Prins Harry en Meghan Markle, die hertogin van Sussex, se paaie het tydens hul vakansie in Kanada met ’n plaaslike paartjie gekruis wat sukkel om ’n selfie geneem te kry.
Meghan het toe dadelik ingespring en aangebied om ’n foto namens hulle te neem, berig E! News.
Die paartjie, Iliya Pavlovic en Asymina Kantorowicz, het haar aanvanklik nie herken nie, totdat hulle die prins en een van Markle se mede-akteurs in die reeks Suits, wat saam was, raakgesien het.
“Ek het aanhoudend heen en weer gekyk en gewonder, gebeur dit regtig?” het Kantorowicz volgens People gesê.
“Meghan het vir my geglimlag en gewag om die foto te neem, en vir my was die oomblik net vol skok en ongeloof,” vertel sy.
“Die enigste ding wat ek kon dink om te sê was: ‘Daar is net soveel wat selfie-stokke kan doen.’ Meghan het gelag en iets gesê soos: ‘Ons sal dan ’n goeie foto moet neem.’ Prins Harry sê toe ‘no pressure’.”
Kantorowicz sê aan Cosmopolitan Meghan was “ongelooflik vriendelik” en sê dat sy en Harry baie gelukkig gelyk het – “soos ’n gelukkige pasgetroude paartjie”. Kantorowicz sê sy wens baba Archie was daar.
“Ek hoop hulle geniet hul kuier op Vancouver-eiland.”