Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Celebs
Diana-beeld: Koninklike skietstilstand sal geld

Te midde van die koninklike drama in die Britse koningshuis sal daar eerskomende Donderdag ’n skietstilstand wees tussen die twee seuns van Diana, ontslape prinses van Wallis.

Diana, ontslape Prinses van Wallis, sou op 1 Julie haar 60ste verjaarsdag gevier het. Foto: Getty Images

Prins William en prins Harry, wat Vrydag uit Amerika in Brittanje aangekom het en vir vyf dae moet isoleer, sal elkeen ’n toespraak lewer met die onthulling Donderdag van ’n standbeeld op die dag wat Diana haar 60ste verjaarsdag sou vier.

Net ’n klein groepie mense het die afgelope vyf jaar, sedert William en Harry aangekondig het dat hulle hul ma met ’n standbeeld in Kensington-paleis se tuine wil vereer, insae in die vordering van die beeld gehad.

Die standbeeld is ontwerp deur Ian Rank-Broadley, wie se portrette van koningin Elizabeth op alle Britse munte pryk.

Nuwe inligting oor hoe erg William en Harry koppe gestamp het – Harry het selfs die foon in William se oor neergesit – het die afgelope week aan die lig gekom in uittreksels uit die koninklike kenner en skrywer Robert Lacey se bygewerkte boek, Battle of Brothers: William, Harry and the Inside Story of a Family in Tumult.

Lacey skryf dat Willliam, toe hy bewus geword het van die boeliebewerings teen Harry se vrou, Meghan, hertogin van Sussex, ’n woede-uitbarsting gehad het en gesê het: “Die manier wat daardie verdomde vrou my personeel behandel het, is meedoënloos.”

Die boeliebewerings het vanjaar openbare kennis geword dae voordat Harry en Meghan se opspraakwekkende onderhoud met Oprah Winfrey uitgesaai is.

The Times of Londen het dae voor die uitsending berig dat Jason Knauf, destyds die broers se kommunikasie-direkteur, in 2018 ’n senior paleisamptenaar ingelig het oor Meghan se beweerde boeliegedrag en dat twee persoonlike assistente reeds daaroor bedank het en ’n derde personeellid geteiken word. Die paleis het destyds niks aan dié bewerings gedoen nie.

Diana, ontslape prinses van Wallis, en prins Harry en prins William. Dit was haar wens dat Harry vir sy broer ’n steunpilaar sal wees wanneer hy die troon bestyg en dat hulle altyd beste vriende sal wees. Foto: Getty Images

Die Sussexe se aantygings tydens die onderhoud, onder meer dat prins Charles sy finansiële hulp aan hulle afgesny het nadat hulle na Amerika verkas het, is vandeesweek weerlê toe die finansiële state van sy huishouding bekend gemaak is.

Bewerings van institusionele rassisme is ook na die koningshuis geslinger, met Meghan wat gesê het verskeie gesprekke is met Harry gevoer oor die velkleur van hul toekomstige kinders.

William het nadat die boelie-aantygings aan die lig gekom het, sy broer gebel en dié het woedend gereageer en die oproep beëindig, waarna William na Harry se kothuis in die Kensington-paleis gestap het om met hom te praat.

Harry het glo gepleit dat niks aan die bewerings gedoen word nie. William het toe besluit dat hy en Harry afsonderlike huishoudings moet kry. Hul gesamentlike stigting is ook ontbind sodat die broers, soos Buckingham-paleis dit destyds gestel het, elkeen hul eie pad kan volg.

Donderdag sal die twee broers, wat Diana altyd gehoop het beste vriende en mekaar se steunpilare sal wees, egter die laaste paar maande se nydigheid agter hulle sit. Hulle sal ’n verenigde front voorhou ter wille van hul geliefde ma se nagedagtenis.

Die standbeeld van Diana, ontslape prinses van Wallis, sal in die gesonke tuin neffens Kensington-paleis geplaas word. Foto: Arlene Prinsloo

Net een joernalis, ’n kameraman en fotograaf sal die geleentheid bywoon. Harry het daarop aangedring dat geeneen van die koninklike korrespondente wat oor die koningshuis berig, die geleentheid bywoon nie.

Hy het tydens ’n podsending in Mei na die “toksiese Britse media” verwys en gesê sy lewe as koninklike was ’n kruising tussen dié van ’n sirkusdier en The Truman Show. Die akteur Jim Carrey vertolk in dié fliek die rol van ’n man wat onbewus daarvan is dat sy hele lewe eintlik ’n televisiereeks is.

Catherine, prins William se vrou en hertogin van Cambridge, sal na verwagting die verrigtinge bywoon. Sy word gesien as ’n vredemaker tussen die broers nadat sy met Harry begin gesels het ná prins Philip se begrafnisdiens in April. William het hom by hulle aangesluit voordat Catherine weggestap het sodat die broers privaat kon gesels.

Volgens Lacey het die broers egter verskriklik met mekaar baklei toe hulle die Windsor-kasteel instap.

’n Lugfoto van die blommesee buite Kensington-paleis se swart-en-goud vergulde hekke in die dae ná Diana se dood. Blomme sal nie by die nuwe standbeeld neergelê mag word nie, en sal deur paleiswerkers voor dié hekke geplaas word. Foto: Getty Images
Die see van blomme, plakkate en briefies buite Kensington-paleis in die dae ná haar dood op 31 Augustus 1997. Foto: Getty Images

Die broers wou graag van Diana se vriende en oud-personeellede ook na die geleentheid nooi, maar slegs ’n klein groepie mense sal weens Covid-19-inperkings nou die geleentheid bywoon, berig Hello.

Diana se susters, lady Sarah McCorquodale en lady Jane Fellowes, sal saam met hul broer graaf Charles Spencer die Spencer-familie teenwoordig.

Die twee broers gaan elk hul eie toespraak lewer, met Harry se toespraak wat heel moontlik sal fokus op die “toksiese” rol wat die media in haar lewe en uiteindelik dood gespeel het, terwyl William sal fokus op die positiewe rol wat sy ma in die wêreld gespeel het.

Die voetstuk vir die standbeeld is reeds in die gesonke tuin aangebring en die beeld sal binne die volgende paar dae daar geplaas word, maar natuurlik bedek word tot die onthulling.

Kensington-paleis het reeds gesê dat die standbeeld nie ’n plek gaan word waar mense blomme vir Diana kan neerlê soos in die dae ná haar dood toe ’n see van blomme buite Kensington-paleis neergelê is nie. Die blomme sal verwyder word en voor die hekke na die paleis – ook genoem die Diana-hekke – geplaas word.

Meer oor:  Prinses Van Wallis  |  Prins William  |  Diana  |  Prins Harry  |  Londen  |  Britse Koninklikes  |  Royals
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.