Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Celebs
EKSKLUSIEF: ‘Bog, prinses Charlene staan nie op skei’

Stories in die internasionale media dat Suid-Afrika se prinses Charlene en haar man, prins Albert van Monaco, gaan skei, “is louter bog”.

Prinses Charlene en haar man, prins Albert van Monaco, op hul troudag tien jaar gelede. Foto: Instagram

“Dit kan nie verder van die waarheid wees nie. Hulle is so lief vir mekaar soos altyd en praat elke liewe dag,” het ’n bron ná aan Charlene eksklusief aan Netwerk24 gesê.

Charlene is sedert die middel van Mei in Suid-Afrika gestrand weens ’n mediese toestand wat verhinder dat sy kan vlieg.

Huisgenoot het onlangs berig dat ’n ernstige oor-neus-en-keelinfeksie in Suid-Afrika by haar gediagnoseer is. Die rede hiervoor was ’n operasie wat sy vroeër in Europa ondergaan het om haar sinusse te lig sodat daar ruimte vir ’n tandheelkundige beeninplanting kon wees.

Sedertdien het sy al ’n hele reeks operasies in Suid-Afrika ondergaan om die probleem reg te stel. Netwerk24 se bron sê sy ondergaan volgende week ’n groot vyf uur lange operasie.

Maar die Franse tydskrif Paris Match berig Charlene se mediese toestand “is ’n verskoning” om nie na haar man en sesjarige tweeling, prins Jacques en prinses Gabriella, terug te keer nie en dit raak “nou ál moeiliker om te glo”. 

“Sy voel op die oomblik oukei. Sy fokus nou daarop om gesond te word. Sy lees nie die vals berigte nie en kyk nie na sosiale media nie,” sê die bron.

Prinses Charlene gesels vanuit Suid-Afrika met haar kinders. Foto: Instagram

Sodra volgende week se operasie afgehandel is, sal Albert en die kinders na Suid-Afrika reis om vir haar te kom kuier.

Dit sal ’n risiko wees vir haar om op ’n vliegtuig na Monaco te klim omdat haar ore nie gesond is nie en sy nie op ’n vlug van hoër as 3 000 m mag wees nie, sê die bron.

“Die Suid-Afrikaanse dokters wat haar behandel, sal die nodige operasies afhandel en sy sal eers gesond moet word voordat sy weer reis.”

Die Britse poniepers berig egter dit lyk of Charlene glad nie van plan is om na Monaco terug te keer nie.

Bronne van The Daily Mail sê die “verskoning” raak nou al ’n bietjie afgesaag, veral omdat dit “so gereeld gebruik word”.

“Ek weet nie waar mense aan hul ‘feite’ kom nie,” sê die bron aan Netwerk24. “Sy is ’n ma, natuurlik wil sy haar kinders sien en by hulle wees. Hulle bel mekaar elke dag en Albert is daar vir die kinders. Hy is ook in kontak met Charlene se dokters.”

Charlene gaan tuis in ’n luukse oord in KwaZulu-Natal, die provinsie waar sy ’n groot deel van haar grootwordjare deurgebring het. Sy hou haarself besig met liefdadigheidswerk en natuurbewaring, waar sy haar op die bewaring van renosters toespits.

Sy het ook plaaslike mense gehelp deur vee te koop en dit aan hulle te skenk, sê nog ’n bron na aan haar. Sy brei ook self komberse wat aan behoeftiges gegee word, sê die bron.

Prinses Charlene van Monaco vroeër vanjaar op die begrafnis van die Zoeloe-koning, Goodwill Zwelithini, in KwaZulu-Natal. Foto: Gallo Images

“Sy is ’n trotse Suid-Afrikaner. As ek vir haar gaan kuier in Monaco, is daar altyd proteas en biltong oral. Sy vra my om vir haar blatjang te bring en dan moet die kokke die resep vir die blatjang probeer namaak,” sê die persoon.

“Sy het ’n baie groot hart. Sy kies om terug te gee wanneer sy sterk genoeg voel om dit te doen. Sy is ongelooflik gedrewe.”

Charlene volg die Olimpiese Spele in Tokio en is baie trots op haar landgenoot Tatjana Schoenmaker wat onder meer ’n goue medalje losgeswem het. Charlene het in 2000 aan die Spele in Sydney deelgeneem en was lid van die 4 x 100 m-wisselslag-aflosspan wat uiteindelik vyfde geëindig het.

Albert is tans in Tokio vir die Spele.

“Sy ondersteun die atlete en hoop hulle bly almal veilig. Sy bid elke dag vir hulle,” sê die bron.

Charlene en Albert het onlangs hul tiende huweliksherdenking gevier en sy het op Instagram geskryf: “Dankie aan almal vir jul liefde en ondersteuning gedurende ons tien jaar as ’n getroude paar. Met jul hulp kan ons ons werk deur ons stigtings voortsit.”

Meer oor:  Prins Albert  |  Prinses Charlene  |  Siekte  |  Huwelik
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.