Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Celebs
‘Desperate housewife’ beken skuld oor omkoopgeld

Die aktrise Felicity Huffman het in trane uitgebars toe sy Maandag in die hof erken het dat sy $15 000 aan ’n “liefdadigheidsorganisasie” betaal het om haar dogter te help om beter punte in die SAT-toets te kry vir ’n beter kans om na ’n goeie universiteit toe te gaan.

Die aanklaer in die bedrogsaak vra dat Huffman, een van die sterre in die TV-reeks Desperate Housewives, vir vier maande tronk toe gaan, ’n boete van $20 000 betaal en 12 maande huisarres opgelê word.

Sy sal op 13 September gevonnis word, berig CNN.

Huffman was by die bedrognetwerk van Rick Singer betrokke, wat reeds erken het dat hy ryk ouers gehelp het om bedrog te pleeg sodat hul kinders beter punte kry in die SAT- gestandaardiseerde toets wat bepaal hoe gereed hulle vir universiteitstudie is. Hoe beter jou punte in die toets, hoe beter is jou kans om toegang tot ’n spoguniversiteit te kry.

Singer het ’n liefdadigheidsorganisasie gestig waarin die omkoopgeld betaal kon word.

felicity huffman
Felicity Huffman. Foto: Getty Images

Vir Huffman se $15 000 kon haar dogter langer aan die eksamen skryf en in ’n private plek met ’n omgekoopte toesighouer. Iemand het ook van haar foute reggemaak.

Haar dogter het toe ’n SAT-uitslag van 1 420 uit 1 600 gekry – sowat 400 punte meer as in haar voorbereidende SAT-eksamen.

Huffman het die hele bedrogspul met Singer oor die telefoon bespreek. Die oproep is opgeneem.

Huffman het in die hof gesê haar dogter het niks van die planne geweet nie en haar ekstra tyd was geregverdig. Haar man, die akteur William H. Macy, is nie aangekla nie.

Die persoon wat die verkeerde antwoorde reggemaak het, het ook reeds skuld beken, het NPR berig.

Huffman het verlede maand al om verskoning gevra.

“Ek aanvaar volle verantwoordelikheid en is hartseer en skaam oor wat ek gedoen het. Ek vra ook om verskoning aan die studente wat elke dag hard gewerk het om toegang tot ’n kollege te kry en ook aan hul ouers wat geweldige opofferings gemaak het om hul kinders eerlik te ondersteun.”

Sy hoop haar verskoning en skulderkenning sal ’n ligter vonnis tot gevolg hê.

Lori Loughlin, nog ’n Hollywood-aktrise, het glo $500 000 betaal sodat haar dogters deur die Universiteit van Suid-Kalifornië as lede van hul roeispan toelating tot dié universiteit kon kry. Sy ontken egter skuld. - Bykomende bron: BBC

Meer oor:  Felicity Huffman  |  Omkopery  |  Omkoopgeld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.