Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Celebs
Gaan nog ’n Green die Mej. SA-kroon dra?
Beata Green en haar niggie, die voormalige Mej. SA, Tamaryn Green. Foto: Instagram/Beata Bena
Beata Bena Green(24)Foto: Instagram/Beata Bena

’n Niggie van Tamaryn Green, voormalige Mej. Suid-Afrika, wat in die telenovela Arendsvlei op kykNET en Kie speel, het nou ook haar oog op die Mej. SA-kroon.

Beata Bena Green (24) van Kaapstad het ingeskryf vir die kompetisie en het op Instagram gesê “dis alles in God se hande”.

Green het ervaring van skoonheidskompetisies en was die Wes-Kaapse Mej. Mamelodi Sundowns in 2017, asook ’n verteenwoordiger van dié sokkerspan.

“Daar was ’n tyd toe ek gedink het deelname aan Mej. Suid-Afrika is nie meer vir my nie,” skryf sy op Instagram.

“Ek het begin grootword en besef sekere dele van my verskil van die vooropgestelde idees wat die samelewing het oor die perfekte vrou. Maar soos met alles in die lewe het die tyd verander en die organisasie was gereed.”

Green vertolk die rol van Kim in Arendsvlei en het ’n honneursgraad in produksiebestuur aan die Universiteit Stellenbosch se fakulteit drama en teaterstudie. Sy sê in haar inskrywingsvideo sy gaan binnekort ’n meestersgraad ook bykry.

Sy is boesemvriende met Melanie du Bois, Ronel in Arendsvlei en veral bekend vir haar rol as Felicity in 7de Laan.

“My storie is dié van ’n vrou wie se loopbaan vir generasies ontmoedig is,” sê Green in die video. “Ek neem eienaarskap van daardie storie en ek is opgewonde om dit met mense te deel, en om mense aan te moedig om hul eie stories te deel.

“Ek wil die stem wees vir die onvertelde stories.”

In die video dra sy ’n goudgeel rok. Op Instagram skryf sy dat sy dié rok sewe jaar gelede present gekry het toe sy nie ’n nuwe een kon bekostig nie.

“Dit is toevallig dieselfde rok wat ek sewe jaar gelede aan het op die foto wat ek ingeskryf het vir my heel eerste skoonheidskompetisie.

“Dit is dieselfde rok, maar twee baie verskillende verhale agter die vrou wat dit dra. Ek het dit om verskeie redes gekies vir my inskrywingsvideo. Die belangrikste is dat ek vir jong mense wou wys dat ’n bietjie ’n mens ver kan bring.

“Jou waarde word nie bepaal deur die aantal duur goed wat jy besit nie.”

Inskrywings vir die Mej. SA-kompetisie, wat vanjaar heelwat opskudding op sosiale media veroorsaak het, het reeds gesluit. Die wenner word in Augustus aangewys.


Meer oor:  Tamaryn Green  |  Mej. Sa
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.