Ongelukkigheid, bitterheid en wanhoop was van die redes hoekom Brittanje se eens lieflingprins, Harry, en sy vrou, Meghan, hul rug op die Britse koningshuis gekeer het.
En Harry, nie Meghan nie, was die dryfveer agter die Sussex-egpaar se soektog na vryheid en ’n nuwe lewe buite die paleismure waar tradisie en rangorde die wagwoord is.
Só skryf Omid Scobie en Carolyn Durand in Finding Freedom, die langverwagte boek waarin die Sussexe se weergawe van hul dramatiese skeiding van die Huis van Windsor weergegee word.

Finding Freedom, Omid Scobie en Carolyn Durand se boek oor die redes hoekom prins Harry en Meghan, hertogin van Sussex, 'n lewe buite paleismure wil bou.
In die eerste van drie uittreksels wat Saterdag in die Britse The Times gepubliseer is, word vertel hoe bitterheid, jaloesie en intense mededinging tussen senior koninklikes en hul onderskeie amptenare bygedra het tot Harry en Meghan se besluit om as senior koninklikes terug te staan.
Dié skokaankondiging in vroeg Januarie vanjaar het volgens die boek as geen verrassing vir paleisamptenare gekom nie, omdat die prins reeds voor die Kersvakansie aan sy ouma, koningin Elizabeth, en prins Charles te kenne gegee het dat hy en Meghan oor hul toekomsplanne wil besin.

Die begin van ’n sprokie wat binne ’n paar jaar in ’n media-nagmerrie vir die Britse koningshuis ontaard het. Prins Harry en Meghan met die amptelike aankondiging van hul verlowing op 27 November 2016. Foto: Getty Images
Verrassingsbesoek
Die paartjie wou ná hul lang Kersvakansie in Kanada ook na Sandringham reis waar die koningin met vakansie was om met haar te praat, maar het besef só ’n verrassingsbesoek sou ’n groter opskudding veroorsaak het.
Hul besluit om in Kanada te gaan asem skep oor die Kersvakansie en nie saam met die koningin en die res van die gesin Kersfees te vier nie, het reeds verlede jaar opslae in die pers gemaak.
Die feit dat die koningin die telefoon moes optel om haar kleinseun te vra of hy en sy gesin wel Kersfees op Sandringham sou wees – Scobie en Durand bevestig dit – was ’n aanduiding hoe ver Harry toe reeds van sy familie vervreem was. (Daar word vertel dat die koningin nie sommer die telefoon optel nie, jy bel gewoonlik die koningin!)
View this post on Instagram
“After many months of reflection and internal discussions, we have chosen to make a transition this year in starting to carve out a progressive new role within this institution. We intend to step back as ‘senior’ members of the Royal Family and work to become financially independent, while continuing to fully support Her Majesty The Queen. It is with your encouragement, particularly over the last few years, that we feel prepared to make this adjustment. We now plan to balance our time between the United Kingdom and North America, continuing to honour our duty to The Queen, the Commonwealth, and our patronages. This geographic balance will enable us to raise our son with an appreciation for the royal tradition into which he was born, while also providing our family with the space to focus on the next chapter, including the launch of our new charitable entity. We look forward to sharing the full details of this exciting next step in due course, as we continue to collaborate with Her Majesty The Queen, The Prince of Wales, The Duke of Cambridge and all relevant parties. Until then, please accept our deepest thanks for your continued support.” - The Duke and Duchess of Sussex For more information, please visit sussexroyal.com (link in bio) Image © PA
A post shared by The Duke and Duchess of Sussex (@sussexroyal) on
Harry, Meghan staan nie onderhoude toe
Harry en Meghan het net ’n handvol vertrouelinge binne die paleismure gehad en die nuus dat hulle oor hul koninklike toekoms besin, is, soos Harry gevrees het, uitgelek aan die poniepers, in dié geval The Sun.
Scobie en Durand sê in ’n onderhoud met The Times dat alle onthullings in die boek deur twee bronne gestaaf kan word, maar ontken op vrae van Low dat Harry of Meghan eerstehandse bronne is en onderhoude aan hulle toegestaan het.

Die paartjie se gewildheid het ná hul troue op 19 Mei 2017 in Windsor “rocksterstatus’’ bereik en prins Harry en Meghan het gevoel hulle wil meer seggenskap oor hul koninklike bedrywighede hê, maar is deur paleisamptenare weerhou om dit te doen. Foto: Getty Images
Die begin van die onmin
Die onmin tussen William en Harry, eens verenig in die hartseer ná die dood van hul ma in 1997, het begin toe William die spoed van Harry en Meghan se blitsverhouding bevraagteken het.
Meghan en Harry het ook gevoel dat Catherine, wat met die Sussexe se verlowing swanger was met haar derde kind, Meghan nie genoegsaam in die familie verwelkom en ondersteun het nie.
Catherine en Meghan het ook dae voor die troue vasgesit oor of die blommemeisies – waarvan prinses Charlotte een was – sykouse op die troue moes dra. Catherine was glo in trane. Die blommemeisies het toe wel kaalbeen hul take op die troue verrig.
Benewens die Sussexe se besluit om nie in die wooneenheid langs dié van die Cambridges in Kensingtonpaleis in te trek nie en hul eie koninklike stigting te begin, wou die Sussexe ook hul eie koninklike hof begin. Hulle is in hul spore gestuit deur die paleis en moes teen hul sin hul kantoor onder Buckinghampaleis se vaandel laat inskuif, eerder as om onafhanklik van Buckinghampaleis hul werksaamhede en openbare beeld te poets.

