Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Celebs
Friends-akteur vertel van sy stryd teen prostaatkanker

James Michael Tyler, ’n akteur in die ikoniese Amerikaanse televisiereeks Friends, het Maandag die sluier gelig oor sy stryd teen prostaatkanker.

James Michael Tyler
James Michael Tyler, ’n akteur in die ikoniese Amerikaanse televisiereeks 'Friends', het Maandag die sluier gelig oor sy stryd teen prostaatkanker. Foto: NBC

CNN  berig die 59-jarige akteur het sy diagnose tydens ’n verskyning op NBC se Today Show bespreek. Tyler het ’n dekade lank die rol van Gunther in die reeks vertolk.

“Gevorderde prostaatkanker is in September 2018 by my gediagnoseer, wat na my bene versprei het,” het hy aan Craig Melvin, aanbieder van die program, gesê.

Kanker is in ’n roetineondersoek by hom gediagnoseer toe hy 56 was.

Tyler het gesê dat die vervaardigers van Friends “lankal” van sy diagnose bewus was en dat hy met mede-akteur David Schwimmer op Instagram daaroor gepraat het. Volgens Tyler het die siekte egter tydens die koronavirus-pandemie vererger en begin “muteer”, wat gewasse op sy ruggraat veroorsaak het. Hy kan daarom nie meer op sy eie loop nie.

Die BBC berig hoewel Tyler as Gunther nie soveel keer op die skerm verskyn het soos die hoofrolspelers in die reeks nie, was hy steeds besonder geliefd onder aanhangers.

Gunther het in die reeks as ’n kelner en bestuurder by die koffiehuis Central Perk gewerk. Hy was halsoorkop verlief op Jennifer Aniston se karakter, Rachel, wat ook in ’n stadium as ’n kelnerin gewerk het.

Tyler het verlede maand via ’n Zoom-sessie ’n kort verskyning gemaak as deel van ’n Friends-reünie. “Dit was die onvergeetlikste tien jaar van my lewe, eerlikwaar,” het hy toe van die reeks gesê.

Op ’n vraag hoekom hy nie sy diagnose tydens die reünie bekend gemaak het nie, het hy gesê: “Ek wou nie hê dit moes ’n geval wees nie van: ‘O, terloops, Gunther het kanker.’”

Volgens ’n berig in Today is stadium 4-prostaatkanker by Tyler gediagnoseer.

Hy het met hormoonterapie begin, wat “ongeveer ’n jaar lank ongelooflik gewerk het”.

“Al wat ek moes doen, was om soggens en saans ’n pil te drink, en my lewe was redelik normaal.”

Tyler ondergaan tans aggressiewe chemoterapie-behandeling en het mans aangeraai om gereeld dokter toe te gaan en hulle te laat ondersoek.

“Dit (prostaatkanker) kan maklik opgespoor word. As dit buite die prostaat na die bene versprei, soos in my geval, kan dit baie moeiliker wees om te hanteer.”

Meer oor:  James Michael Tyler  |  Prostaatkanker  |  Akteur
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.