Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Celebs
Harry en Meghan ‘speel met vuur’

Dit is nou Buckinghampaleis se skuif.

Indien prins Harry en Meghan, die hertogin van Sussex, in hul opspraakwekkende onderhoud met Oprah Winfrey die instelling van die monargie self aanval, sal die paleis soos gebruiklik swyg, maar indien persone aangeval word, is die spreekwoordelike kanonne reeds gelaai.

Meghan, hertogin van Sussex, en prins Harry se opspraakwekkende onderhoud maak wêreldwyd opslae. Foto: Getty Images

Volgens senior koninklike bronne sal die paleis terugslaan indien persone – vermoedelik Catherine, hertogin van Cambridge, en Camilla, hertogin van Cornwall, aangeval word. Die moontlikheid dat prins Harry ook sy broer, prins William, onder die bus kan gooi, is nie uitgesluit nie. Daar is veral kommer of Meghan iets gaan sê oor haar verhouding met Catherine, wat glo teenwoordig was toe Meghan na bewering kortaf met paleispersoneel was en sy haar daaroor aangespreek het.

Die instelling is nie in ’n oorlog gewikkel nie, die Sussexe is.

“Indien hulle persone aanval, is die betrokke mense gereed om terug aan te val. Die instelling kan die slag vat, mense kan nie. Die instelling is nie in ’n oorlog gewikkel nie, die Sussexe is,” het ’n senior paleisbron aan The Times of London gesê.

In lusmaker-video’s het prins Harry die afgelope week gesê hy en Meghan was gelukkig genoeg om mekaar te hê tydens die onsmaaklike verbrokkeling van hul verhouding met die Britse poniepers, die einste poniepers wat Harry steeds verantwoordelik hou vir die hel waardeur sy ontslape ma, Diana, prinses van Wallis, gegaan het.

Diana was wel nie heeltemal onskuldig in dié makabere dans nie – sy het self die media gemanipuleer en stories aan selektiewe joernaliste gelek.

Meghan het in die langste van die lusmaker-video’s wat voor die onderhoud uitgereik is gesê sy mag nie self met Winfrey gepraat het toe dié haar voor haar en Harry se troue in 2018 gebel het nie, maar sy het nou die vryheid en voorreg om self te praat – sonder die goedkeuring van die paleis.

Dié uitlating van Meghan wys presies hoe min sy van die koninklike familie verstaan het, hoewel sy toe reeds verloof was aan Harry en hy en paleisamptenare haar sou ingelig het dat ’n senior lid van die koninklike gesin nie goedsmoeds onderhoude toestaan nie.

Prins Harry en Meghan, hertogin van Sussex, sê hulle kan uiteindelik hul weergawe vertel oor hoekom hulle nie net die Britse koningshuis nie, maar ook Brittanje verlaat het vir ’n nuwe lewe in Amerika. Foto: Reuters

Meghan het ook gesê sy en Harry kon nie langer as senior koninklikes aanbly terwyl die paleis besig was om aktief leuens oor hulle te versprei nie.

Bewerings dat Meghan personeellede – meestal vroue – geboelie het voor en ná haar troue met Harry, het vandeesweek aan die lig gekom in ’n eksklusiewe berig in The Times.

Jason Knauf, ’n Amerikaner wat vir William en Harry se huishoudings gewerk het, het in Oktober 2018 by die mensehulpbronafdeling van die paleis klagtes aanhangig gemaak dat Meghan twee vrouepersoneellede geboelie het en ’n derde een teiken. Niks is aan dié klagte gedoen nie, vermoedelik omdat paleisamptenare Meghan wou beskerm.

Meghan het dié berigte ontken en by monde van haar prokureurs gesê dit is vreemd dat dié klagtes – wat jare oud is – enkele dae voor die Oprah-onderhoud ter sprake kom.

Die onderhoud fokus meestal op Meghan, hertogin van Sussex, hoewel prins Harry ook ’n verskyning tydens die eksklusiewe onderhoud maak. Foto: Reuters

Die paleis het in ’n ongekende stap verlede week aangekondig dié bewerings gaan ondersoek word sodat lesse uit die verlede geleer kan word.

Mailonline – wat suksesvol deur Meghan gedagvaar is omdat hy haar privaatheid en kopiereg geskend het deur ’n private brief te publiseer wat sy aan haar vervreemde pa, Thomas Markle, geskryf het – het Sondag berig paleisamptenare het ’n boodskap van senior koninklikes gekry om nie op die onderhoud te reageer nie.

Die paleis het lank reeds die leuse: “Never complain, never explain”.

Volgens The Times se bronne het die ergste voorvalle waarby Meghan glo betrokke was, nog nie eens aan die lig gekom nie. “Daar is nog stories wat vertel moet word. Ek het die afgelope week tranerige gesprekke met mense gehad. Hulle (die Sussexe) speel met vuur. Daar is baie op die spel omdat daar nog heelwat vuil wasgoed is wat nog nie in die openbaar gewas is nie.”

Amerikaanse kommentators soos Whoopi Goldberg en Meghan McCain was vinnig om ná die lusmakers te sê Meghan se mond is deur die paleis gesnoer en hoe onderdrukkend die koninklike lewe werklik is, min wetend dat dít die manier is hoe die Britse monargie werk.

Amerikaanse kommentators ook is verras dat die paleis op die boelie-bewerings gereageer het, maar nie kommentaar wil lewer op die aantygings van seksuele vergrype teen prins Andrew nie. Andrew is egter nie meer ’n werkende lid van die koninklike familie nie, daarom verwys die paleis navrae oor sy vriendskap met die veroordeelde seksoortreder Jeffrey Epstein na die prins se persoonlike prokureurs.

Lees ook:

Omid Scobie, medeskrywer van die Sussexe se nieamptelike biografie, Finding Freedom, het ook die raskaart geopper.

• Die onderhoud sal na verwagting Sondagaand die rekord vir kykerstalle oortref vir Diana se onderhoud met BBC-Panorama wat in 1995 uitgesaai is. Meer as 20 miljoen mense het wêreldwyd op dié onderhoud met Martin Bashir ingeskakel. Kykers in meer as 68 lande sal regstreeks na die Oprah-onderhoud kyk.

• Die Britse polisie het Donderdag bevind dat geen strafregtelik klagte in verband met die Diana-onderhoud ondersoek gaan word nie. Dit kom nadat Charles Spencer, Diana se broer, in ’n TV-dokumentêr oor die onderhoud gesê het Bashir het hom met vervalste dokumente oorgehaal om die onderhoud met Diana te bekom.

Spencer het Bashir aan sy suster voorgestel. Bashir het glo vervalste bankstate in sy besit gehad wat daarop gedui het dat paleisamptenare omkoopgeld ontvang het om inligting oor Diana te lek.

• Koningin Elizabeth het Sondag saam met onder andere prins Charles, William en Catherine aan ’n virtuele Statebondsdagviering deelgeneem. Die koningin het ondanks haar man, prins Philip, se hospitalisering sedert 16 Februarie onverpoosd met haar werk voortgegaan.

Kyk hier in SA na die onderhoud
Die onderhoud kan Maandagaand in Suid-Afrika om 19:30 op M-Net (DStv kanaal 101) gesien word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.