Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Celebs
Dis hoekom aktrise Simoné nou eers baba wys

Hoewel die aktrise Simoné Pretorius (née Nortmann) se aanhangers saam met haar bly was oor haar eersteling se geboorte, was sommige vies oor die manier waarop sy en haar man, Andries, die baba aan die wêreld bekend gestel het.

Simoné het ’n foto van Harper Harvest se agterkop met haar byna 200 000 Instagram-volgelinge gedeel nadat sy op 3 Mei gebore is. Simoné het niks verder gesê nie, en veral een aanhanger was vies.

“Ons moes van dag een van jul swangerskap elke foto sien, elke groei van die boepie van klein na groot,” het die aanhanger gesê.

“Ons het dit tot die einde toe getrou gevolg, opgewonde saam met julle. Uiteindelik breek die dag aan en ons word beloon met ’n foto van ’n oor en ’n agterkop . . . Ek was so teleurgesteld.”

Een van die eerste gesigfoto’s van Harper Harvest Pretorius wat haar ouers van haar gedeel het. Foto: Instagram/Simoné Pretorius

Andries het die ontevrede aanhanger se boodskap raakgesien en ’n skermgreep daarvan op sy eie profiel gedeel, maar nie daarop kommentaar gelewer nie.

Die aanhanger sê verder: “Ek wou so graag vir sussie sien. Sy het ’n mooi oortjie en ’n pragtige bos hare. Maar Simoné, jy het gekies om alles met ons te deel, net om ons met so ’n foto te beloon? My belangstelling is toe net daar weg.

“Of het dit gegaan oor die aandag wat jy kry? Nie regtig mooi van jou nie.”

Die heel eerste foto van Harper Harvest se hare wat sommige aanhangers ontstel het. Foto: Instagram/Simoné Pretorius

Simoné het aan Netwerk24 gesê sy het verkies om ’n foto van baba Harper se donker hare te deel omdat dit vir haar besonders is.

“Ek het nege maande lank gesukkel met die ergste sooibrand van my hele lewe. Almal het altyd gesê sy gaan baie hare hê, en sy het wraggies uitgekom met ’n bos hare.

“Dit was die idee agter die lusmakertjie wat ons gedeel het,” sê sy. “Ons het ’n bietjie gewag om die nuus te deel, want dit is ’n groot oomblik en ons wou eers die tyd saam geniet.”

Simoné het ook die aanhanger geantwoord en gesê: “Ai askies, ek kan dink dit kom baie selfsugtig oor. En dalk was dit. Ons oortuiging was om haar vir ’n week net vir onsself te hou en elke oomblik in te drink, en ek is nie eintlik jammer daaroor nie.

“Dié foto was net ’n ‘sy’s hier’-aankondiging. Die plan is om foto’s te deel. Sy’s in elk geval heeltemal te cute om nie vir die wêreld te wys nie.”

Die aktrise Simoné Pretorius en haar man, Andries, net ná hul eersteling, Harper Harvest, se geboorte. Foto: Instagram/Simoné Pretorius

Ná Simoné se antwoord en nadat verskeie ander aanhangers gesê het niemand is geregtig op inligting oor die paartjie en hul baba nie, het die ontstoke aanhanger weer geantwoord en gesê: “Ek verstaan, dis oukei, ek dink ek was ook net oorgretig. Vat jou tyd.”

Harper is verlede Maandag op 39 weke en drie dae in die Genesis Maternity Clinic in Rosebank, Johannesburg gebore nadat Simoné se kontraksies reeds die Sondag omstreeks 23:00 begin het.

“Die geboorteproses was sowat 18 uur lank,” sê Simoné en lag. “Dit was ’n baie wilde rit, maar ongelooflik!

“Dit gaan baie goed met ons en sy is baie gesond. Sy is ’n absolute droom! Ons probeer in ’n roetine bly met borsvoeding en ons maak ’n goeie span.

“Hy doen baie van die doeke, ek doen die voedings, hy burp. Andries was absoluut my rots, ek weet nie wat ek sonder hom sou gedoen het nie.

“My man kan nie sy oë van haar afhou nie. Hy is so verlief,” sê sy.

Nadat die paartjie uiteindelik foto’s gedeel het van hul nuweling se gesiggie, het kommentare ingestroom: “Sy is haar pa se ewebeeld!”

Die paartjie het ook reeds vir hul nuweling haar eie sosiale-media-rekening geskep.


Meer oor:  Baba  |  Simoné Pretorius
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.