Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Celebs
Harry en Meghan bitter oor hulle ont-‘royal’ is

Asof prins Harry en sy vrou, Meghan, se “ontsnappingspoging” uit die Britse koningshuis nie dramaties genoeg was nie, is hul voortgesette hardkoppigheid om hul kant van die saak te stel in ’n verklaring soos dié wat Vrydagaand op hul webwerf sussexroyal.com uitgereik is, olie op die Megxit-vuur.

Koninklike kommentators en korrespondente is van mening dat Harry en Meghan se verklaring van meer as 1 000 woorde waarin die fynere detail van hul “skeidingsooreenkoms” uitgestippel word, dui op ’n hardkoppigheid omdat hulle nie hul sin gekry het om die woord “Royal” deel van hul toekomsplanne te maak nie.

Die Britse media het verlede week berig  koningin Elizabeth en paleisamptenare is nie geneë daarmee dat Harry en Meghan voortgaan om SussexRoyal, die naam van hul webdomein en sosialemediakanaal, ná die Britse lente te gebruik nie. Die paartjie voer op 9 Maart hul laaste amptelike afspraak as senior lede van die Britse koningsgesin uit voordat hulle van 1 April af hul toekoms buite paleismure gaan soek.

Die koningin en paleisamptenare was veral gekant teen die woord “royal” as deel van Harry en Meghan se toekomsplanne omdat koninklikes (wat die titel sy of haar koninklike hoogheid het) nie geld kan maak uit hul “koninklik” nie.

In hul verklaring sê Harry en Meghan onder meer dat hoewel die monarg en Britse regering geen “jurisdiksie” oor die gebruik van die woord “royal” buite Brittanje se landsgrense het nie, hulle nie van voorneme is om die woord of enige woorspeling daarop “in enige gebied (binne of buite Brittanje)” te gebruik nie.

Derhalwe is hul aansoek om SussexRoyal as handelsmerk (op enigiets van sokkies tot gedrukte materiaal) te laat registreer, in Brittanje ook teruggetrek, lui die verklaring. Ook hier was daar ’n sydelingse klap na die stigting van die hertog en hertogin van Cambridge, prins William en sy vrou Catherine, wat “ook as ’n voorkomende maatreël dieselfde standaardhandelsmerkversoeke” (soos die Sussexe) ingedien het.

Dit is veral die toon in hul verklaring wat koninklike kommentators soos Dickie Arbiter, oudsekretaris van die koningin, die kommentator Peter Hunt en koninklike korrespondente soos Robert Jobson en Camilla Tominey se wenkbroue laat lig het.

Die paartjie het toe hulle in Januarie onverwags hul terugstaan as senior koninklikes aangekondig het, op hul webwerf (wat nou ook van naam sal moet verander) gesê hulle wil hul kant van die saak op sussexroyal.com stel omdat daar verkeerdelik oor hulle in die Britse poniepers berig word.

Harry en Meghan het hul Instagram-profiel SussexRoyal genoem nadat hulle van die koninklike stigting weggebreek het waarvan prins William en Catherine, hertogin van Cambridge, ook lid was. Hulle het reeds 11,2 miljoen volgelinge en sal volgens kenners derduisende dollar kan vra vir ’n plasing op dié gewilde Instagram-rekening, berig Mailonline.

In die Sussexe se verklaring was daar ook ’n verskuilde stekie na ander lede van die familie wat loopbane het. Dié verwysing, vermoedelik na prinses Beatrice en Eugenie, is egter vol wind aangesien nie een van prins Andrew se dogters voltydse koninklike pligte het nie en ook geen toelae van die koningin ontvang nie. Hulle sal wel by geleentheid saam met die koningin in die openbaar verskyn – soos met die viering van die koningin se verjaarsdag – of op die koningin se versoek haar na ’n kerkdiens of tuinpartytjie vergesel.

Ook prins Edward en sy vrou, Sophie, het aanvanklik loopbane gehad, maar is ná ’n string skandale daarvan beskuldig dat hulle hul koninklike status vir eie gewin misbruik het. Hulle het later hul loopbane vaarwel toegeroep en voltyds die take van senior koninklikes opgeneem.

Op dié poskaart van prins Harry en Meghan, hertogin van Sussex, lyk dit amper asof hulle Brittanje vaarwel toeroep. Die foto op die poskaart is egter met die aankondiging van hul verlowing geneem. Foto: Getty Images

Harry en Meghan se veiligheid sal egter steeds die kopseer van die koningin en Britse belastingbetalers wees. In die verklaring oor die “oorgang” word genoem dat hulle steeds die veiligheid sal geniet wat hulle tans het weens Harry se openbare profiel, sy militêre loopbaan en Meghan se “onafhanklike” profiel.

Harry het kort ná die sogenaamde “Sandringham-beraad” tussen hom, die koningin, sy pa, prins Charles, en broer, prins William, in ’n emosionele toespraak gesê hy is hartseer om sy lewe as senior koninklike te laat vaar en dat hy en Meghan gehoop het om steeds die koningin te dien, maar dat dit ongelukkig nie moontlik is nie.

Die paartjie het gehoop om sonder belastingbetalersgeld ’n onafhanklike lewe te kan lei, maar steeds koninklike pligte te kan verrig – iets wat tydens die beraad van die tafel gevee is.

Harry en Meghan keer binnekort op versoek van die koningin terug na Londen vir ’n paar afsprake. Dit is nog onduidelik of Archie in Kanada gaan agterbly.

Die Sandringham-ooreenkoms se bepalings sal ook oor 12 maande hersien word. Dit word, soos voorheen berig, gesien as die skep van ’n agterdeur vir die paartjie om moontlik oor ’n jaar terug te keer na die koninklike verhoog. Die agterdeur is vermoedelik spesiaal geskep sodat Harry, indien hy oor ’n jaar anders sal besluit, weer sy ereposisies in die weermag sal kan opneem.

Harry en Meghan se laaste koninklike verpligting sal op 9 Maart in Londen saam met onder andere koningin Elizabeth wees. Daarna sal hulle na Kanada emigreer waar hulle al sedert Desember op Vancouver-eiland in ’n miljoenêrswoning woon.

Hul webwerf en sosialemediaprofiel sal op 1 April opgedateer word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.