Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Celebs
Dit verg moed om te sê: Genoeg van te veel!

Dit het baie moed geverg om vir die hele wêreld te vertel hoeveel sy weeg en om toe in die openbaar die gewig af te skud, sê Suné van Rensburg (24), wat onlangs te sien was op die werklikheidsgewigsverliesreeks Genoeg op Via (DStv- kanaal 147).

Sy het in 13 weke 16 kg verloor en elke stukkie bloedsweet is vir televisie verfilm.

Die foto van Ronel Brink wat agt jaar gelede geneem is toe sy baie skraler was. Sy het die afgelope week aangekondig dat sy met ’n “bitter stryd” begin het om gesonder te leef. Foto: Instagram

“Op die ou end was dit juis dit (dat almal haar dopgehou het) wat my gemotiveer het,” sê Suné oor die vraag of dit beter is om dit stil te hou as jy besluit om gewig te verloor.

Ook Ronel Brink, die sangers Bobby en Karlien van Jaarsveld se ma, het besluit om die afgelope week op sosiale media aan te kondig dat sy haar skraler figuur van vroeër wil terugkry.

Sy het ’n foto geplaas wat agt jaar gelede van haar geneem is en gesê sy het besluit om gesonder te leef.

Sy sê sy hoop sy kan ander inspireer om dit ook te doen.

“Vanaand vat dit al my guts om die foto te plaas.

“Die afgelope klomp jare het ek net laat gaan. Ophou oefen en net eenvoudig verkeerd en te veel geëet. Ek begin môre met ’n nuwe leefstyl.

“Dit gaan vir seker ’n bitter stryd wees. Ek gaan my bes doen. As ek val, gaan ek eenvoudig net weer opstaan en aangaan,” sê sy met verwysing na haar “gewigsprobleem”.

Ronel Brink saam met haar dogter Karlien van Jaarsveld. Foto: Instagram

Sy voeg by sy sal haar Instagram-volgelinge op die hoogte hou van haar “bitter stryd”.

Olga Rossouw, ’n Randburgse dieetkundige wat 44 jaar lank praktiseer, sê die beste manier om gewig te verloor verskil van mens tot mens.

Sy raai mense gewoonlik aan om nie daaroor te praat as hulle probeer maer word nie, omdat dit maklik in ’n obsessie kan ontaard.

“Sodra dit ’n obsessie raak, is jou kans op sukses kleiner. Maar vir ander mense help dit sielkundig, want hulle voel die hele wêreld kyk na hulle en hulle wil nie die mense teleurstel nie,” sê sy.

“Kyk, ek haal my hoed af vir enige mens wat die besluit neem om gewig te verloor. Dit is baie moeilik en ek self is ook al daardeur.

“Stel vir jouself klein doelwitte en vat dit stap vir stap. Op die ou end gaan dit daaroor of jy jou leefstyl kan aanpas en dit kan handhaaf.

“Anders sal jy nooit suksesvol wees nie,” sê Rossouw.

Suné van Rensburg het 16 kg verloor met die hulp van die werklikheidsreeks Genoeg op Via (DStv-kanaal 147). “Ek was aanvanklik baie bang om dit so voor almal te doen, maar dit was een van die beste ervarings van my lewe.” Foto: Via-TV

Van Rensburg, ’n verkoopsverteenwoordiger by Bidvest-Steiner, beaam die belangrikste is om ’n gesonde leefstyl aan te leer.

“Ek moet ook bieg ek het oor Desember gewig opgetel omdat ek verkeerd geëet het, maar dit weer verloor. Tans is ek weer so twee kilogram op, maar probeer nou weer hard om dit te verloor.”

Sy het haar gewig gepak met die hulp van ’n afrigter en die eetplan van “Die dieet waarvan almal praat”, asook medikasie en inspuitings wat haar onder meer help om gewig vinniger te verbrand en hongerpyne te beheer.

Hoewel die program se laaste episode môre uitgesaai word, is sy nog lank nie klaar nie. Sy gaan die eetplan volhou en steeds drie tot vyf keer per week oefen, sê sy.

suzanne.venter@rapport.co.za

Meer oor:  Oorgewig
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.