Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Celebs
Diana se vriendin loof William, sê BBC was ‘misdadig’

Prins William se sterk bewoorde verklaring oor ’n ondersoek na sy ma, Diana, se opspraakwekkende Panorama-onderhoud is Donderdag deur een van haar beste vriendinne geloof.

Rosa Monckton, wat ’n week voor Diana se dood in Augustus 1997 nog saam met haar in die Mediterreense See vakansie gehou het, het Donderdag aan ITV News gesê William doen wat enige seun in sulke omstandighede sou wou doen, en dit is om vir sy ma op te kom.

Prins William, Diana, ontslape prinses van Wallis, en prins Harry in Mei 1995. Foto: Getty Images

“Enige seun sou graag in sulke omstandighede vir sy ma wou opkom, maar vir William en die Kensingtonpaleis om so ’n verklaring uit te reik . . . Ek dink dit wys hoe diep hy by die storie betrokke is en hoe sy ma behandel is.”

Die Panorama-onderhoud is volgens Diana se broer, graaf Charles Spencer, onder valse voorwendsels bewerkstellig.

Rosa Monckton en haar man, Dominic Lawson. Foto: Getty Images

Martin Bashir, die onderhoudvoerder, het Diana volgens Spencer met vervalste dokumente en allerlei versinsels omgepraat om die onderhoud aan die BBC se Panorama-program toe te staan.

Spencer, ’n oudjoernalis en geskiedenisskrywer, het sorgvuldig notas gemaak van al sy ontmoetings met Bashir. Hy het vroeër vandeesmaand uitgepraat ná die uitsending van Diana, The Truth Behind the Interview waarin die joernalis Andy Webb die BBC onder kruisverhoor geneem het oor dokumentasie oor die vervalste bankstate. Spencer het gesê hy het geweet die bankstate is vervals, maar het nie geweet die BBC het dit ook geweet nie.

Prins William verwelkom die ondersoek na hoe die BBC die onderhoud met sy ma, Diana, ontslape prinses van Wallis, bekom het. Foto: Getty Images

William se verklaring, wat Woensdagaand uitgereik is, wys hoe seer die onderhoud ’n kwarteeu gelede hom as 13-jarige gemaak het, en dat dit steeds by hom spook. Volgens ingeligte bronne het hy die afgelope twee weke druk op die BBC geplaas om agter die kap van die byl te kom.

’n Afgetrede senior regter, lord Dyson, gaan nou ’n ondersoek doen na hoe die onderhoud bekom is en latere besluite van die BBC ondersoek.

Die onderhoud is destyds in geheimhouding in die Kensingtonpaleis opgeneem. Nie eens Monckton het daarvan geweet nie.

Diana, ontslape prinses van Wallis, gedurende die onderhoud. Martin Bashir sit met sy rug na die kamera. Die onderhoud is in die geheim in haar sitkamer in die Kensingtonpaleis gevoer. Foto: Getty Images

Diana het gedurende hul laaste vakansie saam aan Monckton gesê sy is jammer dat sy die onderhoud toegestaan het omdat sy haar seuns baie seergemaak het daardeur.

Dit is vandag presies 25 jaar gelede dat die onderhoud wêreldwyd uitgesaai is en dae lank voorbladnuus was.

Monckton sê in die onderhoud met ITV News Diana is die hele tyd gevra om onderhoude toe staan, maar sy het nie en dat die Panoroma-onderhoud op ’n bedrieglike wyse bekom is. “Hulle het baie geld met die program gemaak. Bashir se loopbaan is op die onderhoud gebou.”

Diana het gedurende die onderhoud gesê daar is drie mense in haar huwelik, ’n vingerwysing na prins Charles se verhouding met Camilla Parker-Bowles. Foto: Getty Images

Sy sê deur van vervalste dokumente gebruik te maak om Diana op ’n bedrieglike wyse te dwing om die onderhoud toe te staan, is ’n strafregtelike oortreding.

Vervalste bankstate is onder meer gebruik om by Spencer en Diana die indruk te wek dat werkers in hul huishoudings inligting oor Diana aan die geheime diens verklap.

Monckton sê sy het agtergekom Diana se gedrag het verander in die tyd wat Bashir haar in September en Oktober 1995 gekontak het. “Sy was skrikkerig, sy was senuagtig, sy het gedink sy word agtervolg. Ek bedoel sy was regtig buitengewoon anders. Ons het almal geweet iets is fout, maar ons kon nie ons vinger daarop lê nie.”

Graaf Charles Spencer sê hy het besluit om oor die vervalste dokumente te praat omdat hy eers onlangs bewus geword het dat die BBC geweet het die dokumente is vervals. Foto: Getty Images

Ook Monckton se man, die joernalis Dominic Lawson, het in sy rubriek in The Daily Mail geskryf die leuens wat Bashir aan Diana vertel het, verklaar uiteindelik hoekom Diana so paranoïes in dié tyd was. Daar is volgens Lawson selfs aan haar gesê dat William ’n horlosie het wat hul gesprekke kan opneem.

Diana het in dieselfde tyd aan Monckton gesê sy verander haar landlynnommer weens vrese dat sy afgeluister word.

Martin Bashir is reeds geruime tyd met siekteverlof weens onder meer ’n hartoperasie en die koronavirus. Foto: Getty Images

Hoekom was die onderhoud so opspraakwekkend?

Diana verlaat in November 1995 die Chelsea Harbour-klub waar sy gereeld gaan oefen het. Foto: Getty Images

In die onderhoud wat op 25 November 1995 wêreldwyd uitgesaai is en in Brittanje alleen deur 23 miljoen mense gekyk is, het Diana onder meer gesê “daar is drie mense in my huwelik”, met verwysing na prins Charles se verhouding met Camilla Parker-Bowles, nou sy vrou, dat prins Charles nie ’n geskikte koning sal wees nie en dat sy self ontrou was met die oudsoldaat James Hewitt. Sy het ook gesê sy besef sy sal nooit koningin word nie, maar dat sy graag “die mense se koningin van harte sal wil wees”.

Aanvullende bronne: Diana Her True Story van Andrew Morton, ITV.com; bbc.com

Meer oor:  Bbc  |  Prins William  |  Prins Charles  |  Prinses Diana  |  Londen  |  Engeland  |  Koning  |  Paleis  |  Prinses  |  Prins
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.