Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Celebs
Fokus op Covid-19, sê Harry en Meghan in laaste Instagram-plasing

Prins Harry en Meghan het gegroet op Instagram, maar darem net tydelik.

Prins Harry en Meghan Marke met die aankondiging van hul verlowing in 2017. Foto: Getty Images

Die paartjie het Maandagaand in ’n plasing wat vroeg Suid-Afrikaanse tyd op hul Instagram-profiel Sussex Royal geplaas is, gesê die fokus in die komende weke en maande moet wees op die wêreld se reaksie teen die Covid-19-pandemie.

Hoewel hulle nie op Instagram bedrywig sal wees nie, sal hulle fokus op die nuwe hoofstuk in hul lewe en hoe hulle ten beste tot die samelewing kan bydra.

Hulle skryf die gesondheid en welstand van almal oor die wêreld heen is nou belangrik en dat oplossings gevind word vir die vele kwessies wat rondom die korona-pandemie ontstaan het.

Die twee bedank ook hul ondersteuners en sê hulle sien daarna uit om gou weer met hul volgelinge te gesels.

Die paartjie groet as Harry en Meghan, wat dui op hul nuwe lewe wat op 1 April aanbreek. Dit was ook hul laaste plasing onder hul handelsmerk Sussex Royal. Hul webwerf SussexRoyal.com sal ook nie meer aktief wees nie.

Prins Harry en Meghan se laaste plasing op hul Instagram-profiel Sussex Royal. Foto: Instagram/SussexRoyal

Die twee, wat in Januarie aangekondig het dat hulle as senior werkende koninklikes uittree, sal vir ’n tydperk van 12 maande hul eie potjie krap en finansieel onafhanklik van die koningshuis wees.

Die ooreenkoms tussen Harry en die koningshuis sal oor ’n jaar in heroënskou geneem word. Dit sal Harry en Meghan in staat stel om weer werkende koninklikes te word as hulle sou wou.

Die Sussex-paartjie sal ook nou meer privaat kan leef. Hulle doen onder meer afstand van hul handelsmerk Sussex Royal omdat die woord “royal” nie met hul toekomstige kommersiële projekte versoenbaar is nie. Hulle doen ook afstand van die openbare gebruik van die eretitels sy en haar koninklike hoogheid, ’n toelae van koningin Elizabeth, en die sekerheidsdienste wat aan senior lede van die Britse koningshuis verskaf word.

Harry en Meghan het in Desember hul huis in Windsor verlaat om eers op Vancouver-eiland aan die Kanadese weskus nes te skop en het onlangs na Los Angeles verhuis.

Meghan se ma, Doria Ragland, woon in Los Angeles.

Die verhuising het pres. Donald Trump van Amerika Sondagaand genoop om op Twitter te sê ondanks sy bewondering vir Brittanje en koningin Elizabeth, sal Amerika nie betaal vir die Sussexe se veiligheid nie.

’n Woordvoerder vir die Sussexe het binne ure teruggekap en gesê hulle het private reëlings getref vir hul veiligheid en dat daar nooit ’n verwagting was dat Amerika vir hul veiligheid moet betaal nie.

Hulle is tot onlangs opgepas deur ’n spesiale eenheid van die Britse metropolisie.

Hul veiligheid en dié van hul seuntjie, Archie, kos miljoene rande per jaar. Harry se pa, prins Charles, sal heel moontlik óf die volle koste van hul veiligheid óf tot die helfte daarvan betaal.

Toe hul verhouding openbare kennis geword het, het Harry byvoorbeeld ’n private lyfwag gehuur om Meghan te beskerm in Toronto waar sy aan die TV-reeks Suits verfilm het.

LUISTER: Wanneer gaan die koningin haar stilte oor Covid-19 verbreek?

Covid-19 het die koninklike familie getref nadat prins Charles positief vir die virus getoets is. In die jongste aflewering van Netwerk24 se podsending, Koninklike Knieknik, vra Arlene Prinsloo: Wanneer gaan die koningin haar stilte oor dié dodelike pandemie verbreek?

LUISTER: Die doodsnikke van Harry en Meghan

In die eerste aflewering van Netwerk24 se podsending Koninklike Knieknik praat Arlene Prinsloo oor Harry en Meghan en hul besluit om hul lewens as koninklikes agter te laat.

LUISTER: Die prins en die seksskandaal

Prins Andrew het in die binnekamers van die superryk én veroordeelde seksoortreder Jeffrey Epstein gekuier. Wat presies weet Andrew en hoekom wil hy nie praat nie? In die jongste aflewering van Netwerk24 se podsending, Koninklike Knieknik, vertel Arlene Prinsloo meer.

Meer oor:  Meghan Hertogin Van Sussex  |  Prins Harry  |  Koronavirus  |  Instagram  |  Covid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.