Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Celebs
Gautengse skoonhede deel iets van hulself
Chantelle Pretorius (links) saam met haar ouers, Werner en Helga, en suster, Lizelle.

Sewe van die tien finaliste wat vanjaar om die titel as Mej. SA meeding, is van provinsies in die noorde van die land en vier woon in Gauteng.

Netwerk24 het met twee van die Gautengers gesels en hul liefde vir hardloop en stap is iets wat dié twee skoonhede gemeen het.

Chantelle Pretorius is ’n heeltydse model van Pretoria. Foto: Yolanda van der Stoep

Chantelle Pretorius (24) van Pretoria is ’n heeltydse model, maar sê sy het nooit daaraan gedink om vir die Mej. SA-kompetisie in te skryf nie. Vanjaar het ’n deur egter vir haar toegegaan en toe gaan dié een oop.

“Net voor die aankondiging van die nasionale staat van inperking in Suid-Afrika, het ek vir ’n kliënt in Portugal gewerk. Ek moes besluit of ek wil aanhou werk of een van die laaste vlugte na Suid-Afrika wil neem. Ek is so dankbaar dat ek besluit het om terug te kom huis toe en die kosbare tyd saam met my gesin deur te bring.”

Nou kan sy vir haar familie kos kook en dit is iets waarvan sy baie hou. Haar ouers, Helga en Werner, is die perfekte voorbeeld van liefde vir haar. Hulle motiveer en inspireer haar gereeld. Haar suster, Lizelle, werk vir die lugdiens Emirates so hulle sien mekaar min.

Haar talle reise na verskillende lande het haar baie dinge oor haar eie land geleer.

Busisiwe Mmotla is ’n senior- en VOO-fase-onderwyseres wat in 2017 ’n BA-graad aan die Universiteit van Johannesburg behaal het. Foto: Yolanda van der Stoep

“Ons word nie sonder rede ’n sonskynland genoem nie. As ons die woord ‘braai’ hoor, is almal gelukkig. Ek hou ook van die manier waarop almal hul verskille opsy sit en bymekaarkom as daar ’n groot sportbyeenkoms is,” sê sy.

Dié oud-Klofie, wat in haar matriekjaar (2014) die Mej. Waterkloof-titel by die Hoërskool Waterkloof gewen het, het ook ’n B.Com-graad in sakebestuur deur Unisa verwerf.

Pretorius het Vrydagmiddag aan Netwerk24 gesê as sy die titel wen, sal sy die platform gebruik om jong vroue te bemoedig.

“Die platform sal my help om ander meisies se lewe aan te raak. Ek wil vir hulle sê jy sal nooit vir almal perfek wees nie. Wees gemaklik met jouself.”

In haar spaartyd hardloop en stap sy, maar sy kyk ook graag televisie. Van haar gunsteling televisiereekse is Sugar Rush, Instant Hotel, Desperate Housewives, Friends en Modern Family.

Iets interessant van haar is dat sy nie daarvan hou om honger en onvoorbereid te wees nie. Dit is waarom sy altyd ’n peuselhappie met haar saamdra – gewoonlik ’n wortel of ’n pakkie amandels.

Busisiwe Mmotla saam met haar ma, Florina.

Busisiwe Mmotla (27) van Soweto sê dit sal vir haar baie beteken as sy die Mej. SA-kompetisie wen. Sy het grootgeword in ’n gesin wat dit nie altyd breed gehad het nie. As sy wen, sal dit dus ook ’n oorwinning wees vir ander vroue in dieselfde omstandighede.

Sy is ’n senior- en VOO-fase-onderwyseres wat in 2017 ’n BA-graad aan die Universiteit van Johannesburg behaal het. Sy studeer tans vir ’n diploma in persoonlike afrigting.

Mmotla het aan Netwerk24 gesê sy het nooit gedink sy sal so ver in die kompetisie vorder nie. Omdat sy kort is, het sy baie min selfvertroue gehad. Haar ingesteldheid het egter nou verander en sy dra haar voorkoms en haarself nou met trots.

Sy het haar haarstyl intussen verander. Sy het nou kort hare wat blond gekleur is.

“Ek doen dit vir al die diverse vroue. Dis ’n geleentheid om ander te inspireer,” sê sy.

Wees dus trots op wat jy bereik het, en ander sal deur jou en jou ervarings geïnspireer word.

Mmotla sê sy hoop vroue neem besit van hul krag en leef hul beste lewens.

“Ek was lank in ’n verhouding waarin ek mishandel is, maar ek kon daar uitkom deur besit te neem van my krag en vir myself te sê ek verdien beter. As jy dit doen, het jy die reg om die verhaal te vertel soos jy dit wil vertel. Wees dus trots op wat jy bereik het, en ander sal deur jou en jou ervarings geïnspireer word.”

Mmotla se grootste inspirasie is haar ma. Toe sy vier was, is haar ouers geskei en haar ma, Florina, het met haar, twee susters en vyf broers uit Limpopo na Johannesburg getrek. Haar twee susters is later aan kanker dood.

Maar deur alles het haar ma die gesin getroos en finansieel onderhou met geld wat sy gemaak het deur ou rusbanke oor te trek.

Haar groot droom is om vir haar ma ’n huis te koop.

Sy lees tans Becoming deur Michelle Obama, ’n vrou wat sy graag wil ontmoet as sy gekroon word as Mej. SA, en sy luister na Jhene Aiko se Chilombo-album.

Haar gunstelingmaaltyd is spaghetti bolognaise.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.