Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Celebs
EKSKLUSIEF: Boer Niel vra sy Chereze die jawoord

Boer Niel Bruwer en sy nooi, Chereze Maree, van die vorige seisoen van die gewilde kykNET-program Boer soek ’n vrou is oorstelp van vreugde nadat hulle Saterdag verloof geraak het.

Chereze Maree wys haar ring. Foto: Inecke Photography

Die paartjie sê hulle is in ekstase dat hulle albei ’n kans gewaag het op die liefde en nou, nadat hulle albei voorheen liefdesteleurstellings deurgemaak het, nog ’n kans gekry het.

Niel, van Williston in die Karoo, sê die oomblik toe hy op sy knie neersak voor Chereze, van Hopefield aan die Weskus, het die toespraak wat hy voorberei het heeltemal by die venster uit verdwyn.

“Ons albei was so emosioneel en kon nie gepraat kry nie,” sê Niel, wat nou buite Prince Alfred Hamlet buite Ceres boer.

“Dit het net neergekom op een vraag: Sal jy met my trou?”

Chereze, ’n grimeerkunstenaar, sê dit was ’n enorme verrassing en sy was heeltemal uit die veld geslaan. “Ek is mal oor die ring. In daardie oomblik het my opgeswelde wintersvingers nie saak gemaak nie, ek moes die ring aan my vinger kry,” sê sy.

Die paartjie het die naweek op die luukse Lanzerac-wynplaas op Stellenbosch deurgebring. Chereze was onder die indruk hulle gaan 'n fotosessie vir bemarkingsdoeleindes bywoon. Nadat haar grimering deur KlaraGilbert Makeup Artistry gedoen is, het hulle met die fotosessie begin.

“Niel en die fotograaf, Inecke Jonker, het vir my gesê ons gaan na ’n spesiale uitkykpunt omdat die wynplaas spesifiek die uitkykpunt wil bemark. Sy het ons na hierdie kant en daardie kant laat kyk, en toe sy sê ek moet omdraai, is hy reeds op sy knie,” sê Chereze.

Ná die spesiale oomblik het die paartjie teruggekeer na hul kamer, en daar het nog ’n verrassing op Chereze gewag – haar en Niel se ouers het hulle op die stoep ingewag.

“Dit was amper nog meer spesiaal,” sê sy.

Boer Niel Bruwer sit die ring aan sy Chereze se vinger. Foto: Inecke Photography

Die paartjie sê hul reis het ’n volmaakte sirkel gevorm toe hulle by Lanzerac aankom en besef die kamer waarin hulle bly, die einste kamer was waarin hulle mekaar vir die eerste keer op Boer soek ’n vrou ontmoet het.

Niel sê hy het allerhande truuks uitgehaal om vas te stel wat Chereze se smaak is en van watter ring sy sal hou. Nadat hy dit laat ontwerp het by ’n juwelier in Pretoria, het hy ’n video gekry wat wys hoe die ring gemaak word.

Hy het dié video vir Chereze gewys asof dit net bloot ’n interessante video is oor die proses, en sy het opgemerk hoe pragtig die ring is. Toe het hy geweet dit is perfek.

Die paartjie bewonder die ring van roosgoud. Foto: Inecke Photography

“Die ring is van roosgoud met ’n morganietsteen in die middel en twee kleiner diamantjies weerskante,” sê sy. “Dit is presies wat ek wou hê!”

Niel het tydens ’n onlangse kuier in Hopefield die geleentheid benut om ouers te vra toe Chereze na die haarsalon is. “Ek, oom André en tannie Cathrin het ’n hele paar traantjies gepink,” sê Niel. “Dit was heel gemaklik en wonderlik om hul seën te ontvang.”

Chereze was voorheen verloof en Niel is geskei.

“Ons is so geseënd en gelukkig om hierdie tweede kans te kry,” het die twee Sondag gesê in hul motor op pad terug plaas toe.

“Die Here se belofte van ’n beter toekoms en hoop lê ons baie na aan die hart. Dit is baie belangrik om te glo in ’n tweede kans en dit aan te gryp.”

Hulle wil binnekort begin met troureëlings, maar die paartjie sê vir die volgende week of twee gaan hulle eers die nuwe fase van hul lewe laat insink.

Niel Bruwer en Chereze Maree by die Lanzerac-wynplaas op Stellenbosch, waar hulle mekaar ontmoet en verloof geraak het. Foto: Inecke Photography

• Diegene wat vir die nuwe seisoen van die program wil inskryf, kan hier kyk na 2022 se tien hubare boere. Dié wat wil inskryf, moet ouer as 21 wees en ongetroud, geskei of ’n weduwee/wewenaar wees. Inskrywings moet voor middernag op 29 Julie ingedien word. Mense kan inskryf op kykNET se webtuiste, www.kyknet.tv, of deur 079 335 5137 te skakel, of ’n e-pos te stuur na boer@marche.media (let wel .media en nie .co.za nie).

Meer oor:  Reeks 13  |  Boer Soek 'N Vrou  |  Verlowing
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.