Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Celebs
‘Dankie, dr. Strauss,’ sê Jo en Rolene

Die sangsensasie Jo Black (36) en Rolene Strauss (25), voormalige Mej. Wêreld, sal Desember 2017 altyd onthou as ’n tyd van hoop.

Nes Jo in sy treffer “Bring die hoop weer terug” sing, skyn die son vir albei nou helderder.

Die gemene deler is D’Niel Strauss (35), Rolene se man en Jo se nuwe beste vriend. Die twee families is albei tans in Hartenbos vir die In Afrikaans-musiekfees.

Jo Black (36) en sy gesin, Dinieke (8), Miané (5) en vrou, Debbie (31), saam met Ro­lene Strauss (25) en haar seuntjie (amper een) en man, D’Niel (35), in Hartenbos, Suid-Kaap. ’n Besonderse vriendskap het tussen Jo en D’Niel ontstaan nadat hy Jo gehelp het om homself as ’n suksesvolle kunstenaar te vestig. Foto: Jacques du Preez

“ ’n Jaar gelede was ek net ’n sanger,” sê Jo aan Rapport. “Dinge het swaar gegaan en die geld was min. Maar D’Niel was een van die mense wat in my geglo het en my gehelp het. Hy is my mentor en ek vertrou hom met my hele lewe.”

Jo het in 2017 ná 16 jaar in die bedryf ’n sensasie geword met sy trefferalbum Skepe. Volgens Jo het D’Niel, ’n entrepreneur en aandeelhouer in die musiekmaatskappy Inhoud Huis Musiek, hom onder sy vlerk geneem en saam met die span van Inhoud Huis gehelp om ’n sukses van sy talent te maak.

Jo sê dis die eerste Kersfees in ’n lang tyd wat hy voel soos ’n goeie man vir sy vrou, Debbie (31), en pa vir hul dogters, Dinieke (8) en Miané.

“Ek sê altyd: Wees iemand wat almal soos ’n ‘iemand’ laat voel, want niemand verdien om soos ’n ‘niemand’ te voel nie.

“Hier is ons gesin nou lekker by die see. Verlede jaar het ons net by die huis gesit.”

D’Niel sê hy en Jo glo albei aan positiewe denke. “Mense is nogal geneig om my te bel wanneer hulle nie weet wat om te doen nie. En dan sê ek altyd vir hulle hou ’n dankbaarheidsjoernaal. Skryf elke dag een ding neer waaroor jy dankbaar is en kyk wat gebeur.”

Volgens Rolene is haar man se positiewe houding een van sy beste eienskappe. “Dis hoe D’Niel is. Hoewel ek medies geswot het, is hy eintlik die een wat almal dokter.”

Toe sy hoogswanger was en nog ’n jaar se studies in Bloemfontein moes voltooi, was hy haar rots.

“Verlede jaar dié tyd was so onseker. D’Niel was in die Kaap en ek in Bloemfontein.

“Ons seuntjie se geskatte geboortedatum was 3 Januarie. So ek het rondgewaggel en geknyp dat hy net binne bly tot 1 Januarie,” sê sy skertsend.

Hul seuntjie is ’n bondel vreugde. “My ma sê vir my ek weet nog glad nie van kinders grootmaak nie, want hy is heeltemal te maklik.”

Hoewel Rolene klaar gestudeer het, moet sy nog haar internskap en gemeenskapsdiens voltooi. Sy het spesiale uitstel gekry.

Maar vir eers is die enigste onmiddellike plan om te ontspan, sê D’Niel.

“Ons het ’n familietradisie dat ons elke jaar Kersdag saam om die tafel sit en dan moet elkeen sê waarvoor hy dankbaar is.

“Soms is dit moeiliker as ander kere en ons lag en huil baie saam.

“Maar op die ou end oorskadu die goeie altyd die slegte.”

suzanne.venter@rapport.co.za

Meer oor:  Jo Black  |  Rolene Strauss  |  Mej. Sa
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.