Die koning van rock en roll, Elvis Presley, se private straler word ná byna vier dekades weer opgeveil – en die prys vir dié gehawende tuig begin rondom R5,8 miljoen.
CNN berig Presley se straler staan al 36 jaar verlate op ’n aanloopbaan in Roswell, Nieu-Mexiko.
Die 1962-Lockheed JetStar 1329 het aan Presley en sy pa, Vernon, behoort.
Die straler het glo nie meer sy enjin nie, die kajuit is gehawend en die fluweelsitplekke verslete.

Elvis in sy gloriedae. Foto: Verskaf
Volgens CNN is die straler in 2017 vir $430 000 (sowat R5,8 miljoen) opgeveil, maar die huidige eienaar het die straler terugbesorg, vermoedelik omdat te veel herstelwerk daaraan nodig is.
AP News berig ’n vorige veilingshuis sê Presley het die binnekant van die straler – met sy rooi fluweelsitplekke, houtafwerking met goue detail en rooi langhaarmat – self ontwerp.
’n Vorige eienaar, Roy McKay, beweer egter hy het die binnekant ontwerp. Toe hy die straler gekoop het, het die grys binnekant vir hom “ ’n bietjie soos ’n doodskis” gelyk.
Volgens die veilingshuis IronPlanet het die straler Roswell nog nie verlaat nie en het die huidige eienaar “geen veranderinge aan dié stuk geskiedenis” gemaak nie. Hulle hou vol Presley het wel ’n hand in die straler se ontwerp gehad. The Telegraph berig IronPlanet besit al die dokumentasie en fakture wat bewys dat die straler deur Presley besit en ontwerp is.
Presley het drie private stralers besit, waarvan twee by Graceland, waar hy gewoon het, staan.
Belangstellendes kan tot 27 Julie aanlyn op die straler bie.