’n Standbeeld van Diana, ontslape prinses van Wallis, sal op wat haar 60ste verjaarsdag sou wees, volgende jaar in die gesonke tuin naas die Kensington-paleis onthul word.

Diana, ontslape prinses van Wallis, met die Lover’s Knot-tiara wat nou deur haar skoondogter, Catherine, hertogin van Cambridge, gedra word. Foto: Getty Images
Dit is dié einste tuin waar sy gereeld met die tuiniers gesels het voordat sy verder sou gaan stap of draf deur die park om die paleis – dikwels met ’n bofbalpet oor haar kenmerkende kapsel getrek sodat mense haar nie sou herken nie.
Prins Harry het ook in dié tuin sy verlowing aan Meghan Markle aangekondig. En met die 20ste herdenking van Diana se dood drie jaar gelede het die tuinierspan van die paleis hulde aan Diana gebring in die gesonke tuin.
Die oorwegende kleur in die tuin was wit, want, het Sean Harkin, die hooftuinier in 2017 aan Vogue gesê, Diana het met haar laaste fotosessie met Mario Testino wit en roomkleurige uitrustings gedra. Sy was ook lief vir wit lelies en wit en roomkleurige rose. Van haar mees ikoniese uitrustings was ook wit.
Vergeet-my-nietjies, die blommetjie wat haar jonger broer, graaf Charles Spencer kleintyd vir haar gepluk het, is ook in die tuin geplant.
Prins Harry het juis ook vergeet-my-nietjies uit sy tuin in sy destydse woning in die paleiskompleks gepluk om in Meghan se trouruiker te laat gebruik.

Op die vooraand van die 20ste herdenking van Diana se dood in 2017 het prins William, Catherine en sy broer, Harry, die gesonke tuin besoek. Foto: Getty Images

Prins Harry het ook die gesonke tuin gekies om sy verlowing aan Meghan Markle in November 2017 amptelik aan te kondig. Foto: Getty Images

Die gesonke tuin in 2017 is langs Kensington-paleis. Diana het gereeld hier met die tuiniers gesels voordat sy verder sou gaan stap of draf het. Foto: Getty Images
Harry en sy ouer broer, prins William, het in 2017 vir die eerste keer aangekondig dat hulle ’n standbeeld van hul ma wil laat maak. Destyds is gesê William wil die standbeeld laat oprig sodat hy elke dag daarna kan kyk.
Die twee broers het die afgelope Vrydag in ’n verklaring gesê die beeld sal op 1 Julie 2021, wat Diana se 60ste verjaarsdag sou wees, in die gesonke tuin onthul word.
Die twee broers het in op 30 Augustus 2017, die dag voor die 20ste herdenking van Diana se dood, saam met William se vrou, Catherine, die tuin besoek om na die huldeblyk te kyk.
Hoewel die publiek nie toegang het tot die tuin self nie, is daar al inhamme by die tuin geskep waar besoekers na die tuin kan kyk.

Daar word jaarliks op die dag van Diana se dood steeds blomme, sagte speelgoed en baniere teen die vergulde hekke van die paleis neergesit. Veral wit lelies, wat Diana altyd in haar blyplek in die paleis gehad het, word by die hekke geplaas. Foto: Getty Images
Met die herdenking van Diana se dood Maandag sal talle besoekers waarskynlik weer ruikers, blomme en sagte speelgoed voor die goue hekke van die paleis plaas as herinnering aan die ikoniese Diana.
Diana is op 31 Augustus 1997 dood nadat sy in ’n motorongeluk in die Franse hoofstad, Parys, betrokke was. Die motor het probeer wegjaag van steelfotograwe wat foto’s van Diana en haar kêrel, Dodi Fayed, wou neem.