Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Celebs
Harry by paleis, Meghan wys gesig op Twitter

Agt dae ná die Sussexe se aankondiging dat hulle as senior koninklikes terugstaan, het prins Harry Donderdag moontlik sy heel laaste verpligting as ’n senior koninklike agter die blad.

Meghan, wat verlede Donderdag na Vancouvereiland in Kanada teruggekeer het waar die paartjie van voor Kersfees af tydelik in ’n miljoenêrswoning nesgeskop het, was Dinsdag vir die eerste keer ná die aankondiging te sien toe sy eers ’n vroueskuiling in Vancouver besoek het en later die dag by Justice for Girls besoek afgelê het. Hier het hulle gepraat oor klimaatsgeregtigheid vir meisies en die regte van inboorlinge. Die groep sê klimaatsverandering is 'n bedreiging vir die lewe en kulturele regte van meisies en die liefdadigheidsorganisasie maak voorbrand vir die die gebruik en ontwikkeling van fossielbrandstowwe. 

Justice for Girls het ook dié foto van hulle saam met Meghan op sosiale media geplaas. Foto: Twitter/Justice for Girls
Meghan het oudergewoonte ’n notaboek en pen byderhand gehad toe sy aan ’n gesprek by die organisasie Justice for Girls deelgeneem het. Foto: Twitter/Justice for Girls

Volgens Mailonline het ’n persoon Meghan via ’n hotmail-e-posaders gekontak om te hoor of sy Justice for Girls sou kom besoek.

Harry het ook Woensdagaand op sy en Meghan se Instagram-profiel Dusseldörf in Duitsland as die volgende gasheerstad vir sy Invictus Spele aangekondig.

Benewens sy verpligtinge Donderdag op die grasperk buite die Buckinghampaleis – om die lotings vir die Rugbyliga-wêreldbekertoernooi in 2021 bekend te maak – is Meghan se doen en late en die aankondiging vir die Invictus Spele alles op sosiale media gedoen; presies soos die Sussexe op hul webwerf, sussexroyal, gesê het hulle gaan doen. Hulle het ook vermeld dat hulle nie meer van die rotastelsel van koninklike korrespondente in Brittanje gebruik wil maak nie en ’n groot deel van hul mediablootstelling via sosiale media sal doen.

Harry wou Donderdag ook geen vrae van verslaggewers wat die bekendstelling by die paleis bygewoon het, beantwoord nie.

Prins Harry het Donderdag die loting van die vroue-, mans- en rolstoelwedstryde vir die Rugbyliga-wêreldbekertoernooi in die paleis behartig. Foto: AP

Hy het aanvanklik ietwat stroef gelyk, maar geglimlag toe hy die kinders ontmoet het en selfs gelag toe hulle sê hulle het hul wedstryd solank sonder hom begin.

Voordat Harry terug deur die stoepdeure in die paleis ingestap het, het hy netjies sy voete op ’n deurmatjie afgevee.

Harry sal ook nie soos voorheen berig reeds Donderdagaand na Kanada terugkeer nie, maar gaan glo nog ’n week in Brittanje aanbly, moontlik om die laaste onderhandelings oor Megxit af te handel.

Hy, koningin Elizabeth, prins Charles en prins William het Maandagmiddag in die herehuis op Sandringham vergader oor Harry en Meghan se toekomsplanne. Die koningin het kort ná die ontmoeting van 90 minute in ’n verklaring van 153 woorde gesê sy steun die Sussexe in hul poging om onafhanklik van die koningshuis hul heil te soek.

Kanadese sê hokaai

Hoewel Meghan sewe jaar in Toronto gewoon het terwyl sy aan die TV-reeks Suits verfilm het, is dié tweede tuiste van haar nie te gretig om haar en Harry in die land te verwelkom nie.

Daar is kommer oor wat dit die Kanadese belastingbetalers sal kos om die Sussexe in die land te akkommodeer, veral met betrekking tot hul veiligheidskoste.

Die grootste Kanadese dagblad, The Globe and Mail, sê in ’n kommentaarstuk lede van die Britse koninklike gesin kan nie in die land woon terwyl hulle senior koninklikes is nie.

“Kanada kan nie as ’n halfweghuis gebruik word bloot omdat senior koninklikes uit Brittanje wil padgee terwyl hulle steeds koninklikes bly nie,” skryf The Globe and Mail.

“Die Kanadese monargie is virtueel – dit beheer ons nie en ons koninklikes bly nie in ons land nie. Hulle heers oor ’n afstand. Naby aan ons harte, maar ver van ons vuurherd.”

Die dagblad sê indien die Sussexe “doodgewoon Harry en Meghan van Sussex” was, was dit ’n heel ander saak. “Maar die land se eiesoortige monargie . . . beteken ons kan nie toelaat dat ’n koninklike – en die prins is sesde in die ry van troonopvolging – hier woon nie. Dit verbreek ’n ongesproke koninklike taboe.”

Burgerskap

Harry sal ook, indien hy ’n permanente Kanadese verblyfspermit wil hê, deur die gewone administratiewe proses moet gaan. Sy aansoek sal nie vinniger verwerk word bloot omdat hy prins Harry is nie, het The Washington Times Donderdag berig.

Ook Meghan se aansoek om Britse burgerskap kan in die gedrang kom omdat aansoekers vir ’n spesifieke tydperk in Brittanje woonagtig moet wees.


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.