Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Celebs
Dís wat Karlien se kleinding makeer

Nadat dokters ’n groot sny dwarsoor die 15 maande oue Elah se magie gemaak het, moes hulle haar net so toemaak.

Karlien van Jaarsveld (33) en Joe Breytenbach (35) se dogter ly aan trombose van die poortaar; met ander woorde daar is ’n bloedklont in die aar wat bloed na haar lewer en ander noodsaaklike organe vervoer.

Elah sou Saterdagaand geopereer word, maar die operasie, wat 4 uur sou duur, kon nie gedoen word nie. Van Jaarsveld het Sondag op Instagram geskryf “Elah se are lyk heeltemal anders as wat die radioloog vir die dokter gesê het dit lyk. En so moes hy haar net weer toewerk. So ’n groot sny, met geen verandering nie.”

Dr. Etienne Nel, pediatriese gastro-enteroloog, sê dit is nie algemeen dat jong kinders trombose van die poortaar kry nie.

Klein Elah Maandagoggend in die hospitaal.Foto: Instagram/Karlien van Jaarsveld

“Ons ken dit baie goed, maar sien nie gereeld gevalle daarvan nie – dalk een nuwe geval per jaar,” sê Nel. “Dit is meer algemeen in ander dele van die wêreld soos Indië en Egipte.”

Trombose van die poortaar word gediagnoseer wanneer ’n kleinding ’n opgeswelde milt het, of wanneer are onder die slukderm erg begin bloei.

Volgens Nel is die oorsaak dikwels onbekend, maar dit kom soms voor wanneer daar ’n familiegeneigdheid is tot bloedklonte, of wanneer die kleinding enige soort infeksie kort ná geboorte kry.

Volgens Nel kan die probleem redelik doeltreffend behandel word deur ’n sogenaamde Rex-omleiding om die verstopping.

“As dit suksesvol is, is dit ’n baie goeie operasie. Maar vir die operasie om te werk, moet die bloedvate in die lewer goed ontwikkel wees,” sê Nel.

Oor die algemeen sal dokters voor die tyd op skanderings kyk of daar ’n groot aar is wat hulle kan gebruik, en as dit so lyk, sal die chirurg die operasie probeer doen.

“Dit is ’n groot operasie waar die chirurg wye toegang moet hê. Dit is nie ’n klein snytjie nie,” sê Nel.

Dit is nie bekend of Elah die Rex-omleiding sou ondergaan nie, maar sy het ’n soortgelyke sny oor haar lyfie. Van Jaarsveld het Sondag op Instagram geskryf dat Elah in die pediatriese waakeenheid aansterk.

“Hulle onderdruk die pyn met sterk medikasie, en sal dit stelselmatig verminder hoe beter dit gaan,” sê Van Jaarsveld. Sy sê hulle sien daarna uit dat Elah “ná hierdie massiewe prosedure uiteindelik gesond sal wees”.

Elah met haar teddiebeer nadat sy nie Saterdagaand suksesvol geopereer kon word nie. Foto: Instagram/Karlien van Jaarsveld

Van Jaarsveld het Maandag ’n video van Elah in die hospitaal gedeel waar sy giggel en haar tong uitsteek. “God is goed . . . U kom maak ’n pad deur die wildernis en ek vertrou U,” skryf Van Jaarsveld by die video.

Elah het vroeg in Januarie ’n bloedoortapping ontvang, waarvoor Van Jaarsveld ’n konserttoer kortgeknip het. Die kleinding moes ’n bloedoortapping kry omdat sy “bloed opgegooi het en haar magie bloed gewerk het,” het Van Jaarsveld destyds op Instagram gesê.

Elah is Van Jaarsveld en Breytenbach se eerste kind, en sy is in Oktober 2017 twee maande vroeg gebore.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.