Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Celebs
Ellen groet, maar nié oor sy glo boelie is

Die Amerikaanse komediant en geselsprogram-aanbieder Ellen DeGeneres is reg vir ’n nuwe uitdaging en het aangekondig die volgende seisoen van haar geselsprogram sal die laaste een wees.

Sy het op Woensdag se uitsending van haar program haar virtuele gehoor bedank en gesê haar instink sê dit is tyd. “As ’n komediant het ek nog altyd die belangrikheid van tydsberekening verstaan.”

Die 63-jarige DeGeneres het haar besluit in ’n eksklusiewe onderhoud met The Hollywood Reporter verduidelik en gesê sy het reeds in 2019, toe haar kontrak met drie jaar hernu is, dié besluit geneem.

Sy is reguit gevra of haar besluit verband hou met verlede jaar se aantygings teen haar dat sy haar agter die skerms swak gedra terwyl haar program geskoei is op die beginsel dat mense mekaar met deernis moet behandel.

Benewens dat mense na vore gekom het om aan te voer DeGeneres wil nie hê mense moet haar in die oë kyk nie, en dat hulle eers moet kougom kou voordat hulle met haar praat, het BuzzFeed News in ’n exposé bewerings oor ’n toksiese werksomgewing onthul.

Drie senior bestuurders in haar produksiespan is ná ’n interne ondersoek afgedank en DeGeneres het, toe sy weer op die kassie is ná die Covid-19-inperking, om verskoning gevra.

Sy hou egter in die onderhoud met The Hollywood Reporter vol sy was salig onbewus van wat in haar span aangegaan het en was geskok dat mense die bewerings oor haar gedrag geglo het.

“Ek het gehoop dit sou oorwaai, maar dit het nie.”

Die Amerikaanse komediant en geselsprogram-aanbieder Ellen DeGeneres het aangekondig die volgende seisoen van haar geselsprogram sal die laaste een wees. Foto: Getty Images

Sy vertel dan ook van die trauma wat sy ervaar het in haar persoonlike lewe tydens die inperking, soos ’n inbraak by haar huis en dat vier van haar troeteldiere in die tyd gevrek het. Sy het vier maande lank oorweeg om nie na die program terug te keer nie.

“Ek het gevoel ek verdien dit (die kritiek) nie. Ek het dit nie nodig nie. Ek weet wie ek is en ek is ’n goeie mens.”

Sy soek nou ’n nuwe kreatiewe uitlaatklep, het sy aan The Hollywood Reporter gesê, omdat die strawwe 180 opnames van haar program per jaar nie meer uitdagend was nie.

Hoewel DeGeneres aan The Hollywood Reporter gesê het haar toekomsplanne is onbekend, het sy daarop gesinspeel dat sy moontlik Netflix as ’n volgende platform sal gebruik.

The Ellen DeGeneres Show, wat deur AT&T Inc. (T.N) Warner Bros vervaardig word, het meer as 60 Emmy-pryse op sy kerfstok.

Die geselsprogram het gevolg nadat sy haar televisie-loopbaan in die 1990’s begin het met die TV-reeks Ellen. In 1997, voordat gay-verhoudings deur die algemene publiek in Amerika aanvaar is, het DeGeneres en haar karakter in Ellen onthul hulle is lesbies.

Dit het byna haar loopbaan gekelder, maar sy het ’n tweede kans gekry as die stem van Dori in die nou legendariese animasiefliek Finding Nemo.

Sy het met haar geselsprogram bekend geword vir haar omgee en goedhartigheid, asook vir haar rol as kampvegter vir diere, gayregte en teen-boelie-veldtogte.

Sy sê sy is oop vir moontlike fliekrolle in die toekoms, en hoop om ook meer by omgewingsbewaringspogings betrokke te raak.

Meer oor:  Celebs  |  Televisie  |  Ellen Degeneres  |  Vermaak  |  Geselsprogram
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.