Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Celebs
‘Ek het ’n kroon op my kop,’ sê oorstelpte Mej. SA
Musida nadat sy gekroon is, omring deur die ander finaliste en Sasha-Lee Olivier, haar voorganger.Foto: Jaco Marais

Jou drome is geldig.

Dit is Shudufhadzo Musida, die nuwe Mej. SA wat uit Limpopo kom, se boodskap aan die wêreld.

“Toe ek klein was het ek die kompetisie in my oupa se sitkamer gekyk en gesê ek wil eendag die wenner wees. Dan beperk jy jouself. Maar God het daardie beperkings opgehef.”

Haar ma se eerste woorde aan haar dogter nadat sy gewen het, was “ek is so trots op jou”.

“Dit voel nie werklik nie,” het sy aan Tamaryn Green, voormalige Mej. SA 2018, gesê.

“Ek het gedink ek het seker nie reg gehoor nie! Maar ek het ’n kroon op my kop!”

Nadat sy gekroon is, is sy omring deur al nege ander finaliste wat haar glimlaggend gelukgewens het.

Die naaswenner is Thato Mosehle, ’n dokter, en tweede naaswenner Natasha Joubert, ’n entrepreneur.

Vir die topdrie wenners is dit nie die einde van die pad nie. Hulle sal nou begin voorberei om deel te neem aan die drie grootste internasionale skoonheidskompetisies: Mej. Heelal, Mej. Wêreld en Mej. Supranasionaal.

Die organiseerders sal besluit wie van die topdrie aan watter kompetisie sal deelneem en dit sal later aangekondig word.

Nadat sy deur Sasha-Lee Olivier gekroon is, het Musida deur die Table Bay-hotel in Kaapstad gestap en vir Werner Wessels, ster van Die Kroonprins, ’n stywe druk gegee. TV-kameras het haar gevolg oral waar sy gaan.

Tydens die finaal het sy baie gepraat oor die belangrikheid van onderwys. “Dit is belangrik vir onderwys om aandag te kry in ons gemeenskap. Ons moet geestesgesondheid prioritiseer. As Mej. SA sal ek die deursettingsvermoë van vroue in SA verteenwoordig.”

Die kroon word op Musida se kop gesit.Foto: Jaco Marais

Musida is gekroon in ’n geel rok geskep deur Orapeleng Modutle van Orapeleng Modutle Style Avenue.

Finaliste het die loopplank ook vir die heel eerste keer aangedurf in ontwerpe in die Nguni-reeks van die KwaZulu-Nataller Sandi Mazibuko.

Die Kaapse ontwerper Lena Lisa Retief was die ontwerper van die aandrokke wat die finaliste aan die begin van die regstreekse vertoning gedra het.

Daarna het hulle swemklere deur die Kaapstadse TracyB Swimwear (wat die baaikostuums maak) en Johannesburgse Imprint ZA (wat die kledingstuk bo-oor ontwerp) gewys.

Die swembroek-afdeling was ’n “kompetisie in ’n kompetisie” waar die borg Motherkind ’n prys toegeken het aan die “fiksheidsambassadeur”-finalis in dié afdeling. Die wenner was Jordan van der Vyver van die Wes-Kaap.

Vyf ander ontwerpers het twee rokke elk vir die groot finaal ontwerp:

• Anel Botha wat lank reeds uitrustings vir die kompetisie maak, het Van der Vyver en Lebogang Mahlangu (Gauteng) se aandrokke gemaak.

• Juan Visser van Juan William Aria het Thato Mosehle (Noordwes) en Karishma Ramdev (KwaZulu-Natal) se rokke ontwerp.

• Neville Masondo van La Art Neviole Emporium is vir Melissa Nayimuli (Oos-Kaap) en Chantelle Pretorius (Gauteng) se uitrustings verantwoordelik.

• Orapeleng Modutle van Orapeleng Modutle Style Avenue Musida en Aphelele Mbiyo (Oos-Kaap) se uitrustings gemaak; en

• Sello Medupe van Scalo Designer het die rokke ontwerp vir Busisiwe Mmotla (Gauteng) en Natasha Joubert (Gauteng).

Die beoordelaars was Zozibini Tunzi, Mej. Heelal, Peggy-Sue Khumalo, sakevrou en Mej. SA (1996), die radio- en TV-aanbieder Anele Mdoda, die Afrikaanse aktrise en entrepreneur Leandie du Randt en die aktrise Kim Engelbrecht.

Meer oor:  Shudufhadzo Musida  |  Kroon  |  Mej. Sa
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.