Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Celebs
Connery: Vir talle bly hy dié James Bond

Sean Connery, wat tussen 1962 en 1983 in sewe Bond-prente gespeel en oor vyf dekades as akteur gewerk het, is vir baie mense nie net die eerste 007 nie, maar ook die enigste.

Van sy aanhangers glo vandag nog sy opvolgers kon nooit werklik sy skoene volstaan as dit by dié Britse geheime agent van die Bond-reeks kom nie.

Dié geliefde akteur is Saterdag in die Bahamas dood. Hy was 90 jaar oud en volgens sy seun, Jason, was hy in die laaste tyd nie baie gesond nie.

Heelparty familielede was in die laaste paar dae by hom, het Jason gesê.

Die Skotse akteur Sean Connery in 2005 by die Europese rolprenttoekennings in Berlyn waar hy vir sy lewenswerk vereer is. Foto: Reuters

Hy word ook oorleef deur sy vrou, Michelene, en nog ’n seun, Stephane.

Thomas Sean Connery is op 25 Augustus 1930 in Edinburgh, Skotland, gebore.

Hy het armoedig grootgeword en het op 13 die skool verlaat. Sy pa was ’n fabriekswerker en sy ma ’n huiswerker.

Connery het melk afgelewer, doodskiste gepoleer en messelwerk gedoen.

Hy het by die vloot aangesluit, maar is drie jaar later ontslaan omdat hy met maagswere gesukkel het.

Die lewe was allesbehalwe maklik vir dié jong man wat later tot ridder geslaan sou word en die wêreld as 007 aan sy voete sou hê.

Op sy arms was twee tatoeëermerke: “Scotland forever” en “Mum & Dad”.

Connery was bekend as ’n harde man en het ’n reputasie verwerf as iemand met wie jy nie lol nie.

Hy het op sy dag manalleen ’n bende van ses mense wat hom wou beroof, platgeslaan. Heel gepas vir die man wat later James Bond, licensed to kill, sou word.

Om aan die lewe te bly, het Connery alles gedoen wat oor sy pad gekom het: Hy het vragmotors bestuur, as menseredder gewerk, modelwerk gedoen en liggaamsbou in sy vrye tyd beoefen.

Jack Lord en Sean Connery in die James Bond-prent 'Dr. No'. Die prent is in 1962 gemaak. Foto: Getty

Hy het selfs byna ’n kontrak aanvaar om vir Manchester United sokker te speel, maar die toneelgogga het hom toe reeds gebyt.

In 1954 het hy ’n klein rol in ’n rolprent losgeslaan en sy akteursloopbaan het begin rigting kry.

Hy het groot naam gemaak as akteur toe die twee rolprentmakers, Cubby Broccoli en Harry Saltzman, die regte verkry om Ian Fleming se romans te verfilm en hy gekies is om die rol van die hoofkarakter te vertolk.

Fleming self was aanvanklik nie beïndruk deur Connery in die rol van James Bond nie en resensente was ook nie juis gaande oor hom nie.

Fliekgangers was egter dol oor Connery en Dr. No, die eerste in die reeks Bond-rolprente, was onmiddellik ’n treffer by die loket. Seks en hope aksie in eksotiese bestemmings was duidelik ’n wenresep.

Connery sou in nog ’n string Bond-prente speel, maar hy het later verkies om ook in ander rolprente te speel.

Van die ander prente waarin hy te sien was, is The Hunt for Red October, Highlander, Indiana Jones and the Last Crusade en The Rock.

Connery het oor vyf dekades as akteur gewerk en is in 1988 met ’n Oscar bekroon vir sy rol in die rolprent The Untouchables.

Hy is in 2000 tot ridder geslaan.

Hy het as akteur ’n fonds gestig om jong Skotse akteurs finansieel te ondersteun.

- BBC, The Guardian, Hello

Meer oor:  James Bond  |  Sean Connery  |  Sterf  |  Fliek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.