Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Celebs
Eugenie kan Harry se troue kwalik nadoen

Al het prinses Eugenie en Jack Brooksbank 250 meer gaste op hul gastelys as wat prins Harry en Meghan, hertogin van Sussex, gehad het, is daar een faktor waarmee Harry se niggie nie met hom kan meeding nie: sy gewildheid!

Prinses Eugenie en haar verloofde, Jack Brooksbank. Foto: Getty Images

Sommige mense dink sy probeer Harry en Meghan se troue oortref wat die gastelys en aantal beroemdes betref. Sy moes egter met haar verlowings- en trouplanne wag omdat Harry voor haar die pad kansel toe wou neem. Toe moes sy en Jack skarrel om ’n datum vir hul troue vasgestel te kry waarop al die senior koninklikes beskikbaar sou wees (hul dagboeke word tot ses maande vooruit beplan).

Hul groot dag is op 12 Oktober, wanneer sy en haar bruidegom soos vele ander meer junior koninklikes in die St. George-kapel in Windsor-kasteel gaan trou.

Hul gastelys kom op 850 te staan, terwyl Harry en Meghan amper (’n skamele) 600 gaste genooi het. Bykomende stoele sal dus by die kapel ingedra moet word om plek vir al die gaste te maak.

Eugenie beplan ook ’n koetsrit deur Windsor. Die lengte daarvan sal nie naastenby so lank soos Harry-hulle s’n wees nie, bloot omdat die skare toeskouers dit nie sal regverdig nie.

Harry en Meghan se koetsrit het hulle nie net deur Windsor geneem nie, maar ook deur die Long Walk sodat die derduisende toeskouers deel van hul troudag kon wees.

Hul groot dag is op 12 Oktober, wanneer sy en haar bruidegom soos vele ander meer junior koninklikes in die St. George-kapel in Windsor-kasteel gaan trou.

Harry se oom, prins Edward, en Sophie, gravin van Wessex, het ná hul troue in die St. George-kapel ook ’n kort koetsrit deur Windsor onderneem.

Eugenie en Jack se onthaal sal ook in Groter Windsorpark by haar ouerhuis, Royal Lodge, wees. ’n Groot markiestent sal opgerig word en net 400 van die gaste sal ná die troue in die St. George-saal 'n driegangmaal geniet. Die geselligheid in die St. George-saal en die aandgeselligheid is in die hande van Peregrine Armstrong-Jones, die halfbroer van prinses Margaret (koningin Elizabeth se suster) se gewese man. Hy was ook die beplanner van David en Victoria Beckham se troue. 

Eugenie se ma, Sarah, hertogin van York, is nou betrokke by al die troureëlings en haar pa, prins Andrew, dok reeds vir die onthaal op. Hoewel Sarah en Andrew al dekades lank geskei is, woon hulle steeds saam in York House.

Sarah, hertogin van York, beter bekend as Fergie, saam met haar en prins Andrew (regs) se oudste dogter, prinses Beatrice. Foto: Getty Images

Daar word egter gemor omdat die veiligheidskoste wat vir haar troue getref moet word – ’n allemintige £2 miljoen – glo buitensporig is en uit belastingbetalers se sak moet kom.

Met soveel senior koninklikes wat die troue gaan bywoon, sal die veiligheid van nie net die bruidspaar en die gaste nie, maar ook die publiek, van groot belang wees.

Die enigste haakplek op die troue kan wees indien prins Philip en Sarah, oftewel Fergie, mekaar raakloop.

Die 97-jarige Philip het nie veel ooghare vir Fergie nie en sy is glo skrikkerig om in haar voormalige skoonpa vas te loop. Philip is steeds vies omdat sy die koningshuis in “oneer gebring het” met haar buite-egtelike verhouding toe sy nog met Andrew getroud was en haar kommersiële bedrywighede om haar skuld af te betaal.

Sy is egter steeds een van die koningin se gunstelinge en kuier elke jaar gedurende die Augustus-somervakansie by die koningin op Balmoral. Philip sluit hom dan eers by die koningin aan nadat Sarah die pad gevat het . . .

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.