Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Celebs
‘Glee’-aktrise vermis op meer, seun (4) op boot gekry

Die Amerikaanse aktrise Naya Rivera (33), wat in die TV-reeks Glee te sien was, word vermis en het heel waarskynlik verdrink tydens ’n bootrit op ’n meer in Kalifornië.

Die owerhede in Ventura het Woensdag op haar vierjarige seun afgekom waar hy alleen op ’n ponton (platboomboot) op die Piru-meer gedobber het.

Rivera se seun Josey Dorsey is ongedeerd, sê die polisie. Hy het aan ondersoekbeamptes gesê hy en sy ma het geswem, maar dat sy nie weer in die boot geklim het nie.

Josey het ’n reddingsbaadjie aangehad en veilig terug op die skuit geklim.

Die TV-netwerke CBS en NBC berig Rivera het Woensdagmiddag die bootjie gehuur. ’n Soektog is van stapel gestuur toe die boot se huurtyd van drie uur verstreke was.

naya
'n Foto van Rivera en haar seun Josey wat sy verlede jaar op Instagram geplaas het saam met 'n boodskap oor hoe lief sy is vir hom. Foto: Instagram / nayarivera

Kapt. Eric Buschow van die polisie in Ventura het aan die Los Angeles Times gesê die seuntjie is omstreeks 16:40 Woensdagmiddag gevind maar van sy ma was daar geen teken nie. Die soektog is Woensdagaand gestaak en sal Donderdagoggend hervat, het die polisiekantoor later in ’n verklaring gesê.

Volgens ’n verslaggewer van NBC in Los Angeles kan die soektog dae lank duur.

“Daar is baie uitdagings in ’n watermassa van hierdie grootte met beperkte sigbaarheid,” sê Buschow.

“Ek het nog geen besonderhede oor die diepte van die gebied waar die boot gevind is of watter omstandighede hulle daar ondervind nie.”

Die voertuig waarin Rivera en haar seun na die Piru-meer gery het, is van die toneel verwyder.

Die owerhede het Woensdagaand die nodige gedoen om Josey met familielede te herenig.

TMZ berig Rivera en Josey se pa, Ryan Dorsey, is in 2018 geskei en deel toesig oor hul kind.

Rivera het Woensdag op Twitter ’n foto van haar en Josey geplaas en daarby geskryf: “Net ons twee.”

Rivera het bekendheid verwerf vir haar rol as Santana Lopez in Glee. Die reeks oor ’n sangklub op hoërskool het 121 episodes oor ses seisoene en het in Maart 2015 ná ses jaar ten einde geloop.

Van Ventura se medeakteurs in Glee het op sosiale media gesê hulle hoop en bid dat sy gevind word.

Meer oor:  Naya Rivera  |  Kalifornië  |  Glee  |  Verdrinking
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.