Daar was tydens koningin Elizabeth se Kerstoespraak verlede jaar geen foto van die Sussexe op haar lessenaar nie. Foto: Getty Images
Die foto’s op die koningin se tafel
Harry het ook gevoel van die ouer garde is gekant teen Meghan en sou enigiets doen om dinge vir haar te bemoeilik.
Nóg olie op die vuur was omdat daar tydens die koningin se Kerstoespraak geen foto van die Sussexe of hul eersteling, Archie, sigbaar was op die koningin se lessenaar nie. Kort daarna is ’n foto van die koningin en haar drie opvolgers (prins Charles, William en prins George) uitgereik. Harry het uitgesluit gevoel.

Prins Harry en Meghan, hertogin van Sussex, was ongelukkig toe hul name uit die program gelaat is vir hul laaste verskyning as senior koninklikes. In die program word die volgorde van hoe lede van die koninklike familie die Westminster-abdy sou inkom, aangedui. Prins William het Harry gegroet, maar sy vrou, Catherine, hertogin van Cambridge, het glo oogkontak met Meghan vermy. Die Cambridges het omgedraai om met prins Edward en sy vrou, Sophie, te praat, maar nie met die Sussexe gepraat nie. Foto: Getty Images
Geen oogkontak
Verhoudings het verder só vertroebel dat die paartjies met hul laaste verskyning saam in Maart vanjaar nie met mekaar gepraat het nie. Die geleentheid was ’n diens ter viering van die Statebond in die Westminsterabdy
Dit was ook Harry en Meghan se laaste koninklike verpligting.
Benewens die feit dat Harry en Meghan se name uit die amptelike program gelaat is, het William sy broer vinnig gegroet, maar Catherine het oogkontak met Meghan vermy toe dié haar skoonsuster wou groet.
Die Cambridges het ook omgedraai om met prins Edward en sy vrou, Sophie, te gesels, maar nie met die Sussexe nie.
Die spoke van Diana
Die publisering van die boek word reeds deur koninklike volgelinge en kenners beskryf as ’n herhaling van wat Harry se ma, die ontslape Diana, prinses van Wallis, in 1992 gedoen het toe sy saam met die joernalis Andrew Morton gewerk het aan die opspraakwekkende boek Diana: Her True Story.
Dié boek, waarin Diana onder meer oor die verbrokkeling van haar huwelik met prins Charles en sy verhouding met sy minnares, Camilla Parker-Bowles, praat, het die monargie destyds groot skade berokken.
Ek het my hele lewe vir die familie opgeoffer.
MEGHAN
Finding Freedom sal na verwagting weer onaangename publisiteit vir die koningshuis besorg, asook kritiek dat Harry en Meghan dit nodig geag het om, hoewel hulle nie self onderhoude aan die skrywers toegestaan het nie, hulle vriende en vertrouelinge toestemming gegee het om hul mondstukke te wees.
Die paartjie is tans gewikkel in verskeie hofsake met die media. Meghan dagvaar Associated Newspapers omdat hulle uittreksels uit ’n brief aan haar vervreemde pa, Thomas Markle, gepubliseer het. Sy probeer ook verhoed dat haar vyf vriende wat met die tydskrif People gepraat het om haar te verdedig en melding van dié brief gemaak het, in die hofsaak geïdentifiseer word.
In hul jongste regsgeding word ongenoemde steelfotograwe gedagvaar omdat daar met ’n hommeltuig oor hul huurwoning in Los Angeles gevlieg is om foto’s van Archie te bekom.
Van die onthullings in Finding Freedom is:
• Harry het gevoel sy familie beskerm hom nie genoeg nie. Hy het gevoel daar word binne paleismure op hom neergesien omdat hy “te sensitief en uitgesproke” is.
• Hy het net soos sy ma, Diana, ontslape prinses van Wallis, gevoel senior paleisamptenare in diens van ander senior koninklike huishoudings lê hom en Meghan aan bande.
• Meghan het aan ’n vriendin gesê: “Ek het my hele lewe vir die familie opgeoffer. Ek was bereid om alles moontlik te doen. Maar hier is ons. Dit is baie hartseer.”

Onmin oor die tiara . . . Ongelukkigheid het kort voor die troue reeds begin opbou. Prins Harry het glo aan koningin Elizabeth se stilis en modeontwerper Angela Kelly gesê: “What Meghan wants, Meghan gets.” Die koningin moes ingryp nadat Meghan ’n ander tiara met haar troue wou dra as wat aangebied is. Foto: Getty Images
• Hoewel Harry die rangorde in die koningshuis verstaan, het hy en Meghan gefrustreerd geraak wanneer hulle iets wou doen en moes wag omdat ’n meer senior lid van die gesin se toer of werksaamheid aangekondig moes word.
• Senior amptenare in die ander huishoudings in die koningshuis het gevoel die Sussexe se “rocksterstatus’’ en gewildheid kan dié van meer senior lede van die koningshuis oorskadu.
• Toe Harry en Meghan ná Kersfees van Kanada na Londen teruggekeer het, wou hulle direk ná hul vlug na Sandringham ry om met die koningin te praat, maar hulle het besef so ’n verrassingsbesoek sonder ’n afspraak sou ’n opskudding veroorsaak.
• Harry het desperaat probeer om in Januarie vroeër met sy ouma te praat, maar omdat die koningin met vakansie op Sandringham was, het die koningin se amptenare gesê hy sal eers einde Januarie geleentheid kon kry om met die koningin te praat.
• Meghan het oor kritiese beriggewing in die Britse poniepers gesê dit is soos “death by a thousand cuts’’.
• William en Catherine was ontsteld omdat private familie-aangeleenthede in die openbaar gelug is. “Dit is nie woede nie,” sê ’n bron aan Scobie en Durand. “Dit is hartseer.”
Bykomende bronne: The Times, The Telegraph, Finding Freedom
LUISTER:
Totsiens, maar nie vaarwel aan Harry en Meghan