveel te doen gehad met die skep van daardie karakter as ek,” sê Van Nierop.

“Sy het die wonderlikste one-liners gegee en baie daarvan het hul pad na die storie gevind. Ek het dikwels agter haar humor aangeskryf.

“Haar teenwoordigheid in die ateljee … Die manier waarop sy elke keer daar ingekom het en met ons almal gesels en gelag het.”

Van Nierop het die karakter geskoei op ’n vrou wat in die Johannesburgse woonbuurt Newlands met ’n sigaret oor haar tuinhekke leun.

Cawood het later die boekweergawe van Stralerjakkers op RSG voorgelees.

“Dít was veral ’n monument,” sê Van Nierop. Sy het ook ’n ATKV-mediaveertjie vir dié voorlesing gekry.

“Toe ek daarna op radio luister,” sê Van Nierop, “het ek baie keer sit en huil, net om dit te hoor.”

Elize Cawood en Wilson Dunster in die toneelstuk ‘Narkose’.

Sy was ’n groot deel van Van Nierop se lewe.

“Ek is verbyster en hartseer. Ons het ’n groot, groot talent verloor. Wilson, haar kinders. Ek kan my nie ’n wêreld sonder Elize Cawood indink nie.”

Kobus Burger, uitvoerende regisseur: drama by RSG, het drie boekvoorlesings saam met haar die afgelope agt jaar opgeneem.

“Ek onthou haar voorlesing van Esta Steyn se boek Droomdelwers.

“Esta het my laat weet sy het na die boekvoorlesing geluister en sy het gesê Elize het daardie karakters presies gelees soos wat sy hulle in haar kop gehoor het toe sy dit geskryf het.

“Elize was eintlik die Olimpiese swemmer van boekvoorlesings. Sy het ongelooflike stamina gehad. Sy kon lees en lees sonder om te fluff en die asem raak nie op nie.”

Cawood het in baie radiodramas opgetree.

“Sy was altyd voorbereid en sy het vir jou gegee wat jy nodig gehad het. Sy het menslike en aardse karakters baie fyn verstaan, ook met ’n humoristiese interpretasie. Daai eerlikheid.”

Die sangeres Lizanne Barnard het Cawood genader om op te tree in die produksie ’n Bêreboksie vol vlerke, wat bestaan uit die woord- en visuele kuns van Lidi de Waal.

“Ek het dadelik geweet Elize moet dit voorlees,” sê Barnard.

Elize Cawood in ‘Binnelanders’.

“Ek het haar met groot huiwering en ontsag gebel. Want sy is ’n ikoon, maar so plat op die aarde. Sy was opgewonde daaroor. Ek en my man het na haar en Wilson se huis gery. Sy het daardie teks opgetel en dit begin voorlees dat ons kan sien hoe ons hierdie ding tot ’n konsert kan verwerk.

“Daar was magic daai dag. Ons het die stukke opgetel asof ons mekaar jare lank ken, en eintlik het ek haar net een keer tevore jare gelede ontmoet.”

Danksy die produksie het Barnard en Cawood mekaar goed leer ken.

Barnard onthou die liefde tussen haar en Dunster.

“Sy het vertel van hul ontmoeting in die Baxter-teater in Kaapstad: Wilson was op die trappe en hulle het mekaar op 'n afstand raakgesien.”

Hulle is in 1982 getroud en hulle het twee kinders, Jenna en Luke.

Wilson Dunster
Elize Cawood en Wilson Dunster op hul troudag.

“Hulle twee (Elize en Wilson) het saam die lewe getackle,” sê Barnard.

“Dit was so wonderlik om te sien hoe na aan mekaar hulle is. Hoe hulle altyd mooi met mekaar gepraat het. Hul liefde en respek vir mekaar het altyd sigbaar gebly, oor al die jare.

Ek het soveel by haar geleer van hoe om met jou medekunstenaars in die bedryf te wees.

Die heel laaste vertoning van Bêreboksie het sy ’n hoogtepunt in haar loopbaan genoem.”

Die aanbieder en akteur Hannes van Wyk sê Cawood het hom onder haar vlerk geneem op die stel van die dramareeks Torings.

“Ek was so bang en nuut in die televisiewêreld,” sê Van Wyk, “en Elize was ongelooflik.

“Nie net was sy ’n ongelooflike aktrise nie, maar ook ’n wonderlike mens. Ek was en is baie lief vir haar. Sy was een van daardie mense wat elke mens dieselfde behandel het en dit was altyd groot pret om dinge met haar te deel.”

Cawood kon Van Wyk altyd laat lag.

“Ek weet ook van min mense wat so lief vir mekaar is soos Elize en Wilson. Afgesien van haar uitsonderlike loopbaan was Wilson en haar kinders die belangrikste in haar lewe.

“Die bekendheid en sukses wat sy behaal het, het sy altyd met nederigheid aanvaar. Wat ’n vrou!”

Van Wyk sê die Suid-Afrikaanse vermaaklikheidsbedryf is armer sonder haar.”

Deon van Wyk
Elize Cawood Foto: Deon van Wyk

Katinka Heyns was die regisseur van die fliek Die Wonderwerker waarin Cawood die rol van Maria van Rooyen vertolk het. 

“Elize kon ’n atmosfeer lees en spanning verlig soos min,” sê Keyns. “Sy was haar eie mens, met ’n vrygewigheid van gees en ’n ragfyn intuïsie. En sy wás snaaks. Nie net op die verhoog of voor die lens nie. Ook in die regte lewe. Dit was ’n fees om haar op stel te hê, veral as iets sou skeefloop.”

Cawood het destyds geskerts as sy ooit fliek saam met Heyns kan maak, kan sy daarna maar net in sepies speel. 

“En sy wás pragtig,” sê Heyns. “Ná al die komiese rolle wat sy vir ons saam met Tobie Cronjé gespeel het, was sy die een wat gekies is as Maria teenoor Dawid Minnaar en Marius Weyers in Die Wonderwerker. Die ikoniese toneel van haar as Maria Dawid as Eugène Marais in die slaapkamer, was vir my ’n hoogtepunt. Ons het dit tegnies beplan sonder ’n repetisie. Sy het toegelaat dat die engele oorneem en Maria gewórd. Vir my een van die sterkste tonele in die fliek. Elize is nooit deur ydelheid gepootjie nie.”

Die akteur en omroeper Charl van Heyningen het teenoor haar in Van Nierop se dramareeks Wolwedans in die skemer gespeel.

“Ons het mekaar vroeër jare baie goed geken. Ons het dikwels in produksies teenoor mekaar gespeel. Wolwedans was wel die mees prominente een. Ons het twee geliefdes gespeel. Sy is een van die snaaksste vroue wat ek in my lewe ontmoet het. Ek sal haar altyd onthou vir hoe ons kon saam lag. Daardie droë humor. Sy was ’n meester van understatement, van underplay. Sy was regtig ’n uitstekende aktrise. Ek onthou haar met groot liefde en teerheid as iemand wat net lig in almal se lewens gebring het en ’n wonderlike kollega.”

Meer oor:  Elize Cawood  |  Leon Van Nierop  |  Hannes Van Wyk  |  Radio  |  Teater  |  Televisie  |  Aktrise
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.