Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Celebs
Dié 2 Mej. SA-finaliste kan dit ver bring – kenner
Chantelle Pretorius (links) en Jordan van der Vyver. Foto: Yolanda van der Stoep

Onder die top-tien-vroue wat vanjaar om die Mej. SA-kroon meeding, is twee dokters, ’n voedselwetenskaplike, bemarkers, studente, ’n onderwyseres en twee internasionale modelle.

Chantelle Pretorius van Pretoria en Jordan van der Vyver van Kaapstad, albei 24, is heeltydse internasionale modelle wat gewoond is daaraan om oorsee te reis en vir die kamera te poseer.

Albei se loopbane het reeds vroeg in hul lewens begin en hulle is gewoonlik sowat ses maande elke jaar oorsee.

Chantelle Pretorius van Pretoria, Gauteng

Chantelle Pretorius van Pretoria, Gauteng Foto: Instagram/Chantelle Pretorius

Haar loopbaan het begin toe sy 17 was. “’n Modelagentskap het my raakgesien en het vir hulle begin werk om ’n bietjie sakgeld te verdien.

“Nadat ek my eerste jaar in B.Com (beleggingsbestuur) aan die Universiteit van Pretoria voltooi het, het ek ’n kontrak met ’n agentskap in Londen geteken. Pas nadat ek 20 geword het, het ek drie maande in Londen gaan werk. Sedertdien reis ek die afgelope vier jaar nou en dan, en studeer nou deeltyds.”

Sy geniet dit om kommersiële werk te doen omdat sy kan glimlag en gelukkig lyk. “Dit pas by my persoonlikheid en ek kan die hele dag net myself wees!”

Ek kan Pretorius maklik sien as Mej. Heelal. Sy kan maklik die topvyf of topdrie haal, en selfs wen.

Haar portefeulje op die modelagentskap Boss Models se webtuiste reflekteer dit. Op die meeste van haar foto’s glimlag sy, steek tong uit of staan met haar hande sorgeloos in haar hare.

Baie van die foto’s is ook van haar in die water of op die strand of in ’n swembad geneem. Benewens sommige ernstige, gestileerde foto’s, is daar ook informele oomblikke waar Pretorius breed glimlag agter die stuurwiel of kruisbeen met ’n denim en wit tekkies aan sit.

Portugal is een van haar gunsteling-lande om vir werk heen te reis. “Ek gaan gereeld vir sessies na Guimaraes, ’n klein dorpie in Portugal. So dit voel al half soos my tweede huis.

“Een van die beste dinge van Portugal is dat dit klein is. Jy kan maklik verskillende stede en dorpe met verskillende landskappe op een dag beleef.”

As sy in die buiteland is, mis sy haar land se weer, kos en “bekostigbare lewenstyl” die meeste.

Jordan van der Vyver van Groenpunt, Wes-Kaap

Jordan van der Vyver van Groenpunt, Kaapstad Foto: Yolanda van der Stoep

Sy doen al modelwerk van 14-jarige ouderdom af. Vier jaar later het sy ’n heeltydse model geword.

Sy is goeie vriende met Lou-Marie Taljaard (26), ook ’n internasionale model en ’n Mej. SA-finalis in 2017.

Van der Vyver is sedert November 2016 verloof aan Christopher Lange. Die paartjie sou op 20 Mei vanjaar getrou het, maar die Covid-19-pandemie het hul planne in die wiele gery.

Hoewel die wenner van Mej. SA nie getroud mag wees nie, maar sy wel verloof wees. Lange se ma is Sandy McCrystal, die Mej. SA van 1980.

Sy geniet dit veral om aan bemarkingsveldtogte te werk wanneer sy modelwerk doen.

“Dit word gewoonlik op asemrowende plekke geskiet, en jy voel of jy ’n gratis vakansie kry op ’n plek wat jy nooit andersins sou besoek nie. Dit verbreed jou horisonne.”

Op ’n gewone dag sal sy vroeg opstaan en gaan oefen, waarna sy met ’n skoon gesig, hare en naels na die stel gaan. Terwyl haar hare en grimering gedoen word, eet sy ’n vrug of twee en drink koffie. Dan begin die fotosessies, een in die oggend en een ná middagete. Sy kan dan huis toe gaan om aandete te maak en ’n bietjie te lees.

As sy die dag af het, sal sy nie sommer alleen rondloop om plek te verken nie. “Ek hou nie daarvan om alleen nuwe plekke te verken nie omdat ek niemand het om die ervaring mee te deel nie.”

’n Foto van Pretorius waar sy modelwerk vir die ontwerpersreeks Bibi Lou doen. Foto: Instagram/Chantelle Pretorius
Pretorius op die loopplank Foto: Instagram/Chantelle Pretorius
Van der Vyver en haar verloofde, Christopher Lange. Lange se ma is Sandy McCrystal, Mej. SA van 1980. Die paartjie is sedert 2016 verloof. Foto: Instagram/Jordan van der Vyver
Van der Vyver (voor) op die loopplank Foto: Instagram/Jordan van der Vyver

Siera Bearchell, Mej. Kanada 2016 wat deesdae beskou word as ’n meningsvormer en kommentator van skoonheidskompetisies, meen sowel Van der Vyver as Pretorius staan ’n goeie kans om sukses op die internasionale verhoog te behaal.

“Ek kan Pretorius maklik sien as Mej. Heelal. Sy kan maklik die topvyf of topdrie haal, en selfs wen.”

Oor Van der Vyver sê sy: “Dié vrou lyk asemrowend op haar foto’s. Sy weet presies hoe om met die kamera te werk. Sy kan baie maklik Mej. Supranasionaal wen.”

Die topdrie van die Mej. SA-kompetisie gaan vanjaar die land vir die eerste keer in die wêreld se drie grootste skoonheidskompetisies – Mej. Heelal, Mej. Wêreld en die Mej. Supranasionaal – verteenwoordig.

Bearchell se gunstelinge vanjaar is Van der Vyver, Pretorius, Aphelele Mbiyo (Oos-Kaap), Melissa Nayimuli (Oos-Kaap) en Natasha Joubert (Gauteng).


Meer oor:  Mej. Sa  |  2020
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.