Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Celebs
Elvis Blue: Sukses is 'n geskenk

Dié sanger tel elke dag sy seëninge, want jou omstandighede kan enige oomblik verander. Hy wil graag iets blywends by mense los en hoop dat sy musiek hom sal oorleef, skryf Maretta Bellingan.

Elvis Blue pendel deesdae tussen George, waar hy saam met sy gesin bly, en Johannesburg, waar hy gereeld kom werk.

Voor in die tuin staan ’n houtstandbeeld van ’n man met ’n kitaar, gewis ’n teken dat ek by die regte adres is. Die gras is effe lank, maar die huisbaas het ’n goeie verskoning – hy moet gereeld die langpad vat om sy brood te verdien; jy vermoed ook hy voel meer tuis agter ’n klavier as ’n grassnyer.

Elvis maak self die voordeur oop, ’n swart schnauzer kort op sy hakke. “Dís Johan,” sê hy en lei my na ’n gesellige oopplan-leefvertrek waar ons ons by ’n lang houttafel tuismaak. Regs staan ’n pragtige vleuelklavier en deur die groot glasvensters kan jy die son sien blink op die swembad.

Die sanger sit die ketel aan en vertel hoe Johan deel van die gesin geword het. “In daai stadium, so drie jaar gelede, was dit ek, my vrou, ons twee dogters en my skoonma wat by ons gewoon het. Ek het gesê ons kan ’n hond kry, mits dit ’n reun is.

“Maar toe Johan by ons opdaag, besef ons hý is eintlik ’n sý. Ek’s surrounded en outnumbered deur die vrouegeslag,” sê hy en lag, “soms is dit lekker, maar jy moet wakker wees, want dinge kan vinnig op jou draai. Nou klínk dit darem asof daar nóg ’n man in die huis is.”

Hy woon op die gholflandgoed in George nie omdat hy ’n passie vir gholf het of ’n yuppie is nie, keer hy, veel eerder omdat hy so baie reis. “Die veiligheid is uitstekend en Cherize is baie gelukkig hier.”

Hy begin sy dag met ’n ekstra groot pot koffie, nié ’n potjie gholf nie, beaam die man wat verlede jaar sy eie koffie, Elvis Brew, bekend gestel het.

Alombekend

Skaars agt jaar gelede het byna niemand geweet wie Jan Hoogendyk is nie; vandag is die naam Elvis Blue alombekend en dít alles te danke aan die sangkompetisie Idols, wat hy in 2010 gewen het. Hy kan nie die datum onthou nie, “want ek is treurig met datums; ek moet my vrou se verjaardag neerskryf, anders vergeet ek”.

“Niemand sal weet hoekom ’n ou se geluk draai nie, maar ek sal nooit vergeet toe dit met my gebeur het nie en ek tel elke dag my seëninge, want dit kan enige oomblik verander. As jy lank werk aan iets en niks gebeur nie, begin jy twyfel of jy op die regte pad is. Daai aand was ’n reusesug van verligting.”

Jan is ’n baie goeie pa, want hy luister mooi na sy kinders. Hy’s baie betrokke en die meisies is mal oor hul pa.

En dit was ’n lang opdraande pad na sukses. Hy onthou hoe hy as straatmusikant ure lank in die son voor die Rosebank Mall in Johannesburg vir kleingeld gesit en sing het. Ook toe hy handsakke by ’n stalletjie op die KKNK verkoop het terwyl ander sangers ’n ent weg op die verhoog hul drome uitleef.

“Ek dink daar’s baie beter musikante as wat ’n mens elke dag hoor, die uwe inkluis, sangers wat bloot nooit gesien is nie en dalk nooit gesien sal word nie. Sukses is ’n geskenk. Jy moet jou talent ontgin en baie hard werk en die dag dat ’n deur op ’n skrefie oopmaak moet jy daar en gereed wees.”

Hy was méér as gereed en die sukses wat hy sedertdien geniet – hy doen minstens 110 vertonings per jaar – is iets wat hy elke dag koester. Voor Idols het hy vyf CD’s gemaak waarvan omtrent niks verkoop het nie; ná Idols het hy ses gemaak waarvan drie platinumstatus en twee goue status bereik het met verskeie toptientreffers.

“Die sukses wat ek vandag beleef, is waarvan ek as kind met kitaar in die hand voor die spieël gedroom het, dat ek mense op vreemde plekke sal ontmoet wat hou van my musiek. Daar’s nooit ’n dag dat ek verlang na anonimiteit nie, dis waarvan ek gedroom het.”

Maar gemaksug of ego staan hom nie aan nie. “Die geloof dat sukses ’n geskenk is,” sê die man wat die volkslied voor ’n rugbyskare van 26 000 gesing het, “hou jou voete op die aarde. Buitendien, my vrou sal my vinnig ’n klap of twee gee as ek skielik te belangrik word.”

As kunstenaar wil ek graag iets blywends by mense los; ek hoop my loopbaan duur so lank as wat my kreatiwiteit en my stembande hou. En ek hoop my dogters trou nooit nie.
Cherize

Cherize, wat pas ingestap het, is al 12 jaar sy lewensmaat en was aan sy sy toe hy ’n musiekskool in George bedryf en sangleier by die Eden-gemeente was. Cherize maak leerhandsakke wat sy aanlyn en by uitgesoekte winkels verkoop. Hulle is die ouers van Lila (8) en Jua (5).

“Lila is haar pa se kind; sy’s net so kunstig en dromerig soos Jan,” sê Cherize. “En Jua is baie soos haar ma,” antwoord die sanger, “sy’s op die man af en het ’n baie groot hart, mal oor ballet en diere.”

“Jan is ’n baie goeie pa, want hy luister mooi na sy kinders. Hy’s baie betrokke en die meisies is mal oor hul pa,” sê Cherize, wat ’n handsak verpak wat sy na ’n kliënt moet stuur.

Elvis, wat baie harte gewen het toe hy sy prysgeld destyds met Lloyd Cele gedeel het, glo steeds dis belangrik om ander te help. “My ma, Mila, was altyd betrokke by ander mense; sy inspireer my. As jy iemand anders help, help jy eintlik jouself en dan besef jy hoe bevoorreg jy eintlik is.”

Elvis het verlede jaar die CD STORIES uitgereik en is ’n kunstenaar wat sy eie musiek en lirieke skryf.

“Ek skryf enige tyd en enige plek. Ek sit voor die klavier terwyl Barney kliphard op die TV skreeu en my vrou met een van haar kliënte op die foon praat; dit pla my nie.

“As kunstenaar wil ek graag iets blywends by mense los; ek hoop my loopbaan duur so lank as wat my kreatiwiteit en my stembande hou. En ek hoop my dogters trou nooit nie,” voeg hy spottend by.

“Hulle twee is natuurlik min gepla met my musiek, behalwe as hulle ’n roomys iewers wil score, dan speel hulle die Elvis Blue-kaart!”

Meer oor:  Elvis Blue  |  Vermaak  |  Musiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.