Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Celebs
Chris van Niekerk Wellington se nuwe ‘loseerder’
Chris van Niekerk

Die akteur Chris van Niekerk verhuis Woensdag sak en pak na Wellington waar hy die bestuur van Die Bôrdienghuis-teater by die Breytenbach-sentrum gaan oorneem.

“Dit was ’n geleentheid wat ek net nie kon laat verbygaan nie. Daar is ’n volledige teater en ’n ondersteuningstelsel soos min. Ek is regtig opgewonde en het so baie planne vir die plekkie,” sê Van Niekerk uit Rosendal waar hy nou sy huis daar oppak vir die trek Wellington toe.

Van Niekerk, wat onlangs in onder en meer Fynskrif en Die boekklub te sien was, het ná 22 jaar van pendel tussen sy huis in die Oos-Vrystaat en waar ook al sy werk in die teater op televisie of radio hom geneem het, besluit om Wellington toe te verhuis en by Die Bôrdienghuis betrokke te raak.

“My fokus sal wees om die teater ’n plek van ontspanning, vermaak en vreugde te maak, sonder om te vergeet waar ons bly, wie se lag en wie se trane hier weerklink en vloei, wie liefgehad en ook getreur het.”

Daar word beplan om met ’n wye verskeidenheid produksies en optredes, voorlesings en gesprekke, rolprent-aande, jenewer-en-jazz-makieties en digkuns die teater ’n gewilde bymekaarkomplek te maak.

Van Niekerk het al talle klein teatertjies in Kalkbaai, Groenpunt, Tulbagh en Rosendal bedryf.

“Daar gaan ’n lekker program wees vir Desembermaand, wat ons binnekort gaan bekend maak. Ek het reeds met mense begin gesels en die reaksie was geweldig positief.”

Van Niekerk se eerste optrede in Die Bôrdienghuis is reeds die komende Saterdag met die eerste van sy Gedig-en-Woord-optredes. Hierdie viering van die woord in Afrikaans en Engels is ’n passie van hom wat al jare aankom. As akteur en woordkunstenaar lê die digkuns en geskrewe woord hom baie na aan sy hart, sê hy.

Van Niekerk se Woord-Planeet is ’n eie keuse uit die werk van skrywers en digters soos N.P. van Wyk Louw, Breyten Breytenbach, Wilma Stockenström, Elisabeth Eybers, Boerneef en Henk Rall, asook Shakespeare en Nina Cassian. Kom deel ook in die vreugde van die gevierde skrywes van Audrey Blignaut, A.G. Visser en Fanus Rautenbach tesame met die jongeres soos Loftus Marais.

Die vertoning begin Saterdag om 20:00 en pizzas en drinkgoed kan al van 18:00 af gekoop word. Kaartjies kos R100 per persoon en kan by teater@breytenbachsentrum.co.za of by Jessica by 021 873 2786 bespreek word.

* Kom ontmoet en verwelkom Chris ook Vrydag tussen 17:00 en 21:00 onder die bome by Die Bôrdienghuis in Burgerstraat 14 vir ’n gesellige Gin & Jazz-kuier. Daar is ’n kroeg en pizzas kan ook bestel word. Kaartjies kan teen R50 per persoon by die ingang gekoop word.

Meer oor:  Wellington  |  Teater  |  Chris Van Niekerk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.