Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Celebs
Charlenè lugtig vir toertjies tydens swangerskap
Charlenè Brouwer en Niel van Deventer. Foto: Deon Raath

Gewoonlik sou die aktrise Charlenè Brouwer sommer self die waaghalstoertjies uitgevoer het, maar met die verfilming van die rolprent Droomman het die vars nuus van haar swangerskap haar laat terugdeins.

“Ek kan myself nogal in ’n karakter werp, maar hierdie keer was ek baie bewus daarvan dat ek nou nie net myself het om in ag te neem nie,” sê Brouwer, wie se eersteling, Daniel, in Desember gebore is.

Sy is ook ’n regisseur en vervaardiger, en is getroud met die vervaardiger en regisseur Niel van Deventer.

“Met die verfilming was ek vier maande swanger. Dit het nog nie eintlik gewys nie, maar ek was baie bewus daarvan. Almal was so ondersteunend. Met waaghalstonele sou ek voorheen nie eers gedink het aan die risiko’s nie. So dit was nogal vir my ’n aanpassing. Ek sal weer in die toekoms stunts doen, maar ek sal dit baie beter deurdink.”

Droomman, waarin sy teenoor Armand Aucamp speel, word Sondag op kykNET uitgesaai as deel van Deon Opperman se reeks van 13 flieks.

André Velts is die regisseur van Droomman en die draaiboek is deur Sean Else geskryf.

Armand Aucamp en Charlenè Brouwer in Droomman.

Droomman handel oor ’n skaam meisie wat in ’n biblioteek werk. Dan kom ’n misterieuse man in haar lewe en haar vervelige bestaan neem ’n nuwe wending.

Met dié dat sy geweet het sy is swanger, het ’n skets van ’n lugballon op die stel haar aandag getrek.

Daar is ’n toneel in Droomman waar Aucamp se karakter ’n klomp sketse opskeur.

Die skets wat Brouwer geraam het.

“Ek het egter geveg vir daardie skets van die lugballon,” sê Brouwer. “Ek het dadelik gedink dit moet in die babakamer teen die muur hang. Gelukkig het daardie skets in die opskeur-toneel behoue gebly. Ek hou graag aandenkings uit die flieks waarin ek gespeel het. Ek het nou nog die aansteker wat ek in Dis ek, Anna gebruik het.

“Ons het baie vinnig aan Droomman geskiet. Dit was die eerste keer dat ek saam met André sowel as Armand gewerk het. Dit was ’n bietjie minder as ’n week en ons was klaar, want ons het teen die tempo van ’n reeks verfilm. Die flieks word soos ’n reeks verfilm. Ek is gewoond daaraan om baie langer aan ’n rolprent te verfilm. Dit was vir my ’n interessante uitdaging wat ek ook geniet het.”

Elke fliek is dus soos ’n episode in ’n reeks wat in ’n tydgleuf van ’n uur en ’n half uitgesaai word.

Die Van Deventers se seun, Daniel, is op 19 Desember gebore.

“Ja, sy datum was eintlik op 17 Desember, maar die meneertjie het toe besluit om nog twee dae te bly. Om ’n ma te wees, het alles vir my verander. Ek moes sekere werk uitstel, maar is ek weer aan die gang.”

Sy en Van Deventer het onder meer aan ’n dokumentêr oor Jack Parow gewerk waarvan sy onlangs die lokprent ontvang het.

Die rolprent Skemerson met Pietie Beyers is onderweg en hulle beplan aan hul reeks The President’s Keepers gegrond op die gelyknamige boek deur Jacques Pauw.

* Droomman word Sondag om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai.

Meer oor:  Niel Van Deventer  |  Armand Aucamp  |  Kyknet  |  Flieks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.