Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Celebs
Di-onderhoud spook ná 26 jaar nog by BBC

Probeer die BBC sy verantwoordelikheid vir die uitsending van ’n onderhoud met Diana, ontslape prinses van Wallis, 26 jaar gelede systap?

’n Dokumentêre rolprent deur die BBC se hoogaangeskrewe ondersoekende Panorama-span oor dié onderhoud wat Maandag 17 Mei uitgesaai wou word, is Sondag skielik deur die BBC onttrek.

Verlede week is ook aangekondig dat Martin Bashir (58), die BBC-joernalis wat in 1995 die eksklusiewe onderhoud met Diana beklink het, die BBC se diens verlaat weens gesondsheidsredes. Hy was sedert verlede jaar met siekteverlof ná hartchirurgie en komplikasies nadat hy die koronavirus opgedoen het.

Bewerings dat Bashir van vervalste bankstate gebruik gemaak het om Diana te oortuig dat van haar personeellede inligting oor haar aan die Britse geheime dienste verkwansel, sou in die nuwe Panorama-ondersoek bekyk word, berig die BBC.

Diana se broer, graaf Charles Spencer, het verlede jaar met skok gereageer ná die uitsending van ’n TV-dokumentêr Diana: The Truth Behind The Interview op Channel 4.

Daarin is beskryf hoe Bashir toegang tot Diana gekry het deur vervalste bankstate aan Spencer te wys.

Die bankstate het glo “bewys” hoe senior personeellede in die koningshuis inligting oor Diana aan die intelligensiedienste verskaf.

Spencer, ’n joernalis en skrywer, het noukeurige notas van Bashir se ontmoetings met hom en sy suster gemaak.

Diana se broer, Charles Spencer, het na die Spencers se landgoed, Althorpe, teruggekeer. Foto: Getty Images

Op grond van Spencer se aandrang, asook dié van haar oudste seun, prins William, het die BBC laat verlede jaar ’n ondersoek gelas. Dié ondersoek is pas afgehandel en die verslag van lord Dyson, op een na die mees senior regter in Engeland en Wallis, is reeds aan die BBC oorhandig.

Volgens die BBC sal die inhoud daarvan “binnekort” bekend gemaak word.

Bashir is in 1996 in ’n interne ondersoek van die BBC vrygeskeld van enige misdaad met die Diana-onderhoud. Volgens Spencer was die BBC daarvan bewus dat die bankstate vervals is, maar dat hulle dié inligting toegesmeer het, berig Reuters.

Die destydse ondersoek is gelei deur Tony Hall, wat later ’n lord geword het en nou die direkteur-generaal van die BBC is.

Die BBC het al verskoning gevra vir die gebruik van die bankstate, maar volgehou dat hy nie “ ’n rol gehad het in Diana se besluit om die onderhoud toe te staan nie”.

Die BBC het verlede jaar gesê ’n handgeskrewe nota van Diana, waarin sy ontken dat sy onder dwang was om die onderhoud te doen, is nie meer in hul argiewe nie. Later is gesê dié nota is weer gevind.

Diana 'vergiftig met leuens'

Martin Bashir, die BBC-joernalis wat die onderhoud met Diana gevoer het, het die diens van die BBC weens gesondheidsredes verlaat. Foto: Getty Images

Bashir se onderhoud met Diana is 26 jaar gelede in die geheim in haar woning in die Kensingtonpaleis opgeneem. Nie eens haar naaste vriende het geweet dat sy die onderhoud toegestaan het nie, maar Rosa Monckton, een van haar beste vriendinne, het gesê Diana se gedrag het verander nadat sy Bashir ontmoet het. “Sy was obsessief dat komplotte teen haar gesmee word.” Diana het Bashir drie maande voor die opname ontmoet.

Monckton se man, die gesiene oudkoerantredakteur Dominic Lawson, het in ’n meningstuk in die Daily Mail geskryf Bashir het Diana “vergiftig met sy leuens”. Volgens Lawson het Diana in Oktober – ’n maand voor die opname – gevrees daar is meeluisterapparaat op haar landlynfoon in die paleis geplant.

Danksy Spencer se noukeurige notas van sy en sy suster se ontmoetings met Bashir was dit ook duidelik dat Bashir aan Diana gesê het volgens sy “intelligensiebronne” word daar allerlei bose planne teen haar gesmee, onder meer dat William se polshorlosie hul gesprekke kan opneem.

Drie mense in koninklike huwelik

Die onderhoud met Diana, ontslape prinses van Wallis, is op 20 November 1995 uitgesaai. Martin Bashir, met sy rug na die kamera, het dié eksklusiewe onderhoud met haar beklink. Foto: Getty Images

Die onderhoud is destyds aan 23 miljoen mense wêreldwyd – ook in Suid-Afrika – regstreeks uitgesaai. In die onderhoud het Diana onder meer gesê daar was drie mense in haar huwelik – sy, prins Charles en sy minnares, Camilla Parker-Bowles (nou sy tweede vrou) – en dat sy self ontrou was met die oudsoldaat en haar perdryinstrukteur, James Hewitt.

Diana en Charles was tydens die opname reeds van tafel en bed geskei, maar koningin Elizabeth het ná die uitsending aan Charles geskryf en hom opdrag gegee om onmiddellik met ’n egskeiding te begin.

Die Britse polisie het in Maart vanjaar ná hul eie ondersoek gesê geen misdadige aanklagte sal teen Bashir aanhangig gemaak word nie.

Spencer het op Twitter kripties op die jongste herrie oor die onderhoud gereageer met ’n verwysing na die BBC se gebruik van die Engelse woorde vervalsing (forgery) en namaaksel (mock-up). Matt Wiessler, die grafiese kunstenaar wat die bankstate geskep het, het in November aan ITV gesê hy het gedink die bankstate is vir ’n rolprentstel.

In ’n Twitter-plasing Sondag oor die BBC se besluit om nie die jongste dokumentêre ondersoek van Panorama oor die Diana-onderhoud uit te saai nie, skryf Spencer sy raaiskoot is dat die direkteur-generaal van die BBC sy besluit om nie die program uit te saai nie, gaan regverdig deur eers lord Dyson se verslag uit te reik en dan te sê die ondersoekende program is nie meer releveant nie. – Aanvullende bronne: BBC.com, Charles Spencer/Twitter, Mail on Sunday, Mail Online, The Guardian.

Klik hier om die volledige transkripsie van Martin Bashir se onderhoud met Diana te lees.


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.