Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Celebs
KYK: ‘Ek wens Meghan wil na my uitreik,’ sê haar pa

“Ek is hier. Ek het na haar uitgereik, ek wens dat sy nou na my sal uitreik. Daar moet plek wees vir my. Ek is haar pa.”

Dít was Thomas Markle, pa van Meghan, hertogin van Sussex, se hartverskeurende woorde op die Britse TV-program Good Morning Britain.

Meghan, hertogin van Sussex. Foto: Getty Images

Markle, wat homself volgens die televisieaanbieder Piers Morgan soos ’n haas in ’n motor se hoofligte bevind, het sedert Junie nog nie ’n woord met sy dogter gepraat nie. Hy hoop en glo dat sy in ’n stadium vir hom ’n teken sal stuur dat sy van sy bestaan bewus is.

Markle se eksklusiewe onderhoud met Good Morning Britain is Maandagoggend vroeg in Brittanje uitgesaai.

Morgan, oudkoerantredakteur en nou TV-persoonlikheid, het Meghan ’n paar weke gelede in ’n koerantartikel as ’n sosiale klimmer bestempel wat mense ghost die oomblik as sy iemand belangriker ontmoet (ghosting behels om alle kontak met iemand te verbreek).

Dit het met Morgan gebeur nadat hy Meghan ontmoet het, hulle telefoonnommers uitgeruil het en lekker gesels het oor ’n paar drankies. Hy het haar ontmoet kort voordat sy prins Harry ontmoet het. Toe Morgan haar weer kontak, het Meghan hom die rug toegekeer.

Morgan het in die onderhoud sy simpatie met Markle betoon en benadruk dat Markle nie enige vergoeding vir die onderhoud kry nie.

Morgan het gepraat oor hoe koningin Elizabeth al vantevore ingegryp het in familiesituasies soos met Diana (prinse Harry en William se ma) en Fergie, die ma van prinses Eugenie wat onlangs getroud is. Hy het Markle gevra indien hy koningin Elizabeth kon vra om te help met die impasse tussen hom en Meghan, wat sy vraag sou wees?

“Ek sal enige hulp waardeer om die familieprobleme op te los,” het Markle in sy sagte stemtoon geantwoord.

Hy het Meghan keer op keer verdedig en gesê sy het in Hollywood op die stel grootgeword en is geleer om respek vir almal te hê, die stelwerkers en die akteurs.

Hy sê ook hy glo nie die stories in die poniepers oor Meghan nie.

“Sy het ’n manier om controlling te wees, maar nooit onbeskof nie. Sy is altyd beleefd.”

Sy het ’n manier om controlling te wees, maar nooit onbeskof nie. Sy is altyd beleefd.
Thomas Markle sr. in die eksklusiewe TV-onderhoud wat hy op 18 Junie - die dag ná Vadersdag - aan Good Morning Britain toegesaan het. Die Kensington-paleis het nie vooraf daarvan geweet nie. Foto: Reuters

Markle het in die onderhoud van 18 minute lank gesê prins Harry en Meghan het aan hom gesê om nie alles te glo wat hy in die poniekoerante lees nie. Hy meen egter hulle het al die stories oor hom (Markle) gelees en dat alles in die koerante nie waar is wat hom (Markle) betref nie.

“Ek het nog net vyf onderhoude toegestaan.”

Markle het in Junie, kort ná Meghan en prins Harry se troue op 19 Mei, ook op GMB verskyn. Daar is aangeneem dat omdat hy in dié onderhoud besonderhede van sy gesprekke met Meghan en prins Harry verklap, dit die rede is hoekom die paleisdeure spreekwoordelik vir hom toegeklap het.

Markle sê hy was nou ses maande tjoepstil, maar dat daar steeds geen poging van die paartjie is om hom te kontak nie.

“Ek is verward hierdeur.”

Die Britse poniekoerante looi die afgelope paar weke vir Meghan nadat skinderstories uit die paleis gelek is. Daar word beweer sy was onbeskof met een van Catherine, hertogin van Cambridge, se personeellede en dat Catherine Meghan se tjank daaroor afgetrap het. Daar word ook gegis dat Catherine, enkele weke ná die geboorte van prins Louis in trane was nadat prinses Charlotte haar blommemeisrokkie vir Meghan en Harry se troue gaan aanpas het. Die implikasie is dat Meghan die rede vir Catherine se trane was.

Dit kan nie vir ewig aanhou nie. Ek beplan nie om die res van my lewe stil te bly nie. Sy moet weet hoe lief ek vir haar is.

Die afgelope naweek is beweer Meghan is die rede dat prins Harry nie vanjaar gaan fisante jag op Sandringham nie.

Markle sê hy glo nie enige van dié stories oor sy dogter nie.

“Dit is nie soos sy is nie.”

Hy het ook gesê hy het geen kontak met sy gewese vrou, Doria Ragland, nie en kommunikeer ook nie deur Doria met Meghan nie.

Markle is egter vol hoop dat dinge sal verander.

“Dit kan nie vir ewig aanhou nie. Ek beplan nie om die res van my lewe stil te bly nie. Sy moet weet hoe lief ek vir haar is.”

Die grys, bebaarde Markle het met ’n amperse gelatenheid gesê hy hoop Harry en Meghan het ’n pragtige babatjie, ’n klein Harry of ’n klein Meghan. Hy het bygevoeg dat Meghan ’n ongelooflike ma sal wees.

Markle sal Kersfees op die grens tussen Mexiko en Amerika lekkergoed en bederfgoed aan minderbevoorregte kinders uitdeel. Hy het sy dogter en prins Harry ’n geseënde Kersfees toegewens.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.