Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Celebs
Christelle van Tonder groet RSG

Selfs kort voor haar laaste dag by RSG het die senuwees die omroeper Christelle van Tonder wéér beetgepak.

Sy het opnuut besef waarom sy in radio werk: die adrenalien.

Van Tonder (31) verlaat RSG oor ’n week ná sewe jaar by die radiostasie waarna sy op 17 Januarie na China vertrek waar sy gaan skoolhou.

Christelle van Tonder

“Ek het gister vir die eerste keer ’n oggendskof gedoen nadat ek lank aandskofte by RSG gedoen het. Dis regtig spannend om iemand anders se skof te doen. Jy raak gewoond aan jou skof. Jy ken amper jou gehoor. Dit raak ’n roetine, hoewel regstreekse uitsendings nooit dieselfde is nie.”

Sy het vooraf onseker gevoel en nie goed geslaap nie. Dit nadat sy reeds in 2012 by RSG begin werk het.

Nou gaan sy in die Chinese stad Harbin nesskop.

“Dit is glo die derde koudste stad in die wêreld, so ek moet myself daarop voorberei. Ek is mal oor reis en ek het altyd gedink indien die geleentheid hom voordoen om in die buiteland te werk, sal ek dit aangryp. Nou gaan ek skoolhou. Die kontrak duur vir twee jaar. Ek is baie op my senuwees, maar dis ook opwindend.”

Haar nagraadse onderwyskwalifikasie aan die Universiteit van Pretoria (UP) kom haar nou handig te pas.

Sy het voorgraads drama aan die Tshwane Universiteit vir Tegnologie (TUT) gestudeer.

“My ouers het gesê hulle is trots op my, maar ek moet nog iets swot. Destyds was ek nie baie beïndruk nie, maar nou is ek baie dankbaar daaroor.”

Sy het nie ’n loopbaan in radio beplan nie.

“Ons het ’n kort radio-module gehad, dit was seker drie weke lank. Ek het ’n kinderteaterproduksie gedoen en toe ek daarmee klaargemaak het, het die geleentheid om ’n internskap by RSG te doen na my kant toe gekom.”

Sy het nie geweet wat om te verwag nie, maar sy is aanvaar om by die radiostasie te werk.

Sy het in 2012 daar begin en later vryskut vir RSG gewerk waarna sy uiteindelik voltyds aangestel is.

“Nee, ek is ’n ander mens,” sê Van Tonder aan die einde van meer as sewe jaar se diens by RSG.

Luisteraars ken haar vir programme soos Oppiradio en dokumentêre wat sy vervaardig het.

Van Tonder reken die uitsaaiwese laat ’n mens vinnig grootword.

“Veral as jy die geleentheid kry om die stories te doen en mense te ontmoet. Mense van regoor die spektrum, verskillende stories wat jy waarneem. Jy word meer vertroud met die stasie en jy is later ook ’n bietjie meer waaghalsig met die stories wat jy doen.”

Sy was van die begin af lief daarvoor om dokumentêre te vervaardig.

Drie voorafopgeneemde episodes van Oppiradio word uitgesaai nadat sy haar lessenaar verlaat het, asook ’n sportdokumentêr van tien minute lank.

Sy het aanvanklik gedink sy sal haar eendag weer in die toneelwêreld bevind, maar radio het oorgeneem.

Never say never, maar ek kan myself nie binnekort weer sien toneelspeel nie. Miskien eendag, maar radio het as ’n medium so ’n groot impak op my gehad. Ek wil ander mense se stories vertel, ek wil nie iemand vertolk nie.”

Dit is nog onbekend wie haar sal opvolg, maar iemand sal intussen vir haar instaan.

Volgende Dinsdag sit sy vir oulaas by haar lessenaar in die SAUK-gebou in Auckland Park.

“Dan is dit verby. Dit het baie vinniger gebeur as wat ek gedink het. Uitsaai sal altyd by my bly en ek is baie dankbaar vir die geleentheid wat RSG my op so ’n jong ouderdom gegee het.”

Meer oor:  China  |  Omroeper  |  Rsg
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.