Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Celebs
Cobus Visser: ’n Akteur wat die karakter geword het

Die akteur Cobus Visser (70), wat Maandag aan hartversaking dood is, was ’n “omgeemens”, sê die aktrise Magda Beukes, ’n jare lange vriendin.

Cobus Visser as jong akteur.

“Jy kon dít in daardie groot sagte bruin oë van hom sien. Ou Kosie kon in my oë niks verkeerds doen nie. Ek was verskriklik lief vir hom. Hy wou net alles en almal beskerm. Hy is so ’n reguit mens. Baie onstuimig en stormagtig, maar as jy sy vriend was, was jy dit vir ’n leeftyd.”

Beukes het hom Saterdag in die Steve Biko-hospitaal in Pretoria besoek.

“Dit is ’n groot verlies, maar hy het so swaar gekry. En soos dit nou maar in die lewe van ’n akteur gaan, wil jy nie hê mense moet weet hoe siek jy is nie, want jy gaan dalk nie werk kry nie. Maar hy het volhard. Hy het sy taak op aarde voltooi.”

"Hy het ’n goeie dramatiese tydsberekening in sy komediespel gehad. Dis wat dit so snaaks gemaak het.”

Beukes beskryf hom as ’n akteur wat nie toneel hoef te gespeel het nie, maar gewoon die karakter geword het.

“Hy was natuurlik ook ’n party animal. Hy kon kuier en kuier. My ou darling. Ons liefste Cobus. Ons sal hom in ons harte dra en vir altyd by ons hê.”

Cobus Visser in die kykNET-komedie Huis Lelieveld.

Die aktrise Elma Potgieter het hom ook Saterdag in die hospitaal besoek.

Potgieter en Visser verskyn albei in die reeks Huis Lelieveld wat Woensdag op kykNET begin.

“Ons kom van die (SAUK se) oorklankingsdae. Hy het een van die beste stemme gehad – nie net wat klank betref nie, maar ook met die gebruik daarvan. Hy het nie die karakter gemanipuleer nie.”

Visser het ook oorklankingsregie gedoen.

Sy vertolking was nie net woorde oordra nie, sê Potgieter.

“Dit was so natuurlik. Hy het ’n goeie dramatiese tydsberekening in sy komediespel gehad. Dis wat dit so snaaks gemaak het.”

Visser het in Adam Small se toneelstuk Kanna hy kô hystoe opgetree, waarin Wilna Snyman die hoofrol van Makiet vertolk het.

“Ek het dit nooit self gesien nie,” sê Potgieter, “maar baie mense het agterna Cobus se naam genoem. Hy kon ’n poëtiese realisme aan sy karakters verleen dat jy dit kan glo. Dit het ’n blywende indruk op ’n gehoor gelaat.”

Cobus Visser (heel links) as student aan die Universiteit van Pretoria (UP) saam met Jeanette Jordaan, Wim Vorster en Mary Vasiliou.

Die dramaturg en resensent Wim Vorster ken Visser sedert 1971. Hulle het albei aan die Universiteit van Pretoria (UP) drama studeer. Visser was twee jaar voor Vorster.

“Ons het net op universiteit saam op die verhoog gespeel in ’n produksie van Bertolt Brecht se Moeder Courage,” sê Vorster.

“Ons was onmiddellik vriende. Hy het my ook geleer om te vertaal. Hy was raar. Jy sou hom vir ete om 20:00 nooi en dan daag hy 22:30 op . . .”

Visser was in 2003 ook ernstig siek.

“Hy het weke lank in die Joburg Gen (Charlotte Maxeke-hospitaal) gelê. Hy het ’n groot mate van hartversaking ervaar. Die hart het maar ’n knou gehad, maar hy het goeie behandeling daar gekry. Hy was vir lang tye sonder werk en dit is ironies dat toe hy weer werk kry, hy te siek was om te kon werk.”

Visser is in Upington in die destydse Kaapprovinsie – nou die Noord-Kaap – gebore. Hy was ’n jaar in die weermag waarna hy aan Tukkies begin studeer het. Hy is by die streeksraad Sukovs aangestel en het later na Truk geskuif.

