Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Celebs
Celebs sê: Om ’n pa te wees die beste titel moontlik

’n Seun se grootste held en ’n meisie se eerste liefde.

Dit is wat die meeste pa’s in hul kinders se lewe beteken.

Met Vadersdag wat Sondag gevier word, het Netwerk24 met ’n paar pa’s gepraat en dit lyk asof al die suksesse en prestasies in hul lewe verdof teen die titel van pa-wees.

Jean de Villiers en sy kroos. Van links is Lana (6), Jean, Layli (8) en Luca (5). Foto: Verskaf

Die 39-jarige Jean de Villiers, voormalige Springbokkaptein, is die trotse pa van drie kinders. Vir hom is om pa te wees die grootste voorreg wat met ’n enorme verantwoordelikheid gepaard gaan.

“Dit is wonderlik én vreesaanjaend om kinders met kennis te kan toerus en gereed te maak om standvastig die wêreld in te gaan.”

Selfs die inperking, wat in hartseer omstandighede gebeur het, het vir hom ’n silwer rand.

“Omdat ek baie reis en min by die huis is, is dit heerlik om so lank aaneen by die huis te kan wees en my verhouding met my gesin nog sterker te maak.”

Jean de Villiers en sy kinders. Voor is Lana (6), Luca (5) en Layli (8). Foto: Verskaf

De Villiers, wat in sy speeldae ook ’n staatmaker by die Stormers ook was en in meer as 100 Superrugby-wedstryde voor groot skares uitgedraf het, sê die uitdagendste deel van pa-wees is dat sy kinders se oë heeltyd op hom gerig is.

“Ek wil die man wees wat my seun eendag sal wil wees en óók een met eienskappe wat my dogters eendag in ’n man sal wil hê.

“Maar vir daai drie kinders streef ek moeiteloos elke dag daarna.”

William Small-Smith, die Cheetahs se senter, vier Sondag die eerste keer Vadersdag saam met Liam, sy seuntjie van 11 maand oud.

Die De Villiers-gesin. Van links is Layli (8), Jean, Luca (5), Marlie en Lana (6). Foto: Merlot Photography/Bernice Burger

Small-Smith sê niks kon hom voorberei op die mooie realiteit daarvan om ’n pa te wees nie.

“Ek en my vrou het elke voorgeboorteklas bygewoon, boeke gelees en onsself goed toegerus voor Liam se geboorte. Maar toe daai seuntjie in die wêreld kom, het ek van voor af geleer.”

Small-Smith sê ’n kind maak jou lewe vol, op elke wonderlike manier.

Pierre Greeff, hoofsanger van Die Heuwels Fantasties, en sy seun, Thys (2). Foto: Verskaf

Vir hom is die lekkerste van pa-wees om te sien hoe sy avontuurlustige en nuuskierige pienkvoet alles eerstehands by hom kan leer.

“Hy kyk na elke ding wat ek doen en alles wat hy sien, is vir hom ’n eerste. Watter groot voorreg is dit nie om dit vir hom te kan leer nie.

“Om ’n kind te hê is om soos ’n deeltjie van jou hart buite jou lyf te laat leef.”

Tim Theron en sy kinders, Sophia (5) en Migael (3). Foto: Verskaf

Lede van die Afrikaanse alternatiewe rock-groep, Die Heuwels Fantasties, vier ook vanjaar pa-wees en al die seëninge wat daarmee saamkom.

Pierre Greeff, hoofsanger van die groep, sê die lekkerste ding van vaderskap is dat jy elke dag ’n verskoning het om te kan speel.

Greeff sê dis belangrik om te alle tye ’n voorbeeld vir sy tweejarige seun, Thys, te wees, en hom te leer hoe om ’n goeie mens te wees.

“Tydens die inperking het ek opnuut besef dat die hooffunksie van pa-wees is om jou kind te beskerm. Wat ook al dit beteken, om hom te beskerm is uiteraard net wat ’n mens moet doen.

“ ’n Mens se kind maak jou trots,” sê Greeff.

“Veral as daai tweejarige sien sy ouma het ‘opgedress’ en hy vir haar sê: ‘Ouma lyk mooi!’ ”

Maria Kennedy (5) aanskou die wêreld veilig van bo-op haar pa, Hunter Kennedy, se skouers. Foto: Verskaf

Hunter Kennedy, sanger en kitaarspeler, is pa van die vyfjarige Maria.

“Vaderskap beteken vir my om ’n ondersteunende rol in haar lewe te speel.

“Tydens die inperking het ons verhouding vir seker versterk en ek voel asof daar ’n hele paar oomblikke bygevoeg is tot die lys van goed wat voor my oë gaan flits die dag as ek heengaan.”

Vir Kennedy, wat bekend is om die manier wat hy met woorde kan toor, is die mooiste woorde wanneer Maria vir hom sê: “Ek is lief vir jou, Pappa.”

Dawie Roodt, hoofekonoom van die Efficient Group, sê sy belangrikste bates is sy vier kinders.

Roodt dra ook nou die titel van oupa, nadat hy onlangs ’n kleinkind ryker geword het.

“Die slegste van pa-wees is wanneer ek myself in my kinders sien,” sê Roodt laggend.

“Maar om myself in my kinders te sien is ook die heel lekkerste deel van pa wees.”

Dawie Roodt, saam met sy dogter, Danielle, en sy kleinkind, Sebastiaan. Foto: Verskaf

Roodt sê om pa te wees gaan gepaard met die grootste gevoel van trots en liefde, die soort wat net ’n vaderhart kan voel.

Tim Theron is nie net ’n gesoute akteur en regisseur nie, maar ook die pa van die vyfjarige Sophia en driejarige Migael.

“Pa-wees is altyd ’n vreugde en soveel te meer altyd ’n voorreg,” sê hy.

Theron sê dit is die grootste geskenk om iemand te kan leer en terselfdertyd by hulle te kan leer.

“Hoewel pa-wees met ’n hele lang lys uitdagings kom, oorskadu ’n enkele drukkie van jou kind enige uitdaging op daai lys.

“Jou kind laat jou in ’n bodemlose put van liefde verdrink, net soos jy dink daar kan nie meer wees nie, neem daai liefde eksponensieel toe.”

Vir Theron is vaderskap ’n permanente aanstelling en hy wil geensins ooit iets anders as dit wees nie.

Geharde rugbyspelers, wilde musiek-manne, ’n ekonoom wat homself soms nog as ’n “moeilikheidmaker” beskou, en ’n fliekmaker, almal mak gemaak deur die kyk van ’n kind.

Die medaljes waarmee die wêreld hulle bekroon het, val weg wanneer hulle as “Pa” bekroon is.

Meer oor:  Beste  |  Pa  |  Vadersdag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.