Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Celebs
Chad le Clos se meisie dalk volgende Mej. SA

Suid-Afrika se Olimpiese swemmer Chad le Clos was baie opgewonde om te hoor dat sy meisie van byna drie jaar dalk die volgende Mej. SA kan word.

Jeanni Mulder (24) van Seepunt, Kaapstad, sê sy het die goeie nuus dat sy ’n toptienfinalis is met hom gedeel kort voordat hy onlangs aan die Spele deelgeneem het.

Dat hy nie so goed gevaar het soos gehoop is nie, maak glad nie saak nie. “Ons ondersteun mekaar altyd, maak nie saak wat nie,” sê Mulder, ’n model.

“Ek weet van alles wat in die laaste tyd in sy lewe aangegaan het. Ten spyte daarvan het hy uitstekend gevaar. Ek is so, so trots op hom!”

Chad le Clos omhels sy meisie, Jeanni Mulder. Foto: Instagram/Jeanni Mulder

Le Clos (29) het Sondag na Suid-Afrika teruggekeer en Mulder het hom Woensdag in Durban gaan verras. Die paartjie het mekaar langer as twee maande laas gesien.

Mulder sê hul verhouding is uniek omdat hulle albei baie gereeld vir hul loopbane oorsee reis. “Ons sal mekaar soms in ’n ander land soos Turkye kry en ’n week saam daar deurbring. Dan voel dit soos vakansie,” sê sy.

Hulle het mekaar drie jaar gelede deur gemeenskaplike vriende in Londen ontmoet.

Mulder sê sy was aanvanklik sku vir die Engelse Le Clos omdat sy Afrikaanssprekend is, maar het tot ’n afspraak ingestem.

“Ons het drie uur aanmekaar gesels. Hy is so ’n nederige mens en behandel almal rondom hom met groot respek. Dit is vir my ’n baie belangrike eienskap waarna ek in ’n man soek,” sê Mulder.

Jeanni Mulder en Chad le Clos by die see. Foto: Instagram/Jeanni Mulder

Le Clos het haar Dinsdag op Instagram gelukgewens ná die aankondiging dat sy een van die mooistes in die land is, en gesê: “Ek is so trots. Jy is pragtig!”

Mulder is in Oudtshoorn gebore en het op vierjarige ouderdom na Jeffreysbaai verhuis. Daar was sy in die Hoërskool Nico Malan.

Sy het begin belang stel in skoonheidskompetisies toe Demi-Leigh Nel-Peters (nou Tebow) in 2017 Mej. Heelal geword het, en dr. Tamaryn Green die jaar daarna tweede in dié kompetisie geëindig het.

“Ek het aanvanklik ’n bietjie minderwaardig gevoel omdat ek nie ’n dokter is nie en my ouers nie kon bekostig om my ná skool te laat studeer nie.

“Maar Chad het my so baie geïnspireer. Hy is so gedrewe en pak die bul by die horings. Hy het net gevra: ‘Wat het jy om te verloor?’ ”

Jeanni Mulder Foto: Indirect Media

Mulder sê sy is verheug dat sy ’n toptien-finalis is en kan nie wag vir die reis wat voorlê nie. Sy sien uit daarna om mense op verskillende maniere te help en ook ’n bewustheid oor basiese onderwys te kweek.

“In die laaste tien dae het ek reeds so baie gegroei en vriendskappe met die ander nege vroue gesmee. Ons is almal verskillend, maar het ’n gemeenskaplike doel.”

LEES OOK: KYK: Een van dié 10 word nuwe Mej. SA

Mej. SA word op 16 Oktober in die GrandWest Grand-arena in Kaapstad aangewys. Die topdrie sal aan drie internasionale kompetisies, Mej. Heelal, Mej. Wêreld en Mej. Supranasionaal, deelneem. 


Meer oor:  Chad Le Clos  |  Swemmer  |  Meisie  |  Mej. Sa
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.