Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Celebs
'Die coolste dude' volgens Piet Botha

“Daardie konsert was my enigste religious experience”, sê digter en musiekskrywer Danie Marais oor ’n konsert deur Piet Botha, wat Sondag aan pankreaskanker dood is, en sy band Jack Hammer jare gelede in Pretoria.

’n Mens moenie die bydrae onderskat wat Botha gelewer het nie, sê Marais.

Piet Botha is Sondag aan pankreaskanker dood. Foto: Edrea du Toit
Danie Marais

“Hy en Anton Goosen is eintlik die voorlopers van rock in Afrikaans, hoewel hulle nie deel van die Voëlvry-toer van 1989 was nie.”

Botha (63) was voorheen lid van die groep Wildebeest en het heelwat later in sy loopbaan eers Afrikaanse albums uitgereik.

Met sy musiek het Botha ’n invloed op Marais gehad en Marais reken dat ander bands ook deur hom beïnvloed is.

Piet Botha
Deon Maas Foto: Jaco Marais

“Hy was ’n pionier in die bevryding van Afrikaans. Hy het ’n boegbeeld van rock geword in die sin om aan jou wortels getrou te bly. Ek het dit nou die dag op Facebook ook geskryf: ‘Piet Botha het soos weerlig aan my gevat toe ek 16 was. Ek gloei steeds. Sy groot reverb gaan ons nog lank voel’.”

Die skrywer en musiekjoernalis Deon Maas onthou Botha as ’n vrydenkende kunstenaar.

“Wat ek van hom gehou het is dat hy weg van die establishment beweeg het. Hy het besluit om nie vir die kommersiële mark te voorsien nie. Hy was betrokke by die eerste mengsel van Afrika-rock.”

Die band Wildebeest het Afrika-rock teweeg gebring, hoewel dit deur blues beïnvloed is.

Wildebeest het op die reeks Kraaines in kakieklere die lied “Bushrock” gesing toe Botha nog nie ’n lid van die groep was nie.

“Dit belangrik om onthou dat Piet ’n refleksie is van die kinders wat in die 1960’s en 1970’s grootgeword het en blootgestel is aan die eerste golf van apartheid wat hulle bevoordeel het,” sê Maas.

“Hy is van die geslag wat begin vrae vra het waarvoor mense die verkeerde antwoorde gegee het. ‘Goeienag, generaal’ is dalk die belangrikste anti-oorloglied tot nog toe.”

Maas het ook met Botha op die televisiereeks Jam Sandwich gepraat.

“Piet het gesê dit sal vir hom goed wees as hy nie beskryf word as die seun van die voormalige minister van buitelandse sake (Pik Botha) nie. Ons het dit toe nie genoem nie. Ek het ’n soort skuldgevoel by hom vermoed; dis ’n swaar las om te dra.”

“Hy het nie verniet in een van ons gesprekke Marais ‘die coolste dude’ genoem nie.”

Maas sê Botha het nie aan enige grootheidswaan gely nie.

“Hy het nie verwag iemand móét ’n storie oor hom doen omdat ’n nuwe album uitgereik is of so iets nie. En hy het alles na so min moeite laat lyk. Hy het ’n eenvoudige aanslag gehad.”

Johann Lodewyk Marais

Die skrywer en letterkundige Johann Lodewyk Marais het met Botha oor die digter en natuurkenner Eugène Marais op die kykNET-reeks Wie lê waar? gesels.

Botha was die aanbieder van die eerste seisoen van die reeks waarin die grafte van bekende figure besoek is.

Botha het die grafte van Marais en sy vrou, Lettie, in die Heldeakker in Pretoria besoek.

“Ons moes swart aantrek vir die geleentheid,” sê (Johann Lodewyk) Marais. “Tydens die gesprek was daar iets onrustig om ons. Ons het immers oor Eugène Marais gepraat.

“Piet Botha se liedtekste is vol van die simbolisme en Marais se werk is dikwels onder die oppervlak aanwesig, veral in sy laaste album, Die middernagtrein. Hy het nie verniet in een van ons gesprekke Marais ‘die coolste dude’ genoem nie.”

Marais het Botha lank gelede op die KKNK op Oudtshoorn hoor optree.

Piet Botha was onder meer lid van groepe soos Jack Hammer en Wildebeest. Foto: Edrea du Toit

“Intens, dromend, melancholies,” onthou Marais. “Het ek my verbeel of was daar in sy lirieke ondertone van Marais se werk, het ek in die skemer van dié aandvertoning gewonder. Ek was toe juis besig om ’n proefskrif oor Marais te skryf.”

Hulle was saam op ’n vliegtuig op pad terug.

“En ons ontdek toe dat ons nie ver van mekaar af nie in die noorde van Pretoria woon. Ons sou baie gesels. Dieselfde drankwinkel besoek. Gewoonlik was ons aanknopingspunt ‘om buite die stad te woon’. Of sy tannie, die gedugte letterkundige prof. Elize Botha, in wie se department ons albei honneursgrade gedoen het. En natuurlik die enigmatiese Eugène Marais.”

Lien Botha

Botha se suster, die skrywer en fotograaf, Lien Botha, onthou sy eerste band “in die motorhuis aan die voet van die Magalies”.

“Dis waar ek kennis gemaak het met die oerknal; snare wat die hemele roer. Van daar af was dit miracle en wonder al die pad. Piet en die vele musikante wat deel was van sy bekoorlike tapisserie: Wildebeest, Raven, Catherine Wheel, Jack Hammer, Lyzyrd Kyngs – magiese wesens midde ’n bekrompe wêreld. Hulle het die deure oopgemaak sodat sonlig kon inval.”

Meer oor:  Eugène Marais  |  Piet Botha  |  Kyknet  |  Musiek  |  Pik Botha  |  Danie Marais  |  Deon Maas  |  Sangers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.