Die aktrise Annelize van der Ryst het hom gedurende sy dae by die Streekraad vir die Uitvoerende Kunste in die Oranje-Vrystaat (Sukovs) ontmoet.

“Ek het hom onlangs weer gesien toe hy ’n gasrol in 7de Laan vertolk het. Ons het destyds saam oorklanking by die SAUK gedoen. Hy was verskriklik snaaks en hy kon komiese rolle baie goed vertolk. Die regisseur Manie van Rensburg het baie van sy aanslag gehou.”

Cobus Visser

Die aktrise Henriëtta Gryffenberg reken Visser was sy tyd vooruit.

“Hy het ’n mens geleer om dinge te onderspeel, in plaas daarvan om groot te speel. Jy moes dit natuurlik doen.”

Gryffenberg het Visser leer ken toe hy oorklanking vir die SAUK gedoen het.

“Hy was ’n baie bedrewe regisseur. Ek was so op my senuwees met my eerste oorklanking, waar ek ’n in- en uitasem moes doen. Hy het dit maar gelate aanvaar toe ek so ’n bietjie les opgesê het . . . Hy het egter nie geloof in my verloor ná die mislukte asemteug nie. Hy was ’n perfeksionis met ’n groot hart. Dis baie hartseer, maar ek is verlig dat hy nie meer in die hospitaal ly nie.”

Frans Swart, besturende direkteur by Lefra Produksies, onthou hoe Visser as akteur kon begeester.

“Hy het die gawe gehad om met sy stil en kalm stem aan jou regie te gee dat jy presies geweet wat hy van jou verwag. Met sy ongelooflike vertolkingsvermoë kon hy enige akteur inspireer. Hy het ook die vermoë gehad om by enige rol in te stap en ’n groot sukses daarvan te maak. Dit was altyd ’n wonderlike ervaring om met hom te kon gesels, want op sy wonderlike stil manier het ek altyd aan sy lippe gehang – juis omdat hy so belese was.”

Die regisseur Katinka Heyns onthou Visser as ’n veelsydige kunstenaar.

“Hy het daarvan gehou om ’n haas uit ’n hoed te trek wanneer ‘n mens dit die minste verwag. Hy kon uit die bloute skater van die lag, omdat hy iets sien, wat ander nie sien nie. Want hy was ’n voyeur ...”

Die skrywer Chris Barnard, Heyns se man, het in 1979 ’n rol spesiaal vir hom in die reeks Die Avonture van Joachim Verwey geskryf. 

“Hy het die rol van Kaas vertolk teenoor Tobie Cronjé (Joachim),” sê Heyns.

“Die twee het saam gebly in ’n trietserige woonstelletjie. Kaas was slordig, bietjie baie lui, met ’n gesonde eetlus. Joachim was die teenoorgestelde.“Ironies genoeg, het Cobus en Tobie in die sewentigs teenoor mekaar gespeel in Chris se toneelstuk Die rebellie van Lafras Verwey, wat jare later, deur ons seun, Simon, tot ‘n draaiboek vir die wye doek verwerk is. Simon het van meet af aan vir Cobus gesien in die rol van Lafras se baas. Hy het soos altyd, onderspeel.”

Visser het in Heyns se rolprent Die storie van Klara Viljee die rol van Boetie gespeel.

“Dis ’n rol van hom wat vir my uitgestaan het. Die karakter is gegrond op iemand wat ek as kind op ‘n afstand in Waenhuiskrans leer ken het. Die eensame, die eenling, die kind in ’n volwasse lyf, met sy khaki klere. Hy het nie veel gepraat nie, maar hy het gesién en gehoór.Dankie vir jare en jare se saamwerk en saamlag by Sonneblom se oorklankingsateljees, Cobus. Ons was almal lief vir jou. Toe jy hierdie jaar met my verjaardag my nie bel nie, het ek ’n snaakse gevoel gekry ...” 

Meer oor:  Kyknet  |  Sauk  |  Henriëtta Gryffenberg  |  Annelize Van Der Ryst  |  Wim Vorster  |  Elma Potgieter  |  Cobus Visser  |  Magda Beukes  |  Huis Lelieveld  |  Akteurs  |  Oorklanking  |  Celebs  |  Komedie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.